Hans Christian Gram | |
---|---|
![]() Portret van Hans Christian Gram deur Hansen & Weller
| |
Gebore | Kopenhagen, Denemarke | 13 September 1853
Oorlede | 14 November 1938 (op 85) Kopenhagen, Denemarke |
Alma mater | Universiteit van Kopenhagen |
Bekend vir | Ontwikkeling van die Gramvlek |
Vakgebied | Bakteriologie |
Instellings | Universiteit van Kopenhagen |
Profskriftoesighouer | Japetus Steenstrup |
Hans Christian Joachim Gram (13 September 1853 – 14 November 1938) was 'n Deense bakterioloog bekend vir sy ontwikkeling van die Gramvlek, steeds 'n standaardtegniek om bakterieë te klassifiseer en meer sigbaar onder 'n mikroskoop te maak.
Gram was die seun van Frederik Terkel Julius Gram, 'n professor in regswetenskap, en Louise Christiane Roulund.
Hy het aan die Universiteit van Kopenhagen gestudeer, en was 'n assistent vir plantkunde van die dierkundige Japetus Steenstrup. Sy studie van plante het hom bekendgestel aan die basiese beginsels van farmakologie[Nota 1] en die gebruik van die mikroskoop.
Gram het in 1878 met mediese skool begin en in 1883 gegradueer. Hy het tussen 1878 en 1885 deur Europa gereis.
In Berlyn, in 1884, het Gram 'n metode ontwikkel om tussen twee hoofklasse bakterieë te onderskei.[1] Hierdie tegniek, bekend as 'n Gramvlek, is steeds 'n standaardprosedure van mediese mikrobiologie. Hierdie werk het Gram 'n internasionale reputasie verwerf. Die kleurmetode het later 'n groot rol gespeel in die klassifikasie van bakterieë. Gram was 'n beskeie man, en in sy aanvanklike publikasie het hy opgemerk: "Ek het dus die metode gepubliseer, hoewel ek bewus is dat dit nog baie gebrekkig en onvolmaak is; maar daar word gehoop dat dit ook in die hande van ander ondersoekers sal blyk nuttig te wees."
'n Gramvlek word gemaak met 'n primêre kleur van kristalviolet[Nota 2] en 'n teenkleur van safranien.[Nota 3] Bakterieë wat pers word wanneer dit gekleur word, word 'Gram-positief' genoem, terwyl dié wat rooi word wanneer dit teengekleur word, 'Gram-negatief' genoem word.
Gram se aanvanklike werk het betrekking op die studie van menslike rooibloedselle. Hy was van die eerstes wat erken het dat makrosietose[Nota 4] kenmerkend is van pernisieuse anemie.[Nota 5]
Gedurende 1891 het Gram lesings in farmakologie gegee, en later daardie jaar is hy aangestel as professor aan die Universiteit van Kopenhagen. In 1900 het hy sy professoraat in farmakologie bedank om professor in medisyne te word.[2] As professor het hy vier volumes kliniese lesings gepubliseer wat wyd in Denemarke gebruik is. Hy het in 1923 by die Universiteit van Kopenhagen afgetree en het in 1938 gesterf.[2]
Op 13 September 2019 het Google sy geboorte herdenk met 'n Doodle vir Kanada, Peru, Argentinië, Australië, Nieu-Seeland, Israel, Indië en sommige Europese lande.[3][4]
Gram se agterkleindogter Lone Gram is 'n mikrobioloog wie by die Tegniese Universiteit van Denemarke werk.[5]