’n Draaiorrel is ’n pyporrel wat outomaties speel. ’n Draaiorrel kan benewens orrelpype ook ander instrumente, soos slaginstrumente, insluit.[1]
Die pype van ’n draaiorrel is meestal van hout gemaak, maar soms ook van metaal, gewoonlik sink. ’n Blaasbalk word gebruik om die pype van lug te voorsien (by orrels word gepraat van “wind”). Die draaiorrel is aan ander pyporrels verwant. Die grootste verskil is dat ander pyporrels met die hande en voete bespeel word terwyl ’n draaiorrel deur ’n bewegende musiekpatroon, gewoonlik ’n draaiorrelboek van karton, in werking gebring word. Die eerste draaiorrels het met ’n houtsilinder gewerk. Op die silinder was daar metaalpenne en -brûe wat die kleppe beheer het.
Die oorsprong van die draaiorrel lê vermoedelik in Italië. In omstreeks 1850 het ’n Italianer, Ludovico Gavioli, in die Franse hoofstad Parys klein straatdraaiorrels begin bou. Dié onderneming was so suksesvol dat Gavioli as die vader van die moderne draaiorrel beskou word. Sy firma, wat ná 1905 as N.V. Gavioli & Kie bekend was, het tot 1912 bestaan. Intussen het ook ander vervaardigers, onder andere Gasparini, Poirot en Limonaire in Frankryk, asook Belge en Duitsers van dié instrumente begin maak.
In 1875 begin ’n Belg, die blinde Leon Warnies,[2] Amsterdam se eerste draaiorrelverhuringsmaatskappy. Ander volg, maar Warnies word as die grondlegger van die tipies Nederlandse straatorrelkultuur beskou. Van sy nasate is steeds in die Nederlandse draaiorrelwêreld bedrywig, onder meer by die draaiorrelwinkel Perlee Orgels in Amsterdam.
’n Duitser, Carl Frei, wat aan die begin van die 20ste eeu die vak by Gavioli en later by die Belgiese firma Mortier leer, vestig hom in die 1920’s as ’n hersteller, orrelboekmaker en later ook as draaiorrelbouer in Breda. Frei bou ou Franse draaiorrels om en vervang die tong- of rietwerk (volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die dun buigbare stukkies hout, rottang of metaal wat tipies in die basis van orrelpype voorkom, daar vibreer en klank voortbring wanneer ’n lugstroom dit aktiveer) met sy eie fluitregisters, soos die Bourdon Céleste. Hierdie register het ’n kenmerk van straatdraaiorrels geword. Daarom word Frei vandag as die vader van die Nederlandse straatorrel beskou.
Ná omstreeks 1950 het Frei ook ander draaiorrels aangepas en nuwes gebou.
Die firma Jan van Eijk, in Terwolde, bou sedert 1979 draaiorrels.
Die bekendste tipe draaiorrel is die groot straatorrel, ook bekend as die pierement. Verder word die dansorrel en kermisorrel as variante van die draaiorrel onderskei. In baie Europese lande word straatmusiek op klein, draagbare handdraaiorrels gemaak. Dié instrumente is veral in Duitsland gebou en word as voorloper van die pierement beskou. Replikas van ou Berlynse Leierkasten (die naam van handdraaiorrels in Duitsland) word onder andere gemaak deur die onderneming Orgelbaumeister Hofbauer in Göttingen.
Die grootste verskuifbare draaiorrel is die Victory.
Deur ’n wiel te draai, of dit te laat draai, begin die orrel speel. Wanneer ’n mens ’n orrelboek in die orrel plaas en die toetsbord toemaak, sluit die meganiese lugkleppe en is die orrel gereed om te speel. Sodra die wiel gedraai word, begin die blaasbalk beweeg, wat die nodige wind voorsien. Die lug vloei deur luggeleiers wat die klank voorsien. Omdat daar in ’n orrelboek – die draaiprogram – gaatjies is, beset klein spykertjies (by draaiorrels “toetse” genoem) die gaatjies. Wanneer die toetsbord gesluit word, word al die toetse na onder gedruk en verseël. Word die boek verder gedraai, wip die toetse boontoe, waar daar gaatjies is, en maak ’n klein pyp aan die onderkant oop, waardeur die wind ontsnap. Die lugstroom word dan na die regte instrument gelei. Deur die lengte van die gaatjies in die orrelboek te varieer, ontsnap die lug vir ’n langer of korter tyd.
Vir elke toonhoogte en elke beskikbare instrument word die presiese tydstip en duur van elke noot in die musiek deur die gaatjies in die papier aangedui. Wanneer die wiel teen ’n konstante spoed gedraai word, is die vertolking optimaal. Daarom word die wiel, veral by groot draaiorrels, dikwels verbind met ’n band aan ’n motor, wat op die korrekte draaispoed ingestel word voordat die eerste orrelboek begin speel. Die voordeel is dat die wiel só teen ’n konstante spoed draai. Nou is al wat die orrelman of -vrou hoef te doen, om die beskikbare boeke te ruil en te probeer om iets van toehoorders en verbygangers te verdien – dikwels deur op maat van die musiek ’n houer met munte te skud, wat aan die geheel ekstra sjarme verleen. In die verlede was daar partykeer ’n apie teenwoordig.
Soms is die draaiwiel toegerus met ’n aanhangsel wat die “druif” genoem word. Dit het gespesialiseerde yster- en houtwerkkundigheid en -vaardigheid vereis. Slegs ’n handjievol spesialisorrelbouers ken en beoefen nog dié kuns. Die funksie van die druif is om die blaasbalk te laat werk en die orrelboek te laat draai.[3]
In 1892 het ’n Frans-Italiaanse orrelbouer, Anselmo Gavioli, ’n patent vir die kartonorrelboek verkry. Dié stelsel is later deur papier- en kartonrolle verfyn. Gavioli se patent het lamelle (toetse) behels wat deur die gaatjies in die orrelboek na bo gekom en klein kleppe oopgemaak het om dele van die orrel aan te dryf. Duitse fabrieke het teen 1900 alternatiewe stelsels ontwikkel om Gavioli se patent te omseil. Die Duitsers het hulle stelsels op die beginsel van ontlugting deur die gaatjies in die boek gebaseer, wat meganiese toetse (spykertjies of pennetjies) oorbodig gemaak het. Alle ou draaiorrels werk met een van hierdie stelsels.
Vandag word draaiorrels natuurlik ook deur rekenaars, deur middel van MIDI-lêers, aangedryf. MIDI-lêers maak ’n veel groter repertoire moontlik, omdat dit orrelboeke, wat fisies saamgedra moet word, uitskakel. Nog ’n voordeel van rekenaaraangedrewe draaiorrels is dat hulle aaneenlopend, sonder fisiese omruiling van boeke, kan speel. Meer komplekse verwerkings is moontlik. ’n MIDI-beheerde draaiorrel kan so te sê oombliklik aan- en afgeskakel word, wat akkurate tydsberekening moontlik maak. Met behulp van die rekenaar kan vooraf bepaal word watter musiek wanneer moet speel. Spesiale versoeke word onmiddellik geprogrammeer. Ander instrumente, soos ’n perkussiegroep, klokkespel of xilofoon, kan deur MIDI-lêers bygevoeg word.
Veral in Nederland, waar spelende draaiorrels nog gereeld op straat gesien en gehoor word, bestaan die kultuur van straatorrels voort.
In die Museum Speelklok in Utrecht is ’n groot versameling draaiorrels van verskeie soorte te sien.
In 1954 het entoesiaste een van die belangrikste Nederlandstalige verenigings vir draaiorrels, die Kring van Draaiorgelvrienden (KDV), gestig. Dit bestaan steeds.
Die Stigting Draaiorgels Helmond bestuur sewe orrels wat aan die gemeente Helmond behoort.
In verskeie Europese lande word draaiorrelbyeenkomste en -feeste gehou.
Talle kenners in dié veld is dit eens dat die hedendaagse MIDI, wat in elektroniese musiek gebruik word, sy oorsprong aan die oorspronklike draaiorrelboeke van karton te danke het.
*Hierdie artikel is ’n vertaling van die artikel Draaiorgel in die Nederlandse Wikipedia, soos op 19 Oktober 2024, met enkele byvoegings.