Douglas B-18 Bolo | |
---|---|
Tipe | Bomwerper |
Vervaardiger | Douglas Aircraft Company |
Nooiensvlug | April 1935 |
Bekendstelling | 1936 |
Onttrek | 1946, Bolivië |
Status | Uit diens onttrek |
Hoofgebruikers | Amerikaanse Leërlugkorps United States Army Air Force Koninklike Kanadese Lugmag Boliviaanse Lugmag |
Vervaardig | 1936 - 1939 |
Aantal gebou | 350 |
Ontwikkel van | Douglas DC-2 |
Die Douglas B-18 Bolo is 'n Amerikaansvervaardigde mediumbomwerper wat deur die United States Army Air Corps en die Koninklike Kanadese Lugmag gebruik is gedurende die laat 1930's en vroeë 1940's. Die Kanadese het daarna verwys as die Digby. Die Bolo was vervaardig deur die Douglas Aircraft Company, gebaseer op hulle Douglas DC-2 en was ontwikkel om die Martin B-10 te vervang. Hierdie vliegtuig was Douglas se eerste mediumbomwerper.
Gedurende die toetsing van bomwerpers in April 1935 te Wright Field het die B-18 met die Martin 146 ('n verbeterde Martin B-10) en die Boeing model 299 (die latere Boeing B-17 Flying Fortress), en die enigste viermotorige vliegtuig, meegeding. In Januarie 1936 is 133 Bolo's bestel, deels omrede hulle aansienlik goedkoper was as die Boeing en ook omrede die Boeing prototipe vernietig is in 'n vliegongeluk. Later was daar nog 217 eenhede gebou as model B-18A, met 'n haaiagtige tipe neus waar die bombardier se posisie vorentoe geskuif het oor diė van die neusskutter. Twintig van die B-18A's is oorgeplaas na die Koninklike Kanadese Lugmag, wat hulle die Digby genoem het.
Gedurende die winter van 1939/40 was meer as eenhonderd B-18A's opgegradeer na B-18B en spesialis radiotoerusting vir maritieme gebruik is in die vliegtuie geïnstalleer. Die B-18B's is gebruik vir patrollietogte aan die Amerikaanse ooskus om Duitse U-bote te vind en hulle posisies te rapporteer. Toe Amerika tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het was die B-18 Bolo op daardie stadium die bomwerper wat in die grootste getalle buite Amerikaanse grense ontplooi was.
Baie B-18's is vernietig by Pearl Harbor op 7 Desember 1941 tydens die Japannese aanval en vroeg in 1942 het meer gevorderde bomwerpers die B-18 vervang as die voorslag-bomwerper. Die meeste B-18's is toe gebruik as transportvliegtuie, vir die opleiding van valskermsoldate of opgegradeer na B-18B modelle.
Item | Statistiek |
---|---|
Motore | Twee Wright R-1820 Cyclone 9-silinder stermotors |
Tipe motor | Skroef |
Kraglewering per motor | 1 000 perdekrag |
Vlerkspan | 27,28 m |
Lengte | 17,63 m |
Hoogte | 4,62 m |
Vlerkoppervlakte | 89,65 m2 |
Maks. opstygmassa | 12 563 kg |
Maks. snelheid | 346 km/h |
Operasionele hoogte | 7 285 m |
Togafstand: | 1 931 km |
Klimvermoë | 3 048 m in 9 minute 54 sekondes |
Bewapening | Een 7.62 mm masjiengeweer elk in die neus, rug en onder die romp Bomvrag van 2 951 kg |