Die Evangelie volgens Maria, wat soms ook die Evangelie volgens Maria Magdalena genoem word, maak deel uit van die sogenaamde apokriewe geskrifte van die Nuwe Testament. Die teks, wat omtrent 160 ontstaan het, is in die Koptiese Kodeks Berolinensis gevind en toon sterk gnostiese invloede. Dit was moontlik Maria Magdalena wat haar naam aan hierdie evangelie gegee het. In die teks kom egter net die naam "Maria" voor.
Die Evangelie volgens Maria is in 1896 in 'n 5de-eeuse papiruskodeks (Papyrus Berolinensis 8502, soms ook die Akhmin-kodeks genoem) ontdek. Die Duitse geleerde Carl Reinhardt het die kodeks in Kaïro gekoop.
Volgens Karen L. King, Winn-professor in kerkgeskiedenis aan die Harvard-universiteit se Divinity School, wek die Evangelie volgens Maria die indruk van 'n Christelike stroming wat vir byna vyftien honderd jaar verlore gegaan het.
Die evangelie bied 'n radikale interpretasie van Jesus van Nasaret se leerstellings en beskryf hulle as 'n pad na spirituele kennis, verwerp die konsep van lyding en dood as 'n pad na die ewige lewe; stel duidelik dat die uitbeelding van Maria Magdalena as 'n prostituut 'n foutiewe teologiese leerstelling was (wat in 1969 deur die Vatikaan amptelik herroep is); bevat die oudste en mees oortuigende pleidooi en legitimasie vir vroulike leierskap van alle bekende vroeë Christelike tekste; lewer duidelike kritiek op onwettige leierskap en bied 'n utopiese visie van spirituele volmaaktheid; bevraagteken romantiese sienswyses ten opsigte van die eendrag en eenstemmigheid van die eerste Christene; en maak dit duidelik dat die grondslag van die kerk se gesag bevraagteken moet word.
Volgens professor King weerspieël die konfrontasie tussen Maria en Petrus, wat ook deur die Evangelie van Thomas, Pistis Sophia en die Koptiese Evangelie van die Egiptenare beskryf word, die spanning in die 2de-eeuse Christendom. Petrus en Andreas neem hier ortodokse standpunte in wat die geldigheid van esoteriese openbaring en die gesag van vroue om te leer ontken.