Eid-oel-Adha (Arabies: عيد الأضحى, ʿīd al-ʾaḍḥā, [ʕiːd ælˈʔɑdˤħæː]), ook die Offerfees genoem, is saam met Eid-oel-Fiter een van die twee heiligste jaarlikse Islamitiese feeste, en word beskou as die heiligste van die twee. Dit word ook Eid-Ul-Adga gespel.[1]
"Eid" beteken in Arabies "dag wat dikwels terugkom". Die woord is afgelei van aoed (terugkeer). Adha verwys na die "offerdiere".
Die fees is ter viering van Ibrahim (Abraham) wat opdrag van God gekry het om sy seun te offer as teken van onderdanigheid, maar voordat hy dit kon doen, het God tussenbeide getree en sy engel Gabriël gestuur om vir Abraham te sê sy offer is reeds aanvaar. Uit dankbaarheid het Ibrahim en Ismaël (Isaak) in geselskap van vriende en armes 'n ram geoffer. Die Koran vertel dié verhaal in Soera 37,99–113[2] en die Bybel beskryf dit in Beresjiet/Genesis 22,1–19.[3] Tradisioneel word bokbe, beesagtiges of kameelagtige geoffer, na gelang van die beskikbare diere. Die vleis van die offer word in drie dele verdeel: Een deel word deur die gesin gehou, ’n ander deel word aan vriende, bure en die gesin gegee en die derde deel gaan na behoeftiges.
Eid-oel-Fiter het ’n spesifieke salaah (Islamitiese gebed) wat uit twee rakats (eenhede) bestaan en gewoonlik in ’n oop veld (musallā of eidgah) of groot saal plaasvind. Die toespraak (chutba) van die Imam word na die gebid gehou; in teenstelling met die Vrydaggebed, waar dit voor die gebed gehou word.
In die Islamitiese kalender, wat ’n maankalender is, val Eid-oel-Adha op die 10de dag van Dhu'l Hidjdja, die laaste maand. Vierings begin nadat die pelgrims in Mekka wat aan die hadj deelneem, van Berg Arafat af kom. Dit duur vier dae, tot met sonsondergang op die 13de Dhu'l Hidjdja.[4][5] In die Gregoriaanse kalender, ’n sonkalender, verskil die datum van jaar tot jaar – dit is elke jaar 10 tot 11 dae vroeër.
Die dae van Eid word in die hadit uitgesonder as "dae van herinnering" en word as die heiligste dae in die Islamitiese kalender beskou.
Eid-oel-Adha is volgens die Islamitiese kalender op 10 Dhu'l Hidjdja, die werklike viering begin egter altyd met sonsondergang op die vooraand (omdat 'n dag met sononder begin). Aangesien maande in die Islamitiese kalender altyd na die maan bereken word, wissel die datum van hierdie dag volgens die Gregoriaanse kalender. Omdat die Joodse kalender 'n maan- en sonkalender is en die Joodse Jom Kippoer op die 10de dag van Tisjrie gevier word, val al om die 33 jaar albei feeste op dieselfde dag.[6]
Jaar in die Islamitiese kalender | Datum in die Gregoriaanse kalender |
---|---|
1441 | 31 Julie 2020 (Vrydag) |
1442 | 20 Julie 2021 (Dinsdag) |
1443 | 9 Julie 2022 (Saterdag) |
1444 | 28 Junie 2023 (Woensdag) |
1445 | 16 Junie 2024 (Sondag) |
1446 | 6 Junie 2025 (Vrydag) |
1447 | 27 Mei 2026 (Woensdag) |
1448 | 16 Mei 2027 (Sondag) |
1449 | 5 Mei 2028 (Vrydag) |
1450 | 24 April 2029 (Donderdag) |
1451 | 13 April 2030 (Saterdag) |
1452 | 2 April 2031 (Woensdag) |