Die Goue Horing (Turks: Haliç of Altın Boynuz; Grieks: Χρυσόν Κέρας, Chrysón Kéras) is ’n historiese inham van die Bosporus wat die stad Istanboel verdeel en ’n natuurlike hawe vorm wat duisende jare lank beskutting gebied het aan Griekse, Romeinse, Bisantynse, Ottomaanse en ander skepe.
Dis ’n monding in die vorm van ’n krom swaard wat by die Bosporus aansluit net waar dit in die See van Marmara inloop, en so word ’n skiereiland gevorm waarvan die punt Ou Istanboel is (die antieke Bisantium en Konstantinopel).
Die Afrikaanse en Griekse naam beteken dieselfde, maar die betekenis van die "goue" is onbekend. Talle historiese voorvalle het hier plaasgevind en die dramatiese tonele was al die onderwerp van ontelbare kunswerke.
Die Goue Horing is 7,5 km lank en op sy breedste 750 m. Die maksimum diepte, waar dit in die Bosporus invloei, is sowat 35 m.
Daar is vier brûe oor die inham. Hulle is, stroomaf, Haliç-brug (letterlik Goue Horing-brug); Eski Galata-brug (letterlik Ou Galata-brug, aangesien die oorspronklike Galata-brug in stukke hierheen vervoer en weer aanmekaargesit is nadat ’n brand dit in 1992 beskadig het; die huidige Galata-brug wat dit vervang het, is in 1994 voltooi); Atatürk-brug en Galata-brug. ’n Vyfde brug word tans gebou.[1]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Goue Horing. |