Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word.
Enterobacteriaceae is 'n groot familie van Gram-negatiewebakterieë.[Nota 1] Dit is die eerste keer in 1936 deur Rahn voorgestel, en sluit nou meer as 30 genera en meer as 100 spesies in.[2][3] Enterobacteriaceae sluit baie van die meer bekende patogene in, soos Salmonella, Escherichia coli, Klebsiella en Shigella. Ander siekteveroorsakende bakterieë in hierdie familie sluit Enterobacter en Citrobacter in. Lede van die Enterobacteriaceae kan na verwys word as "enterobakterieë" of "enteriese bakterieë" aangesien verskeie lede in die ingewande van diere woon.
Lede van die Enterobacteriaceae is staafvormig en is tipies 1–5 μm lank. Hulle verskyn tipies as grys, medium- tot grootkolonies op bloedagar, hoewel sommige kleurpigmente kan uitdruk. Die meeste het baie flagella[Nota 2] wat gebruik word om rond te beweeg, maar 'n paar genera beweeg nie. Die meeste lede van Enterobacteriaceae het flagella wat in alle rigtings projekteer wat help om die bakteriese selle aan hul gashere te laat klou. Hulle is nie spoorvormend nie.[4]
Soos ander proteobakterieë, het Enterobactericeae Gram-negatiewe vlekke,[5] en hulle is anaërobe. Hulle fermenteer suikers om melksuur en verskeie ander eindprodukte te produseer. Die meeste reduseer ook nitraat tot nitriet, hoewel uitsonderings bestaan. Anders as die meeste soortgelyke bakterieë, het Enterobacteriaceae oor die algemeen nie die ensiem sitochroom c-oksidase[Nota 3] nie, alhoewel daar uitsonderings is.
Baie lede van hierdie familie is normale lede van die dermmikrobiota by mense en ander diere,[6] terwyl ander in water of grond gevind word, of parasiete op 'n verskeidenheid verskillende diere en plante is.[7][8]
Enterobacteriaceae word gewoonlik met antibiotika, soos bv. Polimiksien, behandel maar verskeie Enterobacteriaceae-stamme is geïsoleer wat bestand is teen antibiotika, insluitend karbapenems,[Nota 4] wat dikwels beskou word as "die laaste lyn van antibiotiese verdediging" teen weerstandbiedende organismes. Sommige Klebsiella pneumoniae-stamme is byvoorbeeld karbapenembestand.[9] Verskeie karbapenemases-gene is geïdentifiseer in karbapenem-weerstandige Enterobacteriaceae, insluitend Escherichia coli en Klebsiella pneumoniae.[10]
↑Gram-negatiewe bakterieë is bakterieë wat nie die kristalvioletkleur behou wat in die Gramkleuringsmetode van bakteriese identifikasie gebruik word nie.
↑Flagella is haaragtige aanhangsel wat uit sekere plant- en soogdierspermselle en uit 'n wye reeks mikroörganismes uitsteek om beweeglikheid te verskaf.
↑Karbapenems is 'n klas hoogs effektiewe antibiotika wat algemeen gebruik word vir die behandeling van ernstige of hoë-risiko bakteriële infeksies, soos bv. multi-middel weerstandbiedende infeksies.
↑Don J. Brenner; Noel R. Krieg; James T. Staley (26 Julie 2005) [1984 (Williams & Wilkins)]. George M. Garrity (red.). The Gammaproteobacteria. Bergey's Manual of Systematic Bacteriology (in Engels). Vol. 2B (2de uitg.). New York: Springer. p. 1108. ISBN978-0-387-24144-9. Britse Biblioteek no. GBA561951.
↑Wang, Zhiying; Hu, Huifeng; Zhu, Tongbo; Zheng, Jinshui; Gänzle, Michael G.; Simpson, David J. (31 Augustus 2021). Rodríguez-Verdugo, Alejandra (red.). "Ecology and Function of the Transmissible Locus of Stress Tolerance in Escherichia coli and Plant-Associated Enterobacteriaceae". mSystems (in Engels). American Society for Microbiology. 6 (4). doi:10.1128/msystems.00378-21. ISSN2379-5077.
↑"Klebsiella pneumoniae in Healthcare Settings - HAI". CDC (in Engels). 17 Mei 2019. Besoek op 6 April 2022. Klebsiella-bakterieë het toenemend antimikrobiese weerstand ontwikkel, mees onlangs teen die klas antibiotika bekend as karbapenems.