Goalkeeper CIWS

Die Goalkeeper CIWS kanon van HMS Invincible vuur op 'n teiken in die Engelse Kanaal.

Die Goalkeeper CIWS is 'n Nederlandse nabyverdediginingwapenstelsel (Engels: Close In Weapon System - CIWS) wat in 1979 bekendgestel is. Dit is 'n outonome en volledig outomatiese wapenstelsel vir kortafstandverdediging van skepe teen hoogsmanoeuvreerbare missiele, vliegtuie en vinnig-manoeuvreerbare oppervlakvaartuie. Sodra dit geaktiveer is, onderneem die stelsel outomaties die hele lugverdedigingsproses van toesig en opsporing tot vernietiging, insluitend die keuse van die volgende prioriteitsteiken.

Ontwikkeling

[wysig | wysig bron]

Hollandse Signaalapparaten B.V., kortweg Hollandse Signaal of Signaal (nou Thales Nederland) het in 1975 aan die Goalkeeper begin werk en dit rondom die GAU-8-kanon ontwikkel. 'n Prototipe, die EX-83, is in 1979 vir die eerste keer aan die Koninklike Nederlandse Vloot gedemonstreer.

In 2012 het die Nederlandse ministerie van verdediging aangekondig dat die Goalkeeper CIWS wat deur die Nederlandse Vloot gebruik word, radaropgraderings, meganiese verbeterings, nuwe hoë-presisie breekbare ammunisie en 'n nuwe elektro-optiese opsporingstelsel sal ontvang. Die stelsel se oppervlakmodel sal ook verbeter word om hoëspoedbote en vinnige aanvalsvaartuie teen te werk. Hierdie opgraderings sal die stelsel meer bekwaam maak om skepe teen die nuutste bedreigings soos moderne anti-skeepsmissiele te verdedig, meer effektief in kusomgewings en minder kwesbaar vir wanfunksionering. Dit verleng ook die lewensduur van die stelsel tot ten minste 2025. Die eerste van 16 stelsels sal deur Thales Nederland opgegradeer en getoets word, die ander by die vlootbasis in Den Helder.[1] Die opgradering is die Onderhoudsmodifikasie genoem.

Die ontwikkeling van die Onderhoudsmodifikasie het nie vlot verloop nie. Die koste verbonde aan die opgradering het in 2015 met 700 000 euro bo die beplande begroting gestyg, en het in daardie jaar tot 'n verlies vir Thales Nederland gelei.[2] Nietemin was die eerste opgradering teen 2016 voltooi en vir toetsdoeleindes aan boord van die HNLMS Evertsen geplaas. Die nuut opgegradeerde Goalkeeper CIWS bring talle verbeterings en toevoegings tot die stelsel. Onder andere is nuwe kleur- en infrarooikameras, 'n nuwe beheerpaneel, nuwe sagteware en rekenaars, en die vermoë om verskeie Goalkeeper CIWS-stelsels gelyktydig saam met mekaar te laat werk.[3]

In Maart 2018 het die opgegradeerde Goalkeeper CIWS die see-aanvaardingstoets foutloos geslaag. Die Onderhoudswysiging is bedoel om die werkverrigting van die Goalkeeper-stelsel weereens op die hoogste operasionele status te bring, in ooreenstemming met die Koninklike Nederlandse Vloot se ambisie om sy bemanning en skepe optimaal te beskerm tydens oorsese ontplooiings.[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Goalkeeper update program for Netherlands". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2012. Besoek op 3 April 2013.
  2. "Thales lijdt miljoenenstrop". Tubantia. 23 Oktober 2015. Besoek op 20 Maart 2018.
  3. "Eerste gemoderniseerde Goalkeeper klaar voor tests". marineschepen.nl. 22 Julie 2016. Besoek op 20 Maart 2018.
  4. "Thales Goalkeeper Passes Sea Acceptance Trials Following Upgrade". Navy Recognition. 20 Maart 2018. Besoek op 20 Maart 2018.