Gideon Toury | |
![]() | |
Gebore | Haifa, Israel | 6 Junie 1942
---|---|
Oorlede | 4 Oktober 2016 (op 74) Tel Aviv, Israel |
Nasionaliteit | ![]() |
Vakgebied | Beskrywende vertaalkunde |
Alma mater | Universiteit van Tel Aviv |
Bekend vir | Descriptive Translation Studies and Beyond, Vertaalnorme, Pseudo-vertaling |
Gideon Toury (Hebreeus: גדעון טורי) (* 1942 - † 2016) was ’n Israelse vertalingsgeleerde en professor in Digkunde, Vergelykende Literatuurstudies en Vertaalstudies by die Universiteit van Tel Aviv, waar hy die M. Bernstein-professoraat in Vertaalteorie het beklee. Gideon Toury was ’n baanbreker op die gebied van Deskriptiewe Vertaalstudies.[1]
Gideon Toury is in Haifa gebore, die eerste kind van die geskiedkundige Jacob Toury (1915–2004) en sy vrou Eve.[2] Hy het sy hoërskoolloopbaan in 1960 aan die Reali-skool in Haifa voltooi. Ná hoërskool het hy sy militêre diens in die Nahal-brigade en die valskermtroepe gedoen en is as deel van sy opleiding na ’n kibboets gestuur om met die boerdery te help.[3] Hy het ses jaar daar gewoon en hy was op die ou end die redakteur van die kibboetskoerant en het kulturele geleenthede georganiseer. Hierdie ondervinding het hom gehelp om ’n werk by ’n kindertydskrif te kry, waar hy sy eerste vertalings gedoen het, en later was hy die redakteur van die Hebreeuse uitgawe van Popular Photography.[4]
Hy het in 1970 met lof in Hebreeuse taalkunde en literatuur aan die Universiteit van Tel Aviv gegradueer en het in 1977 ’n doktorsgraad in Algemene Literatuurwetenskap aan dieselfde universiteit behaal. Die onderwerp van sy tesis was Translational Norms and Literary Translation into Hebrew, 1930–1945. In 1980 het hy die Hans Christian Andersen-toekenning gewen vir sy vertaling in Hebreeus van C.S. Lewis se The Voyage of the Dawn Treader.[5] Hy was die eerste professor in CETRA, die navorsingsprogram in Vertaalstudies wat in 1989 deur Jose Lambert geskep is.[6] In 1999 is hy erelidmaatskap van die UNESCO-professoraat van Vertaalstudies by die Comenius-universiteit, Bratislava, Slowakye, gegee.[7] In 2000 het hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Middlesex, Londen, ontvang.
Van 1970 tot 1983 het hy saam met Benjamin Harshav, Itamar Even-Zohar en Menachem Perry aan die tydskrif Literature gewerk en in 1989 het hy Target, International Journal of Translation Studies gestig en sedertdien is hy die hoofredakteur daarvan. Hy is ook die Hoofredakteur van die Benjamins Translation Library.[8] Hy was ook ’n lid van die redaksionele komitee van The Translator en Translation Studies Abstracts totdat hy "ontaangestel" is ná Mona Baker se besluit om Israeli-akademici te boikot.[9]
Die vernaamste navorsing is oor vertaalteorie en deskriptiewe vertaalstudies, met nadruk op die geskiedenis van die Hebreeuse Bybelvertaling tot die hede.
Volgens Toury is daar preskriptiewe en deskriptiewe studies. Preskriptiewe, of voorskriftelike, benaderings het as mikpunt om reëls te formuleer wat deur enigiemand wat tekste van ’n spesifieke soort skep. Dit is toegespits daarop om die beste of korrekte oplossings te vind. Deskriptiewe, of beskrywende, benaderings ondersoek bestaande tekste en beskryf die reëls wat hulle skynbaar volg.
Hy het die term "translation norms" (vertaalnorme) gevorm, wat verborge reëls beskryf wat deur die meerderheid gevolg word wat ontdek word deur deskriptiewe waarneming van vertalings. Hulle word nie as voorskriftelike reëls verstaan nie, maar as norme wat in ’n spesifieke konteks geld. Norme verander dus volgens tyd en kultuur, en gevolglik kom dieselfde probleem keer op keer in vertaling voor.
Hy het drie boeke uitgegee, was die redakteur van etlike bundels en talle artikels, in Engels sowel as Hebreeus, op die gebied van vertaalteorie en vergelykende literatuurstudies. Sy artikels is ook in baie ander tale vertaal en hy is self ’n aktiewe vertaler (30 boeke en baie artikels).