Handbal is 'n spansport waar twee spanne van sewe spelers elk (ses veldwerkers en 'n doelwagter) die bal in die opponente se doelgebied probeer ingooi. Die veld is 40 meter lang by 20 meter breed met 'n doelgebied van 2 by 3 meter aan beide kante van die veld. Die doelgebied is soortgelyk, maar kleiner as die wat tydens sokkerwedstryde gebruik word. Maar anders as sokker, word die bal met die hande eerder as die voete hanteer.
Die speelbaan is 'n reghoekige blok van 20 by 40 meter. Die reghoek word in die helfte van die lengte deur 'n halflyn in twee vierkante (20 m by 20 m) verdeel. Aan elke kant van die reghoek is 'n doelhok wat aan die grond of 'n muur daaragter geanker is. Die doelhokke het afmetings van drie meter breed en twee meter hoog en staan loodreg met die grond, parallel met breedte van die baan. Die doelhok-raamwerk moet met twee kontrasterende kleure geverf word wat mekaar afwissel. Dit word dus ‘gestreep’ geverf. Die kleure moet ook nie wegsmelt met die agtergrond nie. Om die doelhok is die doelhok-area. Binne hierdie area mag geen speler buiten die doelwagter kom tydens spel nie. Indien 'n speler dit wel sou doen, en dit vir hom 'n wesenlike voordeel gee, word die bal aan die ander span gegee, wat dan die spel voortsit deur dit af te gooi. 'n Speler mag wel spring, die bal gooi en dan in hierdie area land, solank die bal EERS sy hand verlaat en sy voet dan die grond raak. Die doelhok-area bestaan uit twee kwartsirkels met 'n radius van ses meter met hul middelpunte op die twee randte van die doelhokke en word in die baan deur 'n lyn AB parallel aan die uitlyn verbind. In die middel van die baan is 'n afgemerkte area, waardeur 'n speler moet beweeg om op en af van die baan te gaan indien hy gewissel sou word.
Handbal word deur 'n bal gespeel met 'n omtrek van 52 cm tot 60 cm, afhangend van die spelers se ouderdom en geslag. Die bal kan van leer of kunsstof gemaak word. Spelers speel gewoonlik in eenvormige spandrag wat uit enige gemaklike sportdrag bestaan.
Die spelers hanteer die bal met hulle hande. Hulle mag nie met die bal hardloop nie, maar wel dribbel (bal word tydens hardloop op die grond gehop). Die bal kan dan na 'n ander speler gehop of gegooi word, of in die doelhok ingegooi word. Daar is 'n tegniek in die gooi van die bal, wat by klubs en sommige skole aangeleer kan word. Die tegniek kan op twee maniere toegepas word: uit 'n staande posisie en uit die lug tydens 'n sprong. Die bal word gewoonlik vanuit die lug gegooi, weens die hoogte-voordeel wat daaruit verkry word. Die doelwagter kan ook as normale speler optree deur uit die doelhok-area te beweeg. Hy mag egter nie met die bal in sy beheer uitbeweeg nie. Die doelwagter moet sportdrag dra wat duidelik anders as die res van die span s’n is. Binne die doelhok-area mag hy die bal met enige deel van sy liggaam keer. Buite hierdie area is hy egter tot sy hande beperk soos die res van die spelers.
'n Wedstryd bestaan uit twee helftes, wat gewoonlik uit 30 minute elk en 'n 10-minuut pouse tussenin bestaan. Vir jonger spelers kan die helftes egter korter wees.
Indien 'n speler 'n reël oortree, word die bal aan die ander span gegee, óf vir 'n afgooi, óf vir 'n sewe-meter-gooi. 'n Afgooi vind plaas op die plek waar die reël oortree is, terwyl 'n sewe-meter-afgooi toegeken word wanneer 'n speler 'n ander speler met vuilspel keer om 'n andersins definitiewe doel aan te teken. Verder is daar 'n paar maniere waarop 'n speler gestraf kan word, afhangend van die erns van die oortreding:
Die sport het sy oorsprong in Denemarke, waar die eerste handbalfederasie in 1904 gestig was.