Die term ghat word in groot dele van die noorde van Suid-Asië gebruik en verwys na ’n reeks trappe wat aflei na die water, veral ’n heilige rivier. In Bengaalssprekende lande kan dit lei na iets so klein soos ’n dammetjie of so groot soos ’n belangrike rivier.
Ghats kom veral voor in stede aan heilige riviere soos Benares en Haridwar waar trappe aflei na die Gangesrivier. Dit word ook vir bergreekse soos die Wes- en Oos-Ghats gebruik. In tale soos Marathi, Hindi, Gujarati en Kannada word die term "ghat" ook gebruik vir ’n moeilike bergpas.[1] Een so ’n pas is die Bhor-ghat, wat die dorpe Khopoli en Khandala noord van Mumbai verbind.
Die woord "ghat" word verduidelik deur verskeie Drawidiese stamwoorde soos katta en gattu (Telugu; dam, oewer), kattu (Tamil; dam, rif, kant van ’n berg, verhoogde pad of brug) en gatta (Kannada; bergreeks). Dié etimologie is deur Thomas Burrow voorgestel en deur Manfred Mayrhofer en Asko Parpola onderskryf.[2]
Die talle belangrike ghats aan die Ganges is gewoonlik bekend as die "Benares-ghats" of die "ghats van die Ganges". In die Wes-Indiese deelstaat Madhya Pradesh is daar ook belangrike ghats aan die Narmadarivier. Sulke ghats word gebruik vir óf alledaagse doeleindes soos om te was óf godsdiensdoeleindes soos rituele reiniging. Mense wat op die trappe woon, word ook ghats genoem.
Die woord word ook buite die Indiese subkontinent gebruik waar daar Indiese gemeenskappe is. So word "ghaut" in George Town, Penang, Maleisië, gebruik vir die verlengings van strate wat voorheen in ghats geëindig het voor die aanwinning van die kaaigebied.
Ghats vir die verassing, of shmashana, van lyke word ook langs water aangetref; die as word deur die riviere weggespoel. Van die belangrikstes is die Nigambodh- en die Raj-ghat in Delhi aan die Yamuna (laasgenoemde is waar Mohandas Gandhi en talle politieke leiers ná hom veras is) en die Manikarnika-ghat in Benares aan die Ganges.[3]