Ferrari

Ferrari S.p.A.
Tipe Aandelemaatskappy
Gestig 1929
1947 (nuut)
Hoofkantoor MaranelloItalië
SleutelpersoneLuca di Montezemolo (HUB)
Piero Ferrari (adjunkhoof)
Amedeo Felisa (voorsitter van die Raad)
Gebied bedienWêreldwyd
IndustrieMotorvervaardiger
ProdukteSupermotors
DiensteFinansiële en logistieke dienste
Inkomste€2,3 miljard (2013)[1]
Werknemers2 695 (2011)[2]
MoedermaatskappyFiat S.p.A. (90%)
Piero Ferrari (10%)
Webwerfferrari.com

Ferrari is 'n Italiaanse motormaatskappy met sy hoofkwartier in Maranello. Die maatskappy is deur Enzo Ferrari in die laat 1940's gestig.

Enzo Ferrari (links).

Enzo Ferrari was van jongs af baie entoesiasties oor renmotors en het Ferrari gestig om geld in te samel sodat hy aan meer motorrenne kon deelneem. Dit het eers as 'n klein maatskappy begin, maar het vinning gegroei tot een van die bekendste en beroemdste motorfabrikate in die wêreld.

Ferrari neem tans ook deel aan Formule Eenwedrenne. Die span, bekend as die Scuderia Ferrari, was vir jare lank die nommer een span in die kompetisie, nadat dit vele podiumplekke behaal het, jaar na jaar, met die Duitser Michael Schumacher as toprenjaer. In 2009 is die twee Formule Een motors deur die Fin Kimi Räikkönen en die Brasilianer Felipe Massa bestuur, en in 2019 deur Sebastian Vettel en die jong Monegask Charles Leclerc.

Ferrari se supermotor
Die Ferrari 360
Die Ferrarifabriek en hoofkantoor

Terug in die vertoonlokaal, was die 2009 motors op Ferrari se verkoopslys die 612 Scaglietti, 599 GTB Fiorana, F430 en die California. Die California is Ferrari se eerste poging om 'n harde afslaankap te produseer, en die motor het tot dusver verskeie toekennings verower vir sy uitstekende dinamika, ten spyte van die ekstra massa van die afslaankap wat in die kattebak kan wegvou.

Die 599 GTB (Gran Turismo Berlinetta) is 'n herskepping van 'n vroeëre motor, die 1960's 275GTB, en die California is 'n herskepping van 'n motor van die 1970's met dieselfde naam. Die 599 GTB word tans deur Ferrari beskryf as 'n perfekte supermotor vir alledaagse gebruik en is gebou op dieselfde basiese beginsel as die 275GTB met 'n enjin wat voor sit, 'n ratkas wat agter die bestuurder lê en agterwielaangedrewe is om 'n amper perfekte massaverspreiding tussen die voor- en agterwiele te verkry. Hierdie uitleg maak dat die 599 GTB van nul tot honderd kan versnel in 4,2 sekondes en aanhou hardloop tot oor 300 km/h. Die F430 aan die ander kant inkorporeer 'n ander bou-uitleg met 'n midgeplaasde enjin, ratkas wat voor sit en agtergedrewe is. In die F430-klas is 'n liggewigmodel, die F430 Scuderia, ook beskikbaar. Die motor se bakwerk bestaan meestal uit ligte materiale en al die onnodige rekenaars en elektronika is verwyder om meer as 100 kg te bespaar. Hierdie massabesparing het 'n effek wat die 0-100 km/h versnellingstyd vir die Scuderia met 'n sekonde verbeter bó die standaard F430.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (fr) Ferrari affiche un chiffre d'affaires record en 2013, Challenges, besoek op 13 April 2014.
  2. (en) "Annual Report 2011" (PDF). fiatspa.com. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2012. Besoek op 13 April 2014.

Bronne

[wysig | wysig bron]