El Tajín, Voor-Spaanse Stad* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
El Tajín | |
Ligging van El Tajín in Meksiko | |
Koördinate: 20°26′53″N 97°22′42″W / 20.44806°N 97.37833°W | |
Lande | Meksiko |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | iii, iv |
Verwysings | 631 |
Streek† | Noord-Amerika |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1992 (16de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
El Tajín (Spaans-Totonaaks vir "die blits") is 'n argeologiese terrein in die deelstaat Veracruz net noordwes van die hawestad Veracruz in die ooste van Meksiko. El Tajín het vermoedelik as hoofstad van die Tachiwin (Nahuatl: Totonake) gedien, bevat verskeie groot, piramidale ziggoerate en is 800 jaar gelede reeds heeltemal verlaat. El Tajín is veral bekend vir die Piramide van die nisse (Piramide de los Nichos),[1] wat 25 m hoog en 1 225 m² groot is. Die piramide bestaan uit 365 nisse, wat waarskynlik 'n sonjaar gesimboliseer het.[2] El Tajín is ook bekend vir die vlieënde dansers, wie 'n ou vrugbaarheidsritueel van die Totonake vertoon, die Danza del Volador.
El Tajín is vermoedelik in die 1ste eeu v.C. deur Totonake gestig en het vermoedelik ook as hul hoofstad gedien. El Tajín was aan die god van die winde, Huracán, en dié van die blitse, Tajín, na wie die stad genoem is, gewy. Die stad het sy bloeitydperk tussen 700 en 900 n.C. beleef. Omstreeks 1200 is die stad weer verlaat en die verval prysgegee. Daar word aangeneem dat die Tolteke 'n tyd lank oor die stad geheers het.
In 1785 is die stad deur die Spanjaard Diego Ruiz herontdek, nadat Spaanse conquistadores die gebied vermoedelik reeds in die 16de eeu bereik het.[3] In die vroeë 19de eeu het Pietro Márquez, Guillermo Dupaix, Alexander von Humboldt (1811) en Carl Nebel El Tajín besoek. In 1934 het eerste uitgrawings plaasgevind. Minder as 'n kwart van die terrein is tans uitgegrawe en daar word verwag dat net die helfte van die stad bekend is.[4]
Die Voor-Spaanse stad van El Tajín is in 1992 weens sy unieke argitektuur binne Meso-Amerika deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.