Gorgonzola | ||
Oorsprong | Gorgonzola, Italië | |
Melkbron | Koeie | |
Eienskappe | ||
Gepasteuriseer | Ja | |
Tekstuur | Sag, krummelrig | |
Veroudering | 3-4 maande | |
Voedingswaarde (per 100 g) | ||
Vetinhoud | 25-35% |
Gorgonzola is ’n Italiaanse bloukaas wat van onafgeroomde koeimelk gemaak word. Dit kan botteragtig maar ferm wees, asook krummelrig en taamlik sout, met ’n skerperige smaak vanweë die blou are.
Die kaas word vandag hoofsaaklik in die Noord-Italiaanse streke Piëmont en Lombardye vervaardig. Volroommelk word gebruik en bakterieë en spore van die swam Penicillium glaucum word bygevoeg. Soms word Penicillium roqueforti, wat in die maak van Roquefort gebruik word, ook bygevoeg. Die wei word dan verwyder en die wrongel teen lae temperature verouder.
Tydens die verouderingsproses word metaalpenne vinnig ingesteek en verwyder; dit skep lugkanale, wat toelaat dat die skimmel groei en die kaas sy kenmerkende blou are gee.
Gorgonzola word gewoonlik tussen drie en vier maande verouder. Die lengte van die verouderingsproses bepaal hoe hard dit word; dit word harder hoe ryper dit word. Daar is twee soorte gorgonzola, wat afhang van hul ouderdom: gorgonzola dolce (ook soet gorgonzola genoem) en gorgonzola piccante.
Volgens Italiaanse wetgewing kan net kase wat in sekere provinsies gemaak word, die naam gorgonzola hê.
Gorgonzola kan op baie maniere geëet word. Dit kan in die laaste stadiums van die bereiding in ’n risotto gesmelt word, of saam met polenta voorgesit word.
Pasta met gorgonzola word oral in Italië geniet; dit gaan gewoonlik saam met kort pastasoorte soos penne. Dit word ook op ’n pizza geniet,[1] veral vierkaaspizza, en soms in slaaie.