Frederick “Fritz” Joubert Duquesne | |
---|---|
![]() Kaptein Duquesne, Boere Weermagfoto, ca. 1900 | |
Bynaam(e) | Die man wat Kitchener se dood veroorsaak het; Die Swart Luiperd; Alias: Kaptein Claude Stoughton; Frederick Fredericks; Boris Zakrevsky (het die identiteit van 'n werklike Russiese Graaf aanvaar); Majoor Frederick Craven; Colonel Beza; Piet Niacud |
Geboortedatum | 21 September 1877 |
Geboorteplek | ![]() |
Sterfdatum | 24 Mei 1956 (78 jaar oud) |
Sterfplek | New York Stad, NY |
Lojaliteit | Boer en Duits |
Diens/Tak | hoofsaaklik spioenasie |
Jare in diens | 1899–1901 (Boer); 1901 (Brits); c1913-1942 (Duits) |
Rang | Kaptein |
Poste beklee | Duquesne Spioenasiesindikaat |
Veldslae/oorloë | ![]() -- Beleg van Ladysmith -- Slag van Colenso -- Slag van Bergendal -- Sameswering om Kaapstad te saboteer ![]() -- Sluipmoord van Lord Kitchener -- Sabotering van Britse skeepvaart in Suid-Amerika (gesink: 22) ![]() -- Spioenasie in die VSA |
Toekennings | Ysterkruis, 1916 |
Ander werk | kommando; oorlogskorrespondent; joernalis |
Frederick “Fritz” Joubert Duquesne (soms geskryf as Du Quesne en uitgespreek in Afrikaans as Doe-kein) (21 September 1877 – 24 Mei 1956) was ’n Suid-Afrikaanse Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, Anglofoob, makelaar, saboteur, spioen en avonturier wie se haat vir die Britte hom gedryf het om vrywillig in albei Wêreldoorloë vir Duitsland te spioeneer. As Boerespioen was hy bekend as die Swart Luiperd en hy is ook bekend as die man wat Kitchener se dood veroorsaak het aangesien hy beweer dat hy in 1916 die HMS Hampshire gesaboteer en laat sink het waarop Lord Kitchener was op weg na Rusland. As Duitse spioen was sy kodenaam DUNN. In 1942 is hy en 32 ander lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat skuldig bevind in die grootste spioenasieverhoor in die geskiedenis van die VSA.
Frits Joubert Duquesne is in Oos-Londen in die Kaapkolonie in 1877 gebore. Sy gesin het na sy geboorte na Nylstroom in die Zuid-Afrikaansche Republiek verhuis waar hulle begin boer het. Toe hy 17 was, is hy na Londen gestuur om te gaan studeer. Daarna het hy aan die Académie Militaire Royale in Brussel gestudeer. Genl. Piet Joubert, ’n held in die Eerste Vryheidsoorlog en Kommandant-Generaal van die Suid-Afrikaansche Republiek (1880–1900) was sy oom.[1]
Hy was een van die slimste manne wat ek ooit ontmoet het. Hy het iets van die genie van die Apache gehad deurdat hy ’n stryd op sy eie terme kon vermy; tog sou hy die laaste man wees wat ek in ’n donker kamer sou wou teëkom fir ’n finse mesgeveg. Ek glo dat Duquesne naas Theron die grootste Boereverkenner was. |
Frederick Russell Burnham, Hoof van die Verkenners, Britse Leër[2] |
Toe die oorlog in Oktober 1899 uitgebreek het, het Duquesne na Suid-Afrika teruggekeer om hom by die Boerekommandos aan te sluit. Tydens die beleg van Ladysmith is hy beseer maar hy is ook bevorder tot die rang van kaptein in die artillerie. Duquesne is gevang deur die Britte by Colenso maar hy kon daarin slaag om in Durban te ontsnap. Hy het hom weer by die Boeremagte aangesluit en in die Slag van Bergendal geveg. Hulle moes egter terugval na Mosambiek. Daar is hy deur die Portugese gevang en na ’n interneringskamp in Caldas da Rainha naby Lissabon gestuur.
By hierdie kamp het hy die dogter van een van die wagte gesjarmeer. Sy het hom gehelp om na Parys te vlug. Van daar het hy na Aldershot in Engeland gereis waar hy hom by die Engelse magte aangesluit het. In 1901 is hy na Suid-Afrika gestuur as ’n offisier van die Britse magte.
Hy het in die Kaap aangekom met planne om strategiese Britse instellings te saboteer. Hy het 20 manne gewerf maar is deur een van dié se vrou verraai. Hy het die doodstraf vrygespring deur van die Boere se boodskappe (met vervalsing) aan die Britte deur te gee maar is steeds deur ’n krygshof skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die ander 20 lede van sy span is deur ’n vuurpeloton tereggestel.[3]
Hy is in Kaapstad in die Kasteel die Goeie Hoop opgesluit. Die mure van die kasteel wat baie dik maar aand na aand het Duquesne die sement om die stene weggekrap met ’n lepel. Hy het een aand byna ontsnap maar ’n groot steen het geval en hom in sy tonnel vasgepen. Die volgende oggend het ’n wag hom bewusteloos, maar ongedeerd gevind.[3]
Duquesne was een van baie Boerekrygsgevangenes wat na Bermuda gestuur is waar hy een van ongeveer 350 gevangenes was wat op Burt se Eiland, die tweede kleinste van die destydse selfregerende interneringseilande, geïnterneer is.[4] Die “23-jarige” kon daarin slaag om homself as ’n Amerikaner voor te hou en is geken aan sy “vars” gelaat en “goedgemanierde” “deftige” voorkoms deur Kaptein C.E.M. Payne, die Kommandant van Burt se Eiland (woordvoerder en verteenwoordiger vir die ander Boere).[5] Op 25 Junie 1902 het Duquesne en Nicolaas du Toit wettiglik (aangesien die oorlog verby was) met ’n veerboot na Baileysbaai, Hamilton Parish, Bermuda gereis om vir Anna Maria Outerbridge, ’n leier van die “Boere Verligtingskomitee”, te ontmoet. Sy was bekend daarvoor dat sy Boerekrygsgevangenes gehelp het om te probeer ontsnap, waarna die weermag haar huis deursoek het na elke ontsnapping. Die Koloniale Vergadering het die hulp en huisvesting van ontsnapte krygsgevangenes onwettig verklaar en tydens Guy Fawkes-aand is ’n afbeelding van haar en nie van Guy Fawkes nie, verbrand.[6] Outerbridge het gereël dat een van die mans sou ontsnap en die ander aan die weermag oorhandig sou word, waarna Duquesne na die hawe in St. George gestuur is. Daar het hy vir Kaptein W.E. Meyer, ’n ander lid van die Boere Verligtingskomitee, ontmoet en het hy vervoer gereël wat hom buite die kolonie sou neem.[7] Dit was in ongeveer hierdie tyd dat hy vir Alice Wortley ontmoet het en met haar getrou het. Frits was beskou as ’n aantreklike, maar misterieuse man.
Terwyl hy in die Britse weermag was het hulle deur sy ouers se plaas in Nylstroom gereis waar hy met sy eie oë gesien het hoe Kitchener se Verskroeideaardebeleid geïmplementeer is. Hy het ook nuus ontvang dat sy suster verkrag en vermoor is en dat sy moeder aan’t sterf was in ’n konsentrasiekamp. Duquesne was vervul met afgryse en haat. Hy het daar besluit dat hy op Kitchener en die Britte sou wraak neem. Kitchener was die teiken van die mislukte poging van massa sabotasie in Kaapstad.
Aan my vriendelike vyand, Majoor Frederick Russell Burnham, beste verkenner ter wêreld, wie se oë dié van ’n Ryk was. Ek het eens gesmag na die eer om hom dood te maak, maar my mislukking daarin noop my om ’n hartlike bewondering te toon. |
Brief geteken: Fritz Joubert Duquesne, 1933, Een kryger aan ’n ander. [3] |
Vir baie jare, van die begin van die Tweede Vryheidsoorlog af, was Duquesne onder bevel dat hy die geprese Amerikaner Frederick Russell Burnham, verkennerhoof vir die Britse magte, moes vermoor. Hulle het mekaar egter eers in 1910 ontmoet toe albei in Washington, D.C. was waar hulle stemme gewerf het van die Amerikaanse Kongres om die invoer van Afrika-wild toe te laat in die VSA (H.R. 23621).[3] Na sy terugkeer na Amerika het Burnham aktief gebly in kontraspioenasie vir Brittanje en baie daarvan het te doen gehad met Duquesne.[8]
Van die grootste goudmyne in die wêreld was in die Boeregebied en gedurende die Tweede Vryheidsoorlog is van die goud per trein gestuur na die neutrale Portugese hawe by Lourenço Marques (nou Maputo), Portugees Oos-Afrika, om te betaal vir wapens en ammunisie. In die laaste maande van die oorlog is van hierdie goud per skip na Nederland gestuur om te betaal vir die ammunisie. Duquesne was in beheer van een van die groot goudvragte wat per wa na Lourenço Marques gestuur is maar die goud het nooit die bestemming bereik nie. Terwyl hulle in Portugees Oos-Afrika was het ’n onenigheid tussen die Boere ontstaan. Na die onenigheid het Duquesne opdrag gegee dat die goud in die Luiperdgrot weggesteek moes word, maar dat die waens verbrand moes word. Wat van die goud geword het, is sedertdien steeds ’n raaisel.[3]
Na sy ontsnapping van Bermuda het Duquesne in New York Stad te lande gekom waar hy werk gekry het as verslaggewer vir die New York Herald. Hy het bekend geword as ’n reiskorrespondent, grootwildjagter en storieverteller terwyl hy in New York was. Die Tweede Vryheidsoorlog het ten einde geloop met die ondertekening van die Verdrag van Vereeniging en, met sy familie nie meer in die lewe nie, het Duquesne nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie. Hy het deur naturalisasie ’n Amerikaanse burger geword in Desember 1913.
Hy is na Port Arthur gestuur om verslag te lewer oor die Russies-Japannese Oorlog, asook na Marokko om oor die Riffynse Opstand verslag te lewer. Teen 1910 het hy Theodore Roosevelt se persoonlike skietinstrukteur geword en saam met hom gaan jag. Hy het ook later in Australië verskyn en na homself verwys as “Kaptein Claude Sloughton” van die Wes-Australiese Ligte Berederegiment waar hy lesings oor die Groot Oorlog gelewer het.
Nadat hy in 1914 ’n Duits-Amerikaanse nyweraar in die Amerikaanse Middeweste ontmoet het, het Duquesne vertrek na Brasilië as “Frederick Fredericks” met die voorwendsel dat hy “navorsing oor rubberplante” sou gaan doen. Hy het egter tydbomme wat vermom is as mineraalmonsters, op die Britse skepe geplant. Van hierdie skepe het die Salvador, Pembrokeshire en die Tennyson ingesluit. En van sy bomme het ook ’n brand op die Vauban tot gevolg gehad.
In 1916 is Duquesne vereer met die Ysterkruis vir die sabotering en ondergang van die HMS Hampshire, waarvan Veldmaarskalk Kitchener en die meeste van die bemanning verdrink het. Volgens Duitse rekords het Duquesne die identiteit van die Russiese Graaf Boris Zakrevsky aangeneem en by Kitchener in Skotland aangesluit. Oppad na Rusland het Duquesne die sein vir ’n Duitse U-boot gegee om hulle te waarsku dat Kitchener se skip oppad was. Hy het in een van die vlotte ontsnap net voordat die Hampshire gesink is.[1]
In 1916 het Duquesne ook ’n berig in die koerant geplaas waarin hy sy eie dood aankondig in Bolivia aan die hand van boorlinge van die Amasone.[9] Toe hy in New York op 17 November 1917 gearresteer is op aanklagtes van versekeringsbedrog vir “mineraalmonsters wat verloor het” met die skepe wat gesink het aan die Brasiliaanse kus, waaronder die Britse stoomskip Tennyson wat op 18 Februarie 1916 gesink is, het hy ’n groot lêer met koerantuitknipsels oor bomontploffings op skepe by hom gehad, asook ’n brief van die Assistent Duitse Visekonsulaat in Managua, Nicaragua.[10] Die brief het aangedui dat Kaptein Duquesne ’n man was wat aansienlike diens gelewer het vir die Duitse saak.[10] Teen hierdie tyd het die Britse owerhede ook na Duquesne gekyk as die agent wat verantwoordelik is vir die “moord op die oop see, brandstigting, vervalsing van admiraliteitsdokumente en sameswering teen die Kroon”. Amerikaanse owerhede het ingestem om Duquesne aan Brittanje uit te lewer indien die Britte hom daarna sou terug stuur om tronkstraf uit te dien vir die bedrog wat hy gepleeg het.
Na sy arrestasie in New York, en in afwagting op uitlewering aan Brittanje, het Duquesne voorgegee om verlam te wees en is hy gestuur na die gevangenesaal te Bellevue Hospitaal. Op 25 Mei 1919, na byna twee jaar se skynverlamming, het hy homself as ’n vrou vermom en ontsnap deur die tralies van se sel te sny en oor die muur na sy vryheid te klim.[11] Polisiekommissaris Richard E. Enright het die volgende bulletin uitgestuur:
Hierdie man is gedeeltelik verlam in die regterbeen en loop altyd met ’n kierie. Mag vra vir behandeling by ’n hospitaal of privaat dokter. Hy het ook ’n velsiekte wat ’n vorm van ekseem is. Indien gevind, arresteer, hou en kontak Speurafdeling, Polisiehoofkantoor, New York Stad en ’n offisier sal gestuur word met die nodige vorms.
Ongeveer ’n jaar later het hy in Boston opgeduik onder die skuilnaam afgetrede Britse majoor Frederick Craven. Hy het verskeie ander skuilname ook gebruik waaronder Kolonel Beza, Piet Niacud asook Kaptein Fritz du Quesne (sy regte naam en rang).
Van hierdie tydperk in sy lewe is min bekend, slegs dat hy as vryskut joernalis gewerk het en ’n agent vir Joseph P. Kennedy se rolprentvervaardigingsagentskap was. Dit is ook gedurende hierdie tyd dat hy met Clement Wood saamgewerk het om sy biografie bekend as Die man wat Kitchener se dood veroorsaak het. Die regte is aan ’n rolprentmaatskappy verkoop.
In 1932 is Duquesne verraai deur ’n vrou wat sy werklike identiteit aan die FBI verskaf het. Hy is gearresteer en die Britse owerhede wou hom weer uitgelewer hê. Hy het homself in die hof verdedig. Die regter het beslis dat, alhoewel die klagtes meriete gehad het, die wet van beperkings reeds verval het.
Op 28 Junie 1941, na ’n ondersoek wat twee jaar geduur het, is Duquesne deur die FBI gearresteer saam met twee ander medewerkers op aanklagte dat hulle geheime inligting omtrent Geallieerde wapentuig en skeepsbewegings aan Duitsland gelek het. Agente het daarin geslaag om lede van Duquesne se sindikaat te verfilm waar hulle inligting aan William G. Sebold, ’n geheimde FBI-informant en dubbelagent, lek.[12] Op 2 Januarie 1942 is die 33 lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat, die grootste spioenasiesindikaatskuldigbevinding in die geskiedenis van die VSA, gevonnis tot ’n totaal van meer as 300 jaar tronkstraf. Een Duitse spioenmeester het later gesê dat die sindikaat se vonnis die doodshou vir hulle pogings tot spioenasie in die VSA was. J. Edgar Hoover het sy FBI se ontbloting van die sindikaat as die grootste in die geskiedenis van die buro genoem.[13] Tydens sy verhoor het Duquesne aangevoer dat sy aksies gemik was teen die VK as wraak vir die misdade wat hulle aan hom en sy mense gedurende die Tweede Vryheidsorolog gepleeg het.
Hierdie keer het die 64-jarige Duquesne nie ontsnap nie; hy is gevonnis tot 18 jaar tronkstraf. Hy het ook ’n 2 jaar konkurrente vonnis gekry en hy is ’n boete van $2,000 opgelê vir die oortreding van die Wet op Registrasie van Buitelandse Agente. Hy het sy vonnis in die Leavenworth Federale Strafgevangenis in Kansas uitgedien waar hy mishandel en geslaan is deur ander gevangenes. In 1954 is hy vrygelaat weens siekte nadat hy 13 jaar van sy vonnis uitgedien het. Hy het as hulpbehoewende op Welsynseiland (nou Roosevelteiland) op 24 Mei 1956 op 78-jarige leeftyd gesterf.
Duquesne was ’n meester in selfbevordering en 'n baie goeie storieverteller. Verskeie bronne regdeur die wêreld maak melding van hom al is dit een van sy aliasse. Dit is welbekend dat hy aantreklik, sjarmant, intelligent en vlot in verskeie tale (Afrikaans, Nederlands, Engels, Frans, Duits en dalk Spaans of Portugees) was.
Sy sjarme was onder die vroue bekend maar hy het ook ’n indruk op mans gelaat. ’n Dominee, A.J. van Blerk, wat saam met Duquesne in Bermuda geïnterneer is, het hom beskryf as “ ’n aantreklike man, goed ontwikkel, met helder blou oë en pragtige swart hare wat tot op sy skouers gehang het” in sy boek “Op die Bermudas beland”.
Op ’n “Gesoek” plakkaat is Duquesne soos volg beskryf (sy lengte, massa, velkleur en oogkleur is verkeerd):
Die lewe van Fritz Duquesne was die onderwerp van ’n dokumentêre rolprent in 1999 van die Suid-Afrikaanse rolprentmaker François Venter. Dit het ses Stone-toekennings gewen.
Die 1945-rolprent The House on 92nd Street is gebaseer op die “Duquesne Spioenasiesindikaat-sage” van 1941, maar is nie histories akkuraat nie. Die skrywer Charles G. Booth het ’n Oscar-toekenning vir beste storie gekry
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Fritz Joubert Duquesne. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |