Geïsoleerde volke, ook ongekontakte volke genoem, is gemeenskappe wat óf vrywillig óf weens omstandighede sonder enige kontak met die buitewêreld leef. Daar is min mense wat nog geen kontak met die beskawing gehad het nie. Aktiviste vir die regte van inheemse volke doen ’n beroep dat sulke groepe alleen gelaat word omdat kontak sal inbreuk maak op hul reg op selfbeskikking.[1] Verder kan geïsoleerde volke ’n gebrek hê aan immuniteit teen algemene siektes, wat ’n groot deel van hul bevolking ná kontak kan uitwis.[2][3]
In 2013 is geraam daar is meer as 100 geïsoleerde stamme in die wêreld, hoofsaaklik in die digte woude van Suid-Amerika en Nieu-Guinee, terwyl die Sentinelese (van die Andaman-eilande, Indië) die mees afgesonderde groep ter wêreld is.[4] Kennis oor die bestaan van sulke volke word meestal opgedoen vanweë ongereelde en soms gewelddadige botsings met buurstamme en deur lugfotografie.
Geïsoleerde volke fassineer die beskaafde wêreld en die idee van toeroperateurs wat avontuurtoere aanbied wat na sulke groepe soek, is ’n omstrede saak. ’n BBC-dokumentêr is in 2006 gemaak van ’n Amerikaanse toeroperateur wat spesialiseer in begeleide toere om geïsoleerde volke in Wes-Papoea te "ontdek".[5] In 1971 het die BBC ’n dokumentêr, A Blank on the Map, gemaak wat deur sir David Attenborough aangebied is en waarin die eerste keer kontak gemaak is met die Biamivolk van Papoea-Nieu-Guinee.[6][7]
Die Sentinelese van Noord-Sentineleiland, wat deel is van die Andamaneilande in die Golf van Bengale, verwerp enige kontak. Hul taal verskil aansienlik van ander tale van die Andamaneilande,[8] wat daarop dui dat hulle al duisende jare lank afgesonder is. Hulle word deur kenners die mees geïsoleerde volk in die wêreld genoem,[1] en hulle sal dit waarskynlik bly.[8] Tydens Indië se 2001-sensus is ’n ekspedisie in twee dele op 23 tot 24 Februarie 2001 gehou. Die eerste groep het 31 Sentinelese getel en die tweede groep 39.[9] Helikopteropnames ná die aardbewing en tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan het aangetoon dat die Sentinelese oorleef het.[10] Ná die aardbewing het Noord-Sentineleiland en die nabygeleë Constance-eiland saamgesmelt. Die plaaslike Andaman- en Nicobar-administrasie het ’n beleid van dophou, maar geen kontak nie, om te verseker dat geen stropers of siektes die eiland bedreig nie.
Nog ’n Andamanese stam, die Jarawas, woon op die hoofeiland. Hulle bestaan na raming uit sowat 400 mense.[11]
OP 18 Januarie 2007 het Fundação Nacional do Índio, Brasilië se Nasionale Indiaanse Stigting (Funai), berig daar is 67 bevestigde gevalle van geïsoleerde volke in die land, terwyl daar in 2005 net 40 was.[12] Dié land het nou die hoogste getal volke wat in isolasie woon.
Daar is sewe reservate (inheemse gebiede) eksklusief vir geïsoleerde volke:
In onlangse jare het die bestaan van groepe van een of twee mense onder die media se aandag gekom. Een van hulle, bekend as "Die Gatman", woon alleen in 'n gebied van 8 000 hektaar, waar hy talle gate gegrawe het om te jag of weg te kruip.[13] Sy gebied is later met 3 000 ha vergroot.[14] Nog talle geïsoleerde stamme woon in ander volke se reservate in die deelstate Amazonas, Rondinia, Para, Acre, Mato Grosso, Amapa, Maranhao, Roraima, Tocantins, Goias en Minas Gerais.
In 2006 is die teenwoordigheid van vyf geïsoleerde volke in Bolivia bevestig, maar nog drie bestaan vermoedelik. Die bevestigde stamme is die Ayoreo in die nasionale park Kaa-Iya (sowat vyf families), die Yurakare in Santa Cruz en Beni (onder bedreiging van dwelmhandelaars), die Pacahuara in die Chacobo-reservaat (ook sowat vyf families), ’n groep Araona in die Araona-reservaat (kontak is met sowat 100 gemaak) en die Toromona in die nasionale park Madidi (wat baie afgeleë is). Kontak is nou met die meeste Mbya-Yuqui in die Yuqui-reservaat en Rio Usurinta gemaak. Bolivië het in 2005 ’n verklaring onderteken wat die basiese regte van hierdie volke erken.
Die drie onbevestigde gevalle is die Mosetene, Tsimanes en Chacobo.
Weens voortdurende konflik bied Colombia min beskerming vir sy geïsoleerde volke. Een groep is die Carabayo-Aroje. Dit is onseker of enige lede van die Yari nog lewe. Kontak is in 2003 met die Nukaak Maku gemaak en 65% van hulle is weens siektes dood. Sowat twee tot drie dosyn woon nog in isolasie.
Dit is onbekend of enige lede van die Tagaeri oor is – na bewering is hulle in groot getalle uitgewis deur hul vyandelike bure, die Taromenane. Sowat 30 lede van laasgenoemde groep is in 2003 weer vermoor deur die Huaorani uit wraak vir die moord op ’n Huaorani-jagter. In Januarie 2007 het die president van Ecuador die suidelike deel van Yasuni ’n verbode gebied verklaar om geïsoleerde volke te beskerm.
In 2013 is nog 20 lede van die geïsoleerde Taromenane deur gekontakte Indiane vermoor uit wraak vir ’n vorige moord.
In Guiana, Frans-Guiana en Suriname was daar in 2013 geen bekende geïsoleerde volke oor nie,[15] maar in Paraguay,[16] Peru[17] en Venezuela[18][15] word nog verskeie sulke groepe aangetref.
In 1984 is ’n groep Pintupi, wat ’n tradisionele jagter-versamelaarslewe lei, in die Gibsonwoestyn in Wes-Australië ontdek. Hulle het vir die eerste keer met mense van ’n Westerse beskawing kennis gemaak en is vermoedelik die laaste geïsoleerde volk in Australië.[19]
Groot dele van Nieu-Guinee is onontdek deur wetenskaplikes en antropoloë weens die uitgestrekte woud- en bergagtige streke. Bekende inheemse stamme van Papoea-Nieu-Guinee het baie min kontak met plaaslike owerhede buiten dat die owerhede weet wie hulle is.
Die Indonesiese provinsies Papoea en Wes-Papoea op die eiland Nieu-Guinee is die tuiste van ’n geraamde 44 geïsoleerde stamme.[20] Hulle word ook op die Oos-Indonesiese eilande aangetref.
Die geïsoleerde groepe kom in die volgende streke voor:[21]
Die laaste geïsoleerde volk in Noord-Amerika is vermoedelik die Lacandon-Yahi, met wie in die vroeë deel van die 20ste eeu kontak gemaak is. Hulle het geweet van die land se kolonisasie, maar het direkte kontak vermy en verkies om net met ander inheemse groepe interaksies te hê.
Die Lacandon-Maja was die laaste groep in Mexiko met wie kontak gemaak is. Hulle is vermoedelik ’n voormalige Majabevolking wat na die Lacandonwoud van die Yucatán-skiereiland getrek het om Spaanse kolonisasie vry te spring.[22] Hulle was van die 17de eeu af heeltemal van die buitewêreld afgesny.[23]
Aanvanklike kontak is in 1924 gemaak, maar hulle is eers dekades later in die beskawing opgeneem. Uitgebreide ontbossing in 1993 het meegebring dat hul getalle aansienlik gekrimp het. In 1996 was daar net 500 van hulle oor.[24]
'n Paar geïsoleerde volke kom ook waarskynlik in die ontoeganklike reënwoude van Sentraal-Afrika voor.[25]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: ander (link)