Don Juan (of Don Giovanni) is 'n legendariese fiktiewe pierewaaier wie se verhaal al baie keer vertel is deur verskillende skrywers. El burlador de Sevilla y convidado de piedra is 'n toneelstuk wat deur Tirsa Molina rondom 1630 gepubliseer is en in die 14de eeu afspeel. Bewyse bestaan dat dit moontlik die eerste geskrewe weergawe van die Don Juan legende is. Die ander groot werk in die Spaanse literatuur oor hierdie karakter is Don Juan Tenoria, 'n toneelstuk van 1844 deur José Zorrilla.
Die naam word soms figuurlik gebruik as sinoniem vir "vrouejagter", veral in die Spaanse taal.
Volgens die legende is Don Juan 'n vrygeestige skobbejak wat groot plesier daaruit put om vroue te verlei en dit geniet om teen hulle beskermhere te veg. Die legende draai in hoofsaak om sy verleiding van 'n jong vrou van die adelstand en die doodmaak van haar vader. Later kom hy 'n standbeeld van haar pa in 'n begraafplaas teë en nooi hom dan oneerbiediglik uit om saam met hom te kom eet, 'n uitnodiging wat die standbeeld aanvaar. Die gees van die pa daag dan op vir ete en nooi Don Juan dan op sy beurt uit om by hom in die begraafplaas te kom eet. Don Juan aanvaar die uitnodiging en by die graf vra die standbeeld om Don Juan se hand te skud. Wanneer hy sy hand uitsteek, gryp die standbeeld hom en sleep hom weg na die hel.[1]