Groenlands kalaallisut | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [kaˈlaːɬːisut] | |
Gepraat in: | Koninkryk van Denemarke | |
Gebied: | Arktika | |
Totale sprekers: | 57 000[1] | |
Taalfamilie: | Eskimo-Aleoeties Eskimo Inuïties Groenlands | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Nordiese Raad | |
Gereguleer deur: | Groenlandse Taalsekretariaat Oqaasileriffik | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | kl
| |
ISO 639-2: | kal
| |
ISO 639-3: | kal
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Groenlands (kalaallisut, [kaˈlaːɬːisut]) is 'n Eskimo-Aleoetiese taal en sedert 2009 die amptelike taal van Groenland, 'n land binne die Koninkryk van Denemarke. Die tekste van Groenland se nasionale leuse en volkslied, Nunarput utoqqarsuanngoravit en Nuna asiilasooq onderskeidelik, is in Groenlands. Groenlands is nouverwant aan die Inuïtiese tale, maar word anders as hulle sedert die Deense kolonisasie in die 1700's met die Latynse alfabet geskryf.
Groenlands het sowat 57 000 moedertaalsprekers en is die taal van Groenland se inheemse Inuïete. Dit is verreweg die belangrikste van die Inuïtiese tale en die enigste wat amptelike status geniet. Groenlands bevat drie dialekte (volgens moedertaalsprekers): Kalaallisut (Wes-Groenlands, sowat 44 000), Tunumiisut (Oos-Groenlands, sowat 3 000) en Inuktun of Avanersuaq (Noord-Groenlands, sowat 800). Naas Groenland word Groenlands nog deur emigrante in Denemarke gepraat, waar dit 'n erkende minderheidstaal is.
Bekende Afrikaanse leenwoorde uit Groenlands sluit anorak (aannoraq, afgelei van anori vir "wind") en kajak (qajaq) in. Groenlands is nes soos Afrikaans en Duits bekend vir die skepping van lang woorde. Nuwe woorde word gewoonlik uit Groenlandse wortels saamgevoeg, maar veral in die moderne taalgebruik word hulle uit Deens of Engels ontleen.