Die term geluk (om gelukkig te wees) word gebruik in die konteks van ’n geestelike of emosionele toestand, insluitende positiewe of aangename emosies wat kan wissel van tevredenheid tot intense vreugde.[1] Dit word ook gebruik in die konteks van tevredenheid met die lewe, welvarendheid en algemene welsyn.[2]
Sedert die 1960's word navorsing oor geluk op verskeie vakgebiede gedoen, soos sielkunde, geneeskunde en gerontologie (ouderdomsverskynsels).
"Geluk" is die onderwerp van debatte oor die gebruik en betekenis van die term,[3][4] en oor hoe verskillende kulture dit verstaan.[5][6]
Die woord word meestal gebruik in verband met twee faktore:[7]
Die huidige ondervinding van die gevoel van ’n emosie soos plesier of vreugde,[1] of van ’n meer algemene emosionele toestand as ’n geheel.[8] Die Israelse sielkundige Daniel Kahneman het geluk gedefinieer as "wat ek nou en hier ervaar".[9]
’n Taksering van tevredenheid met die lewe, soos lewensgehalte.[10] Volgens Kahneman is dit belangrikes vir mense as huidige ondervindings.[11]
Sommige gebruike van die term sluit albei dié faktore in. Subjektiewe welsyn sluit in ’n mate van huidige ondervindings (emosies, buie en gevoelens) en van tevredenheid met die lewe. Die Amerikaanse sielkundeprofessor Sonja Lyubomirsky het geluk beskryf as "die ondervinding van vreugde, vergenoegdheid of positiewe welsyn, gekombineer met ’n gevoel dat die persoon se lewe goed, betekenisvol en die moeite werd is".[12]
Die filosofie van geluk word dikwels saam met etiek bespreek. Tradisionele Europese gemeenskappe, wat van die Grieke en die Christendom oorgeërf is, het geluk dikwels met moraliteit verbind, of met prestasie in ’n sekere soort rol in ’n sekere soort sosiale lewe. Met die opkoms van individualisme, gedeeltelik danksy Protestantisme en kapitalisme, het die verband tussen plig in ’n gemeenskap en geluk geleidelik verdwyn. Die gevolg was ’n herdefiniëring van die morele terme. Geluk word nie meer gedefinieer met betrekking tot die sosiale lewe nie, maar met betrekking tot individuele sielkunde.
Geluk bly egter ’n moeilike begrip in morele filosofie. Deur die geskiedenis van laasgenoemde was daar wisselings in pogings om moraliteit te definieer in terme van gevolge wat tot geluk lei en in terme wat niks met geluk te doen het nie.[13]
In 2004 het die Amerikaanse historikus Darrin McMahon gesê die klem het mettertyd geskuif van die geluk van deugsaamheid tot die deugsaamheid van geluk.[14]
↑"How Universal is Happiness?" Ruut Veenhoven, Hoofstuk 11 in Ed Diener, John F. Helliwell & Daniel Kahneman (reds.) International Differences in Well-Being, 2010, Oxford University Press, New York, ISBN 978-0-19-973273-9
↑"Archived copy"(PDF). Geargiveer(PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Augustus 2017. Besoek op 10 Oktober 2018.{{cite web}}: CS1 maint: archived copy as title (link)
↑McMahon, Darrin M. (April 2004). "From the happiness of virtue to the virtue of happiness: 400 B.C. – A.D. 1780". Daedalus. 133 (2): 5–17. doi:10.1162/001152604323049343. S2CID57569719.