Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Brandenburg |
Koördinate | 52°09′N 14°38′O / 52.150°N 14.633°O |
Stigting | Julie/Augustus 1950 |
Stadstatus | - |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 63,47 vk km |
Hoogte bo seevlak | 44 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2018) | 24 633 |
- Bevolkingsdigtheid | 388/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 10,0 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 0,0 / 20,0 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslag | 610 mm |
Burgemeester | Frank Balzer (SPD) |
Amptelike Webwerf | eisenhuettenstadt.de |
Eisenhüttenstadt [ʔaɪzn̩ˈhʏtn̩ʃtat] is 'n stedelike nedersetting in die Duitse deelstaat Brandenburg, geleë aan die wesoewer van die Oderrivier wat hier 'n natuurlike grens met Pole vorm, en 120 km suidoos van Berlyn. Dit is volgens 'n besluit van die IIIde Partyvergadering van die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland in Julie 1950 as 'n nuut beplande stad vir die werkers van die eweneens nuutgestigte Eisenhüttenkombinat Ost (EKO), 'n geïntegreerde staalaanleg, gestig en ter ere van die destydse Sowjetleier Josef Stalin Stalinstadt genoem. In 1961 is die stadsnaam gewysig na Eisenhüttenstadt. Planne het voorsiening gemaak vir 'n bevolking van 30 000 in (aanvanklik) vier sogenaamde woonkomplekse (Wohnkomplexe).
Die nuut beplande stad en sy yster-en-staal-kombinat is ontwerp om in die destydse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) se yster- en staalbehoeftes te voorsien nadat die land met die verdeling van Duitsland in twee state afgesny is van tradisionele swaar nywerhede in Noordryn-Wesfale. Die stad is om strategiese en veiligheidsredes so ver moontlik van die grens met Wes-Duitsland opgerig.
Stadsbeplanners het by die beplanning en bou van Stalinstadt drie faktore in ag geneem:
Op 23 Augustus 1965 is vriendskapsbande met Crawley aangeknoop, 'n Engelse New Town of beplande stad wat vanaf 1947 buite Londen ontstaan het.[1][2] Britse stadsrade het gedurende die 1950's en 1960's in die algemeen min belang daarin gestel om betrekkinge met susterstede in die DDR te onderhou. Voor 1973 het westerse lande die sogenaamde Hallstein-doktrine gevolg wat deur Wes-Duitsland geformuleer is en waarvolgens Bonn die enigste amptelike verteenwoordiger van Duitsland kon wees. Nogtans was stadsrade vry om benede die diplomatieke vlak verhoudinge met DDR-stede te handhaaf. Die bande tussen Coventry en Dresden, wat die ervaring van verwoestende lugaanvalle gedurende die Tweede Wêreldoorlog gedeel het, was die vroegste en suksesvolste susterstadooreenkoms.
Met die stigting van die Duits-Britse Vereniging (Deutsch-Britische Gesellschaft, kort Debrig) in Junie 1963, waarin Oos-Duitsers met uitgebreide kennis aangaande die Engelse taal en Britse politiek en kultuur 'n leidende rol gespeel het, is 'n formele liggaam in die lewe geroep met die spesifieke doelwit om kontakte met Britse intellektueles, skrywers en vakbondlede te vestig, onder wie Hugh MacDiarmid (1892–1978), die Skotse digter, essayis, joernalis en politikus wat bekendheid verwerf het as stigter van die National Party of Scotland, die voorloper van die huidige Scottish National Party, maar ook kandidaat gestaan het vir die Verenigde Koninkryk se Kommunistiese Party.[3]
Van die handjievol susterstadbande, wat hieruit voortgespruit het, was dié tussen Crawley en Eisenhüttenstadt een van die aktiefstes. Tussen 1962 en 1968 het altesaam 46 westerse afvaardigings amptelike besoeke aan Eisenhüttenstadt gebring, waarvan drie uit Crawley, insluitende onderwysers wat belang gestel het in die Oos-Duitse onderwysstelsel en 'n jeuggroep wat meer te wete wou kom oor die lewensomstandighede van jong Duitsers agter die Ystergordyn.[4]
In 2014 het die Amerikaanse akteur Tom Hanks 'n besoek aan Eisenhüttenstadt gebring wat - met Engelssprekende toeriste as teikengroep - ook as Iron Hut City bemark word. Tom Hanks het nie net sy eie hemelblou DDR-motor Trabant gekoop nie (wat hy na die Verenigde State saamgeneem het om dit aan 'n motormuseum in Los Angeles te skenk), maar ook in die Amerikaanse televisie-aanbieder David Letterman se Late Night Show van sy besoek vertel - sy tweede nadat hy reeds in 2011 in 'n rolprent opgetree het wat hier geskiet is.[5][6]
Die museum Dokumentationszentrum Alltagskultur der DDR is in 1993 gestig om die materiële kultuur van die alledaagse lewe in die DDR te dokumenteer en beskikbaar te stel vir uitstallings, wetenskaplike navorsing en onderwys. Meer as 170 000 voorwerpe en dokumente, waaronder huisgereedskap, klere, meubels, verbruikerselektronika, media soos boeke en vinielplate, oorkondes en foto's, maak deel uit van die museum se versameling. 'n Vakbiblioteek maak publikasies uit die DDR asook meer onlangse literatuur toeganklik.