in die Getty Villa, Pacific Palisades
Kalifornië
Verenigde State
Stigting
Versameling: 1954
Getty Villa: 16 Januarie 1974
Heropening na uitbreiding: 2006
Tipe
Kunsmuseum
Versamelings
44 000 Griekse, Romeinse en Etruskiese antikwiteite
Direkteur
Timothy Potts
Webtuiste
www.getty.edu
Die Getty Villa in Pacific Palisades, Los Angeles, Kalifornië, VSA, geleë sowat 25 km wes van Los Angeles se middestad, is een van twee liggings van die J. Paul Getty Museum (naas die moderne Getty Center-kompleks). Die villa dien as opvoedingsentrum en museum en het hom op die studie van die kuns en kultuur van antieke Griekeland, Rome en Etrurië toegespits. Die museum verwelkom jaarliks 'n halfmiljoen besoekers wat gratis toegang geniet (mits toegangskaartjies vooraf bespreek word).
Die versameling behels tans 44 000 Griekse, Romeinse en Etruskiese antikwiteite wat uit die tydperk tussen 6 500 v.C. en 400 n.C. dateer, waaronder die Herakles van Lansdowne en die Oorwinnende Jeug. Die meestersprogram in Argeologiese en Etnografiese Konservering word gemeenskaplik deur die Universiteit van Kalifornië te Los Angeles (UCLA) en die Getty Museum op die plaaslike kampus aangebied.
Die Getty Villa se kunsversameling word sowel aanlyn in die GettyGuide asook deur oudio-toere gedokumenteer en aangebied.
Die Villa is in die vroeë 1970's ontwerp deur argitekte in samewerking met J. Paul Getty volgens die voorbeeld van 'n 1ste eeuse Romeinse landhuis, die Villa dei Papiri, wat teen die stadsrand van Herculaneum regstreeks aan die kus geleë was en as een van die indrukwekkendste voorbeelde van antieke villa-boukuns beskou word .[1] Groot dele van die Villa dei Papiri, wat blykbaar aan Lucius Calpurnius Piso Caesoninus behoort het, die skoonvader van Gaius Julius Caesar en 'n bekende versamelaar van literatuur op papirusrolle[2], is tydens die uitbarsting van die vulkaan Vesuvius in 79 n.C. onder as begrawe. In 1709 is die Villa dei Papiri herontdek, maar tot vandag nie volledig uitgegrawe nie. So berus baie van die Getty Villa se argitektoniese besonderhede, insluitende die landskapstuin, op ander antieke Romeinse woonhuise in Pompeii, Herculaneum en Stabiae.
Desondanks is die Villa dei Papiri een van die bekendste argeologiese ontdekkings in antieke Herculaneum. Die villa het sy Italiaanse naam aan sy unieke biblioteek met meer as 1 000 papirusrolle te danke - die enigste biblioteek van sy soort wat bewaar gebly het.[3]
J. Paul Getty het die villa nooit met sy eie oë gesien nie, maar konstruksiewerk vanuit sy woning in Engeland deur middel van verslae, foto's en rolprente gemonitor en besluite van grondleggende betekenis geneem asook na kleiner besonderhede omgesien. Twee jaar nadat die museum in 1974 geopen is, is die sakemagnaat in Engeland oorlede.
J. Paul Getty het bewus vir die rekonstruksie van 'n antieke Romeinse villa gekies om sy versameling van antieke kuns te vertoon. Sodoende het hy 'n tradisie gevolg wat in sy aangenome tuisland Engeland in 'n groot aantal voorbeelde verwesenlik is. Ook welvarende Amerikane het vir hul kunsversamelings historiserende palazzi of statige herehuise in 'n verskeidenheid historiese Europese style laat bou - Venesiaans (Isabella Stewart Gardner in Boston), Frans (Henry Clay Frick in New York), Engels (Henry E. Huntingdon in San Marino) of Spaans (William Randolph Hearst in San Simeon).[4]
Die miljoenêr John D. Rockefeller het selfs 'n groot deel van die fortuin, wat hy as oliemagnaat gemaak het, vir 'n verskeidenheid musea geskenk wat as historiese rekonstruksies verwesenlik is. Een van die bekendste projekte, wat danksy Rockefeller se donasies moontlik gemaak is, is The Cloisters in New York, 'n kompleks van oorspronklik Franse kloostergeboue en binnehowe uit die Middeleeue wat op 'n heuwel langs die Hudsonrivier ontstaan het. Na 'n soortgelyke museum word verwys met die Franse vakterm musée d'ambiance - en beskryf die poging om vir die besoeker die oorspronklike historiese boustyl, omgewing en atmosfeer te herskep, terwyl hy gelykertyd gebruik kan maak van alle geriewe van 'n moderne museumgebou.
Romeinse villa's en die landelike lewe met otium (kunsvolle en intellektuele vryetydsbesteding en ontspanning), wat daarmee verbind word, neem 'n belangrike plek in die oorgelewerde Latynse literatuur in, soos in die beskrywings van digters soos Statius en prosaskrywers soos Vitruvius en Plinius die jongere. Hierdie tekste het sedert die Renaissance-tydperk steeds weer die verbeelding van argitekte gewek. Die herontdekking van villa's in Pompeii en Herculaneum in die 18de eeu was die inspirasie vir pogings om historiese rekonstruksies te bou. Koning Lodewyk I van Beiere het 'n Pompejaanse huis vir homself in Aschaffenburg laat oprig, terwyl prins Albert 'n soortgelyke rekonstruksie vir sy eggenote Victoria in die tuin van die Buckingham-paleis laat bou het.