Droëwors is 'n eg Suid-Afrikaanse peuselkos wat op die tradisionele koljander-gekruide boerewors gebaseer is.[1] Dit word gewoonlik van dunner wors, eerder as die dikker soort gemaak, omrede die dunner wors vinniger droog word en dus nie so maklik bederf voordat dit gepreserveer word nie. Dikker droëwors word gewoonlik plat gedruk sodat dit 'n groter oppervlakte het om makliker uit te droog.
Die resep vir droëwors is soortgelyk aan die van boerewors, alhoewel vark- en kalfsvleis gewoonlik met beesvleis vervang word, omdat die vet van eersgenoemde kan bederf as dit gedroog word. Skaapderms vervang die varkderms wat in boerewors gebruik word. Ná die drogingsproses kan die droëwors in onverkoelde areas gestoor word.[2]
Droëwors is ongewoon onder ander gedroogde vleise omdat dit vinnig in warm, droë toestande gedroog word in teenstelling met tradisionele Italiaanse ingelegde salami, wat stadig in relatief koue en vogtige toestande gedroog word. 'n Verdere verskil is dat droëwors nie ingelegmiddels, soos in tradisionele ingelegde wors, bevat nie. 'n Direkte gevolg hiervan is dat droëwors nie in vogtige toestande geberg kan word nie, omrede dit maklik muf.