Eon | Era | Periode | Ouderdom mj. | |
---|---|---|---|---|
Fanerosoïkum | Paleosoïkum | Kambrium | later | |
Proterosoïkum | Neo- | Ediacarium | 635 - 541 | |
Kriogenium | 720 - 635 | |||
Tonium | 1000 - 720 | |||
Meso- | Stenium | 1200 - 1000 | ||
Ektasium | 1400 - 1200 | |||
Kalimnium | 1600 - 1400 | |||
Paleo- | Staterium | 1800 - 1600 | ||
Orosirium | 2050 - 1800 | |||
Riasium | 2300 - 2050 | |||
Siderium | 2500 - 2300 | |||
Argeïkum | Neoargeïkum | vroeër | ||
Indeling van die Proterosoïkum volgens die ICS.[1] |
Die Ediacarium is die laaste periode van die Proterosoïese Eon. Dit het van ongeveer 635 tot 541 miljoen jaar gelede geduur. Hierdie periode word ook die Vendium genoem.[2]
Daar is lank gedink dat in hierdie periode geen makroskopiese fossiele aangetref kan word, maar reeds in 1848 is fossiele uit die Prekambrium uit Engeland gepubliseer en in 1868 uit Newfoundland. Hierdie vondste is egter met ongeloof begroet. In 1946 het dit begin verander, toe Reg Sprigg in Ediacara Hills in die Flinders-gebergte van Suid-Australië pragtige fossiele uit hierdie periode -wat nou na Ediacara genoem is- gevind. Dit het nogtans tot 1957 geduur tot Ford et al. prekambriese fossiele in Engeland herontdek het en dit duidelik geword het dat Ediacara s'n in der waarheid ouer is as die Kambrium. Dit is veral prof. Martin Glaessner wat die Ediacara fossiele populêr gemaak het.[3]
Die rede waarom min fossiele uit hierdie tyd gevind word, en hulle volopper is in die periode wat volg (die Kambrium), is dat hulle nog sonder been, skulp, tand of ander harde dele was. Organismes wat net uit 'n sagte liggaam bestaan fossiliseer net onder uiters gunstige omstandighede.[2] Daar is gedink dat die oorgang na die Kambrium gepaard gegaan het met 'n uitwissing, maar dit is omstrede.[3]
Die klimaat het taamlik warm gewees. Maar in die Ediacarium het die planeet dalk opnuut amper 'n Sneeubal-Aarde geword, soos dit in die Kriogenium die geval gewees het. Omtrent 580 mj gelede vind die Gaskiers-glasiasie plaas en lei tot die vorming van diamiktiet-afsettings. Dit het nogtans taamlik kort geduur.[4]
Die suurstofgehalte van die atmosfeer het waarskynlik omtrent 635 mj gelede amper die moderne vlak bereik maar in die oseaan se dieptes het dit amper 55 miljoen jaar later gebeur, omtrent 580 mj gelede. Dit het groot gevolge vir die oseaanbodem gehad omdat groter eukariote daardeur die oseaanbodem kon koloniseer. Die "Kambriese ontploffing" my sy ryke verskeidenheid diere met harde liggaamsdele, wat volg op die Ediakarium, hou verband met hierdie geochemiese wysigings.[5]
Die fragmente van die kontinent Rodinië het omstreeks 600 mj opnuut saamgekom en 'n superkontinent gevorm, wat Pannotië genoem word. Party kratons wat aan die omtrek van Rodinië geleë was, vorm nou 'n nuwe eenheid wat die kern van Pannotië vorm. Dit is nou bekend as Afrika.