Galvarino | |
---|---|
| |
Geboortedatum | onbekend |
Geboorteplek | onbekend |
Sterfdatum | 30 November 1557 |
Sterfplek | Millarapue, Goewernment van Chili |
Lojaliteit | Mapuche |
Veldslae/oorloë | Arauco-oorlog |
Galvarino (sterf 30 November 1557) was 'n bekende Mapuche-kryger gedurende die vroeë tydvak van die Arauco-oorlog in Suid-Amerika. Op 8 November 1557 het Galvarino aan die slag van Lagunillas teen die Spaanse goewerneur García Hurtado de Mendoza deelgeneem. Hy en een honderd en vyftig ander Mapuche is deur die Spanjaarde gevange geneem.
As straf vir die opstand word van die gevangenes veroordeel tot die amputasie van hul regterhand en neus. In die geval van leiers, soos hoofman Galvarino, word beide hul hande geamputeer. Hierdie gevangenes word daarna vrygelaat as waarskuwing aan die res van die Mapuche om die weerstand te staak. Mendoza het gehoop dat die Mapuche se militêre leier, generaal Caupolicán, hierdeur geïntimideer sou word om die stryd te laat vaar.
Na sy terugkeer verskyn hy voor Caupolicán en die oorlogsraad. Hy doen 'n oproep vir weerwraak en verskerpte weerstand teen die Spanjaarde. Hy word vereer vir sy dapperheid en benoem as aanvoerder van 'n eenheid. Messe word aan sy stompies geheg en hy het by die veldtog teen die Spanjaarde aangesluit. Gedurende die slag van Millarapue op 30 November 1557 het sy eenheid teen dié van Mendoza te staan gekom. Die slag word deur die Spanjaarde gewen. Drieduisend Indiane sterf en meer as agthonderd word gevange geneem, waaronder Galvarino. Mendoza het hom ter dood veroordeel en hom deur honde laat verskeur.