Gabriel Boric | |
Boric in 2022 | |
President van Chili
| |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 11 Maart 2012 | |
Voorafgegaan deur | Sebastián Piñera |
---|---|
Lid van die Kamer van Afgevaardigdes van die Magallanes-streek se 28ste-distrik
| |
Ampstermyn 11 Maart 2018 – 11 Maart 2012 | |
Voorafgegaan deur | Kiesafdeling gestig |
Opgevolg deur | Javiera Morales |
Lid van die Kamer van Afgevaardigdes van Magallanes se 60ste-distrik
| |
Ampstermyn 11 Maart 2014 – 11 Maart 2018 | |
Voorafgegaan deur | Miodrag Marinovic |
Opgevolg deur | Distrik geskrap |
President van die Universiteit van Chili Studentefederasie
| |
Ampstermyn 19 Desember 2011 – 28 November 2012 | |
Voorafgegaan deur | Camila Vallejo |
Opgevolg deur | Andrés Fielbaum |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 11 Februarie 1986 Punta Arenas, Magallanes-provinsie, Chili |
Politieke party | Sosiale Konvergensie (2018–hede) |
Alma mater | Universiteit van Chili (het nie gegradueer nie) |
Handtekening |
Gabriel Boric Font (Punta Arenas, gebore 11 Februarie 1986), is 'n Chileense sentrum-linkse politikus.[1] Hy is die huidige president van Chili, synde die kandidaat met die hoogste stemtotaal in die geskiedenis van sy land, en verslaan daarmee die verregse kandidaat José Antonio Kast.[2]
Hy was 'n sleutelleier tydens die studentebetogings in sy land in 2011, en tussen 2014 en 2022 'n lid van die Kamer van Afgevaardigdes van Chili. Hy is oorspronklik van Punta Arenas.[3]
Hy het die presidentskap van Chili op 11 Maart 2022 op die ouderdom van 36 aanvaar; hy is tans die sesde jongste leier in die wêreld..[4]
Boric is op 11 Februarie 1986 in Punta Arenas in die Magallanes-streek van Chili gebore. Hy het twee broers genaamd Simón and Tomás.[5] Gabriel Boric se pa, Luis Boric Scarpa, is 'n chemiese ingenieur wat vir meer as 40 jaar as 'n staatswerknemer by Empresa Nacional del Petróleo (Nasionale Petroleum Maatskappy) gewerk het.[6] Sy ma, María Soledad Font Aguilera, is van Katalaanse afkoms.[7][8]
Boric se familie aan vaderskant het diep wortels in die Magallanes-streek. Sy oupagrootjie, Juan Boric (Ive Borić Barešić) en sy broer Simón (Šime), het in 1885 in Punta Arenas aangekom, en was een van die aanvanklike tien Kroate wat hulle in Magallanes gevestig het.[9] Boric se grootoom, Vladimiro Boric, was die eerste biskop van Punta Arenas.[10] 'n Ander grootoom, Roque Scarpa Martinich, was die eerste intendant van die Magallanes-streek na Chili se militêre diktatorskap. Beide Roque Scarpa en Gabriel Boric se pa was lede van die Christen-Demokratiese Party.[11]
Gabriel Boric het by die Britse skool in sy tuisdorp skoolgegaan.[12][13] Hy het in 2004 na Santiago de Chile verhuis om regte aan die Universiteit van Chili te studeer.[14] Hy het sy kursuswerk in 2009 voltooi, wat saamgeval het met sy aanstelling as die President van die Regskoolstudente-unie. Daarna het hy daarop gefokus om vir sy eindeksamen voor te berei en sy verpligte internskap na te kom. Hy het egter nie die toets in 2011 geslaag nie en besluit om dit nie weer af te lê nie.[15] Boric het nie 'n regsgraad van die universiteit ontvang nie en het in daaropvolgende onderhoude gesê dat hy nooit van plan was om 'n regsloopbaan te volg nie en dat hy eerder 'n skrywer wou word.[16]
In Desember 2011 is hy verkies as president van Universiteit van Chili Studentefederasie.[17] Gedurende sy presidentskap van die studentefederasie het Boric 'n prominente rol gespeel in die tweede fase van die studentebetogings wat in 2011 ontstaan het. Hy het na vore getree het as een van die primêre woordvoerders van die Federasie van Chileense Studente.[18]
In die 2013 parlementêre verkiesing is Boric tot die Kamer van Afgevaardigdes van Chili verkies.[19] Hy is in 2017 herverkies.
Boric het die Apruebo Dignidad se presidensiële voorverkiesing op 19 Julie 2021 gewen en het dus die alliansie se presidentskandidaat vir die verkiesing op 21 November 2021 geword.[20] In die eerste rondte van die verkiesing op 21 November 2021 het Boric die tweede meeste stemme na die verregse kandidaat José Antonio Kast ontvang. Boric is toe deur na die tweede rondte op 19 Desember 2021 wat hy met meer as 55% van die stemme gewen het.[21] Hy is op 11 Maart 2022 as president van Chili ingehuldig.