Dorothee Mields | |
---|---|
Gebore | 15 April 1971 |
Ander name | Dorothee Blotzky-Mields |
Alma mater | Kunsuniversiteit van Bremen |
Beroep | Klassieke sopraan |
Dorothee Mields (gebore 15 April 1971) is 'n Duitse sopraankonsertsanger van Barok- en kontemporêre musiek.
Mields is in Gelsenkirchen gebore. Sy het aan die Kunsuniversiteit van Bremen onder Elke Holzmann, Harry van der Kamp en Gabriele Schreckenbach gestudeer. Daarna het sy in Stuttgart onder Julia Hamari gestudeer.
Sy het saam met die Collegium Vocale Gent en Philippe Herreweghe Bach-kantates opgeneem, asook sy Magnificat in E-mol-majeur, BWV 243a, sy Paas- en sy Hemelvaart-oratorium.[1] In 2001 het sy Joseph Schuster se opera Demofoonte opgeneem (libretto deurMetastasio) met La Ciaccona, gedirigeer deur Ludger Rémy.[2]
In 2002 het sy vir Pinkster verskeie kantates opgeneem van Gottfried Heinrich Stölzel, 'n tydgenoot van Bach, onder leiding van Ludger Rémy. Die soliste, insluitend Jan Kobow, het ook die koor gevorm.[3] In Januarie 2003 het sy Monteverdi se Vespro della Beata Vergine op 'n toer saam met die Collegium Vocale Gent gesing. In 2006 het sy in Bach se Johannes-passie saam met die Tafelmusik Barokorkes in Kanada opgetree.[4] Sy het die sopraanparty in die opname van Bach se Mis in B-mineur saam met Jos van Veldhoven gesing.[5] Sy het in 2008 kunsliedere van John Dowland saam met die viola da gamba-speler Hille Perl opgeneem, en Love Songs deur Henry Purcell saam met die Lautten Compagney Berlin.[6] Sy was in Junie 2010 die sopraansolis vir twee konserte van die Bachchor Mainz se projek om die kerkkantates van Wilhelm Friedemann Bach te laat herleef, ter viering van dié komponis se geboorte in 1710.[7] In 2016 het sy 'n aand van Engelse "waansingliedere" (mad songs) deur Purcell en sy tydgenote saam met die Lautten Compagney by die Eberbach-abdy uitgevoer as deel van die Rheingau Musik Festival.
In 2004 het sy die titelrol gesing in die première van Johannes Maria Staud se opera Berenice deur die München Biënnale. Sy op 17 September 2004 het Beat Furrer se Invocation III (die derde toneel van invocation) vir sopraan en ensemble op woorde uit die 16de eeu in Innsbruck gepremière, met die Klangforum Wien gedirigeer deur die komponis.[8] In 2006 het sy Gérard Grisey se laaste werk Quatre Chants pour franchir le seuil saam met die Klangforum Wien en Simone Young in Hamburg gesing. Sy het die soloparty van Mahler se Simfonie nr. 4 uitgevoer saam met die Orchestre des Champs-Élysées onder leiding van Herreweghe. Haar debuut by die Salzburg-fees in 2007 was Grisey se Quatre Chants, gedirigeer deur Emilio Pomárico.[4] In 2009 was Mields en Andreas Karasiak die soliste in die requiem-komposisie Schwarz vor Augen und es ward Licht van Harald Weiss, wat aan die Hannoverse Seunskoor opgedra is. Dié koor het op 31 Oktober 2009 saam met die Noord-Duitse Radiosimfonieorkes aan die première van dié werk deelgeneem.[9]
Mields het al by verskeie internasionale feeste opgetree, insluitend Bachwoche Ansbach, die Bach-fees van Köthen, die Bachfest Leipzig, die Handel-fees in Halle, die Handel-fees in Göttingen, die Suntory Music Foundation-fees, die Boston Early Music Festival, die Tanglewood Music Fees, die Musiekfees van Bremen, die Wene Feesweke en die Vlaandere-fees in Brugge.[4] By die Tanglewood-fees het sy Bach se Mis in B mineur in 2007 saam met die Nederlandse Bachvereniging uitgevoer.[10]
Mields was sangleermeester aan die Hochschule für Musik "Franz Liszt" in Weimar.[4]