Falafel (Arabies: فلافل) word gemaak van kekerertjies of droëbone, of 'n mengsel van die twee. Dit word diepgebraai en gewoonlik voorgesit in 'n bal- of frikkadelvorm. Dit is 'n tradisionele Midde-Oosterse voedselsoort wat dikwels in 'n pita geëet word of toegevou word in 'n tipe platbrood wat bekendstaan as taboon. "Falafel" verwys ook dikwels na 'n toebroodjie wat op hierdie wyse voorberei word. Die falafel balletjies word saam met slaaie of gepekelde groente bedien, en bedruip met tahini-gebaseerde souse. Falafel kan alleen geëet word as 'n peuselhappie of bedien word as deel van 'n mezegereg ('n verskeidenheid van aptytwekkers).
Falafel word regdeur die Midde-Ooste geëet en is 'n algemene straatkos of wegneemete. Falafel word gewoonlik van droëbone gemaak in die Egiptiese kookkuns, en met kekerertjies in die Levant. In Egipte gebruik mense dikwels net boontjies. Nadat Israel as 'n land gestig is, is falafel as 'n nasionale dis aangeneem.[1] Sommige Palestyne maak beswaar hierteen aangesien hulle dit as hulle gereg beskou.[2][3]
In Egipte en Soedan staan falafel bekend as taʿmiya. Die woord is afkomstig van 'n verkleinvorm van die Arabiese woord ṭaʿām (طعام, "kos"); hierdie bepaalde vorm dui op "'n eenheid" van die gegewe semitiese wortel, in hierdie geval Ṭ-ʕ-M (ط ع م, wat verband hou met smaak en kos), en wat derhalwe "'n klein stukkie kos" of 'n "klein smaaklike ding" beteken.[4][5][6]