Dwergmuishond | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Genus: | |
Spesie: | H. parvula
|
Binomiale naam | |
Helogale parvula Sundevall, 1847
|
Die dwergmuishond (Helogale parvula) is 'n klein, donker soogdier wat van Ethiopië tot Angola en suidwaarts tot in die oostelike streke van Suider-Afrika aangetref word.
'n Gemiddelde volwasse dwergmuishond bereik 'n lengte van 40 cm: die liggaam en kop het saam 'n lengte van tussen 18 en 260 cm, met 'n stert wat tussen 12 en 20 cm lank is. Dwergmuishonde is donker diertjies en hulle pelse wissel van 'n gespikkelde bruin tot grys kleur. Die onderbene en stert is oor die algemeen bietjie donkerder as die liggaam, terwyl die maag weer bietjie ligter is.
Die dwergmuishond woon hoofsaaklik in tonnels en gate in termietneste of boomstompe in grasvelde, beboste gebiede en bergagtige struikvelde. Hulle word van seevlak tot hoogtes van 1800 m bo seespieël aangtref.
Die dwergmuishond se dieet bestaan oor die algemeen uit insekte, reptiele en ander klein soogdiertjies.
Dwergmuishonde word gewoonlik in groepe aangetref, met 'n dominante wyfie en haar nageslag. Die wyfie se maat het tweede rang in die groep en hulle is die enigste paartjie in die groep wat sal paar. Die ander volwasse dwergmuishonde maak die kleintjies skoon, dra, voer en versorg hulle. Dit is nie ongewoon dat 'n ander wyfie (buiten die dominante wyfie) soms die kleintjies sal soog nie. Kleintjies sal vanaf 'n ouderdom van 6 maande saam met die groep begin kos soek. Die groep breek op wanneer die dominante wyfie vrek. Elke groep het 'n tuisgebied van ongeveer twee hektaar - die denkbeeldige bakens van die gebied skuif namate prooi minder of meer volop is in ander areas.
Die wyfie is vir 49-56 dae dragtig en sal in die reënerige seisoen (November tot Mei) geboorte skenk aan ongeveer vier kleintjies. Sy kan tot drie keer per jaar dragtig wees. Die kleintjies word vir 45 dae gespeen en kos word ook in hierdie tyd vir hulle aangedra. Geslagsrypheid word met drie jaar bereik.