Dolfyn | ||||
Latynse naam | Delphinus | |||
Genitief | Delphini | |||
Afkorting | Del | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 21h | |||
Deklinasie | 10º | |||
Grootte | 189 vk. grade (69ste) | |||
Kwadrant | NQ4 | |||
Besonderhede | ||||
Hoofsterre | 5 | |||
Helderste ster | Rotanev (β Del) | |||
Naaste ster | HU Delphini | |||
Sterre helderder as 3 m | 0 | |||
Sterre met planete | 5 | |||
Messier-voorwerpe | 0 | |||
Bayer-/Flamsteed-sterre | 19 | |||
Aangrensende sterrebeelde | ||||
Vos, Pyl, Arend, Waterdraer, Vul, Vlieënde Perd | ||||
|
Die Dolfyn (Latyn: Delphinus) is ’n sterrebeeld in die noordelike lugruim, naby die hemelewenaar. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde. Die helderste sterre in die Dolfyn vorm ’n duidelike en maklik herkenbare sterrepatroon.
Die twee helderste sterre, Sualocin (Alpha Delphini) en Rotanev (Beta Delphini), het nie name uit die oudheid nie; dit kom uit ’n sterkatalogus van 1814 wat in die Palermo-sterrewag in Italië gepubliseer is. Wanneer dit van agter na voor gelees word, spel dit Nicolaus Venator, die Latynse weergawe van die naam van die destydse assistentdirekteur van die sterrewag, Niccolò Cacciatore (Cacciatore en Venator beteken albei "jagter"). Dié twee sterre is albei veelvoudige sterre; Sualocin bestaan uit sewe komponente en Rotanev uit vyf. Gamma Delphini is een van die mooiste dubbelsterre in die hemelruim.
NGC 6891 is ’n planetêre newel en NGC 6934 ’n bolvormige sterreswerm.
Op 14 Augustus 2013 is 'n nova deur die amateursterrekundige Koichi Itagaki in die Dolfyn ontdek. Dit is aanvanklik PNV J20233073+2046041 genoem, maar heet nou Nova Delphini 2013.[1][2][3]
Die Dolfyn/Delphinus word met twee verhale uit die Griekse mitologie verbind.
In die eerste wou die god Poseidon met ’n mooi Nereïde, Amphitrite, trou. Om haar maagdelikheid te beskerm, vlug sy na die Atlasgebergte. Poseidon stuur toe verskeie mense om haar te soek en ene Delphinus kom per ongeluk op haar af. Hy oorreed haar om die god se aanbod te aanvaar en uit dankbaarheid plaas Poseidon ’n dolfyn tussen die sterre.
Die tweede verhaal gaan oor die Griekse digter Arion van Lesbos (7de eeu v.C.), ’n musikant aan die hof van Periander, die heerser van Korinthe. Arion het ’n groot fortuin bymekaargemaak op sy reise na Sisilië en Italië. Op pad huis toe sweer sy bemanning saam teen hom on sy rykdom te bekom. Toe hy met die dood gedreig word, vra Arion ’n laaste wens: dat hy ’n treurlied mag sing. Dit word toegestaan en terwyl hy sing, werp hy hom in die see. ’n Dolfyn, wat deur sy musiek bekoor is, red hom en dra hom na die kus van Griekeland, waarna hy verdwyn.[4]