Die Fariseërs (Hebreeus: פְּרוּשִׁים, Pərūšīm) was 'n Joodse sosiale beweging en gedagterigting in die Levant tydens die tydperk van die Tweede Tempel. Ná die vernietiging van die Tweede Tempel in 70 n.C. het die Fariseërs se geloofsoortuigings die fundamentele, liturgiese en ritualistiese basis vir Rabynse Judaïsme gevorm.
Konflikte tussen die Fariseërs en Sadduseërs het plaasgevind in die konteks van heelwat breër en langduriger sosiale en godsdienskonflikte onder Jode, wat deur die Romeinse verowering vererger is.[1] Een konflik was kultureel, tussen dié wat vergrieksing voorgestaan het (Sadduseërs) en dié wat dit teengestaan het (Fariseërs). Nog een was juridies-godsdienstig, tussen dié wat die belangrikheid van die tempel met sy rites en dienste beklemtoon het en dié wat klem op die Wet van Moses gelê het. 'n Spesifiek godsdienstige rede vir konflik was verskillende vertolkings van die Tora en hoe om dit op die Joodse lewe van destyds toe te pas – met die Sadduseërs wat net die geskrewe Torah erken en ander leerstellings verwerp het.
Josephus (omstreeks 37-100 n.C.), wat volgens baie historici vermoedelik 'n Fariseër was, het geraam daar was omtrent 6 000 Fariseërs voor die val van die Tweede Tempel.[2] Hy het beweer die Fariseërs se invloed oor die gewone mense was so groot dat enigiets geglo is wat hulle teen die koning of hoëpriesters gesê het,[3] oënskynlik in teenstelling met die meer elitistiese Sadduseërs, wat van die hoër stand was. Die Fariseërs het beweer hulle het Moses se gesag vir hulle vertolking[4] van die Joodse godsdiensreg, terwyl die Sadduseërs die priesterlike mag verteenwoordig het wat sedert Salomo se bewind gegeld het.
Fariseërs is ook bekend uit baie verwysings uit die Nuwe Testament. Hoewel die skrywers vyandelikhede tussen die Fariseërs en Jesus noem, is daar ook verskeie verwysings na Fariseërs wat in Hom geglo het. Dit sluit in Nikodemus, wat gesê het dit is bekend dat Jesus 'n leermeester is wat van God af gekom het,[5], Josef van Arimatea, wat sy dissipel was,[6] en 'n onbekende getal van "die gelowiges wat vroeër Fariseërs was".[7] Onder hulle was die apostel Paulus – selfs nadat hy 'n dissipel van Jesus geword het.[8][9] Hy het die Sanhedrin gewaarsku om Jesus se dissipels teen te staan kan gelykstaande wees daaraan om teen God te stry.[10]