Enkidu (wigskrif: EN.KI.DU3, 𒂗𒆠𒆕, "Enki se skepping") is ’n sentrale figuur in die Mesopotamiese Heldedig van Gilgamesj.
Enkidu word deur Aruru uit klei en spoeg geskep om Gilgamesj, die koning van Uruk, se onderdrukking van sy volk stop te sit. In die verhaal is hy ’n wilde man wat deur diere grootgemaak is en nie die beskawing ken nie, totdat hy met die tempelprostituut Shamhat seks het.[1] Daarna maak ’n paar wisselwerkings met mense en menslike gedrag hom meer beskaafd. Dit lei tot ’n stoeigeveg met Gilgamesj. Hoewel Enkidu net so sterk soos Gilgamesj is, verteenwoordig hy die ongerepte en natuurlike wêreld en is hy eintlik die teenpool van die opgevoede en beskaafde koning.
Enkidu word Gilgamesj se metgesel en vriend totdat hy deur die gode ter dood veroordeel word en sterf. Die treurende Gilgamesj vertrek hierna op ’n reis om die ewige lewe te soek. Daar is ’n groeiende beweging wat meen Gilgamesj en Enkidu het ’n erotiese verhouding gehad.[2][3]
Ouer bronne translitereer sy naam soms as Enkimdu, Eabani of Enkita. Enkidu is ’n moderne vorm.