Halusinasie | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
"My oë op die oomblik van die spookgestaltes", deur August Natterer, ’n Duitse kunstenaar wat baie kunswerke van sy hallusinasies geteken het. | ||
ICD-10 | R44 | |
ICD-9 | 780.1 | |
DiseasesDB | 19769 | |
MedlinePlus | 003258 | |
MeSH | D006212 | |
Mediese waarskuwing |
’n Halusinasie is ’n waarneming sonder ’n eksterne stimulus wat die eienskappe van ’n werklike waarneming het. Hallusinasies is helder en duidelik, en word ervaar as geleë in die eksterne ruimte. Hulle kan onderskei word van verskeie verwante verskynsels, soos ’n droom, wat voorkom as iemand slaap; ’n illusie, wat ’n misvormde of verkeerd vertolkde ware waarneming is; en verbeelding, wat nie ware waarnemings naboots nie en willekeurig beheer kan word.[1] Hallusinasies verskil ook van waanbeelde, waar ’n bykomende (en gewoonlik absurde) betekenis aan ’n korrek waargenome en vertolkde stimulus gegee word.
Hallusinasies kan met enige sintuig waargeneem word – dit kan gesien, gehoor, gevoel, geruik en geproe word.
’n Ligte vorm van hallusinasie is ’n "steuring", wat ook met al die sintuie waaergeneem kan word. Dit kan iets wees soos om ’n beweging uit die hoek van jou oog te sien of sagte stemme te hoor. Gehoorhallusinasies kom baie algemeen in skisofrenie voor. Hulle kan goedgunstig wees (en die persoon goeie dinge oor hulleself vertel) of kwaadwillig (en die persoon vloek, ensovoorts).
Hallusinasies wanneer mense deur die slaap is, soos wanneer hulle aan die slaap raak of wakker word, word as normaal beskou. Hallusinasies word ook verbind met dwelmgebruik (veral sekere hallusinogene), te min slaap, psigose, senuwee-aandoenings en delirium tremens.
Die woord "hallusinasie" is afgelei van die Latynse woord alucinari, "om in die gedagtes rond te dwaal".
Hallusinasies kan in verskeie vorme tot uiting kom.[2] Verskillende vorme raak verskillende sintuie. Soms geskied meer as een vorm gelyktydig, en dit skep ’n veelvoudige sintuiglike hallusinasie vir die persoon wat dit ondervind.
’n Visuele hallusinasie is die waarneming van ’n eksterne visuele stimulus waar geen stimulus bestaan nie.[3] ’n Aparte, maar soortgelyke, verskynsel is ’n visuele illusie, wat die verwringing van ’n werklike eksterne stimulus is. Visuele hallusinasies kan eenvoudig of kompleks wees:
Die verskil kan aangedui word met die hallusinasie van ’n kameelperd: ’n Eenvoudige visuele hallusinasie is ’n beeld wat min of meer die vorm van ’n kameelperd het (en dus soos ’n kameelperd lyk), terwyl ’n komplekse visuele hallusinasie ’n lewensgetroue beeld van ’n kameelperd is (en dus onmiskenbaar ’n kameelperd is).
Ouditiewe hallusinasies (ook bekend as "parakoesie")[4] is die waarneming van klank sonder ’n eksterne stimulus. Ouditiewe hallusinasies is die algemeenste vorm van hallusinasies.[5] Dit kan in ’n elementêre en komplekse vorm verdeel word.
Nog ’n tipiese steuring waar ouditiewe hallusinasies algemeen is, is dissosiale persoonlikheidsteuring. By skisofrenie word stemme gewoonlik waargeneem as buite die persoon, maar in dissosiatiewe steurings word hulle ervaar as komende van binne die persoon: dus as dat hulle kommentaar in die persoon se kop lewer in plaas van stemme agter sy rug. Die diagnose om tussen skisofrenie en dissosiatiewe steurings te onderskei, is moeilik vanweë die baie oorvleuelende simptome, soos hallusinasies.[6] Mense wat nie aan diagnoseerbare geestesiektes ly nie, kan egter ook soms stemme hoor.[7]
Musiekhallusinasies is ook redelik algemeen in terme van komplekse ouditiewe hallusinasies en kan talle oorspronge hê, soos gehoorverlies, ’n sekere soort epilepsie,[8] arterioveneuse wanfunksie,[9] beroerte, gewasse, ensovoorts.[10]
’n Groot verbuik van kafeïen is al verbind met ’n toename in die waarskynlikheid dat iemand ouditiewe hallusinasies kan kry. ’n Studie by die La Trobe-universiteit se Skool vir Sielkundewetenskappe het bevind dat net vyf koppies koffie per dag (sowat 500 mg kafeïen) die verskynsel kan veoroorsaak.[11]
Bevelshallusinasies is hallusinasies in die vorm van bevele; hulle kan ouditief wees, of in ’n persoon se bewussyn.[12] Die inhoud kan wissel van onskuldig tot bevele om jouself of iemand anders skade te berokken.[12] Dit word dikwels met skisofrenie verbind. Mense wat bevelshallusinasies hoor, kan daarop reageer of nie, na gelang van die omstandighede. Niegewelddadige bevele word meer dikwels gehoorsaam.[13] Bevelshallusinasies word dikwels aangevoer as rede vir ’n misdaad, soos manslag.[14]
"Fantosmie" (reukhallusinasies) is die waarneming van ’n reuk wat nie daar is nie,[15] en "parosmie" (reukillusies) is om ’n werklike reuk waar te neem, maar anders as wat dit onthou word.[16] Dit is meestal nie ernstig nie en gaan later self weg.[15] Dit kan baie oorsake hê, soos ’n neusinfeksie, tandprobleme, migraine, kopbeserings, toevalle, beroerte of breingewasse.[15][17]
Gevoelshallusinasies is die illusie van iets wat gevoel word, soos ’n drukking op die vel of ander organe. Een soort gevoelshallusinasie, "formikasie" of krieweling, is die sensasie dat insekte onder die vel rondkruip en word veral verbind met langdurige kokaïengebruik.[18] Dit kan egter ook die gevolg wees van normale hormoonveranderings soos menopouse, kanker, hoë koors of ander toestande.[18]
Smaakhallusinasies kom voor wanneer iemand iets proe sonder ’n stimulus. Dié hallusinasies, wat gewoonlik onaangenaam is, kom redelik algemeen voor by mense met sekere soorte epilepsie.[19][20]
Algemene somatiese (liggaamlike) sensasies van ’n hallusinatoriese aard word ondervind wanneer iemand voel sy liggaam word vermink: gedraai of geskeur of die ingewande word uitgehaal. Ander aangetekende gevalle is van die binnedringing van diere in ’n persoon se interne organe soos slange in die maag of paddas in die rektum. Die algemene gevoel dat iemand se liggaam ontbind, val ook hieronder.[20]
Daar is ’n paar behandelings vir baie soorte hallusinasies. Vir dié wat deur ’n geestesiekte veroorsaak word, moet ’n sielkundige of psigiater gespreek word, en behandeling sal volgens hulle waarnemings geskied. Antipsigotiese medisynes kan gebruik word om siektes te behandel.
Daar is geen wetenskaplike bewyse dat ’n enkele behandeling vir ander oorsake van hallusinasies bestaan nie. Om weg te bly van hallusinogene middels en stimulante, om stresvlakke te beheer, gesond te lewe en genoeg slaap te kry kan die kans op hallusinasies verklein. In alle gevalle van hallusinasies moet mediese advies ingewin word.