Geocaching is 'n buitemuurse aktiwiteit, waarin die deelnemers 'n Globale Posisioneringstelsel (GPS) ontvanger of mobiele toestel en ander navigasie tegnieke gebruik om houers, die sogenaamde geocaches of caches, oral in die wêreld weg te steek en te soek.
'n Tipiese cache is 'n klein waterdigte houer wat 'n logboek huisves, waarin die geocachers met hul kodenaam teken en die datum aanteken waarop hulle dit gevind het. Na die ondertekening van die logboek, moet die kas teruggeplaas word presies waar die persoon dit gevind het. Groter houers soos plastiek houers (Tupperware of soortgelyk) of ammunisie kaste kan ook items bevat wat uitgeruil mag word, gewoonlik speelgoed of snuisterye van min finansiële waarde, hoewel die items soms sentimentele waarde het.
Geocaching is soortgelyk aan die 160-jaar-oue spel Letterboxing, wat leidrade en verwysings na landmerke rondom 'n storie gebruik het. Geocaching het begin kort na die verwydering van die selektiewe beskikbaarheid van die Globale Posisioneringstelsel op 2 Mei 2000, omdat die beter akkuraatheid [1] van die stelsel dit moontlik gemaak het om 'n klein houer op 'n spesifieke posisie te plaas. Die eerste opgetekende plasing van 'n cache met behulp van GPS het plaasgevind op 3 Mei 2000, deur Dave Ulmer van Beavercreek, in Oregon.[2] Die posisie, 45°17.460′N 122°24.800′W / 45.291000°N 122.413333°W, was in 'n Usenet nuusgroep gepubliseer. Teen 6 Mei 2000 was dit twee keer gevind en een keer aangeteken deur Mike Teague van Vancouver, Washington. Volgens Dave Ulmer se boodskap was hierdie cache 'n swart plastiek emmer wat gedeeltelik begrawe was en het sagteware, video's, boeke, kos, geld, en 'n kettie bevat. Vandag is daar 'n Geocache en gedenkplaat met die naam Original Stash Tribute Plaque op die plek waar Ulmer die eerste cache geplaas het.[3]