Glenn Herbert Gould[1][2] (/ɡuːld/; 25 September 1932 – 4 Oktober 1982) was 'n Kanadese pianis wat een van die mees bekende en gevierde klassieke pianiste van die 20ste eeu geword het.[3]
Hy was bekend as 'n uitmuntende interpreteerder van die werke vir klavesimbel van Johann Sebastian Bach. Gedurende sy opvoerings het Gould uitgeblink met 'n merkwaardige tegniese begaafdheid en die kapasiteit om die kontrapuntale oftewel polifoniese teksture van Bach se musiek te artikuleer.
Gould het die Romantiese standaardklavierliteratuur deur Frederic Chopin, Franz Liszt en andere verwerp ten gunste van Barok, Renaissance, laat-romantiese en moderne komponiste. Alhoewel sy opnames oorheers is deur Bach en Beethoven, was Gould se repertoire divers, insluitende werke deur Wolfgang Amadeus Mozart, Joseph Haydn, Johannes Brahms en voor-Barokse komponiste soos Jan Pieterszoon Sweelinck, Orlando Gibbons en William Byrd, en sulke 20de eeuse komponiste soos Paul Hindemith, Arnold Schönberg en Richard Strauss. Gould was bekend vir verskeie eksentrisiteite; van sy onortodokse musikale interpretasies en maniërismes by die sleutelbord tot aspekte van sy leefstyl en gedrag. Hy het op die ouderdom van 31 jaar opgehou met konsertuitvoerings ten einde te konsentreer op studio-opnames en ander projekte.
Gould was ook 'n skrywer, vervaardiger, en dirigent. Hy was 'n uiters produktiewe bydraer tot musiekjoernale, waarin hy musiekteorie bespreek het en sy musikale filosofie uiteengesit het. Gould het in regstreekse radio- en televisie-uitsendings opgetree, en het drie musique concrète-radiodokumentêre oor afgeleë gebiede van Kanada vervaardig, die sogenaamde Solitude Trilogie.[4]