Hatra | ||
Die ruïnes van Hatra omstreeks 1988. | ||
Plaaslike naam | الحضر | |
Land | Irak | |
Geskiedenis | ||
Bouer | Seleukidiese Ryk | |
Gestig | 3de of 2de eeu v.C. | |
Tydperk | Seleukidiese tot Partiese Ryk | |
Unesco-wêrelderfenisgebied | ||
Tipe | Kultureel | |
Kriteria | ii, iii, iv, vi | |
Verwysing | 277 | |
Streek† | Arabiese State | |
Beskrywing* | Hatra | |
† Streek soos deur Unesco geklassifiseer. * Naam soos op die Wêrelderfenislys |
Hatra (Arabies: الحضر, al-Ḥaḍr) was ’n antieke stad in Mesopotamië, in die hedendaagse Irak. Die ruïnes lê 290 km noordwes van Bagdad en 110 km suidwes van Mosoel.
Op 7 Maart 2015 het verskeie bronne, insluitende Irakse amptenare, berig die militante groep ISIL het begin om die Unesco-wêrelderfenisgebied te verwoes.[1][2] ’n Video wat die volgende maand deur ISIL uitgereik is, wys die vernietiging van die monumente.[3]
Hatra is vermoedelik in die 3de of 2de eeu v.C. deur die Seleukidiese Ryk gebou. Nadat dit deur Persië verower is, het dit in die 1ste en 2de eeu n.C. floreer as ’n godsdiens- en handelsentrum.[4] Later het die stad waarskynlik die hoofstad van die eerste Arabiese koninkryk geword.
Hatra het ’n belangrike vesting geword wat verskeie aanvalle deur die Romeinse Ryk weerstaan het en ’n belangrike rol gespeel in die Tweede Partiese Oorlog tussen dié land en Rome.[5] Dit het die Iraniërs in 238 verslaan, maar is eindelik in 241 deur die Sassanidiese Ryk verwoes.[5]
Hatra was die bes bewaarde Partiese stad wat die meeste inligting oor dié ryk verskaf het. Dit was omring deur binne- en buitemure van byna 2 km breed[6] en het meer as 160 torings gehad. Die tempels het sowat 1,2 ha beslaan en is oorheers deur die Groot Tempel, ’n enorme gebou met pilare wat tot 30 meter hoog gestrek het. Die stad was bekend vir sy vermenging van Griekse, Mesopotamiese, Kanaänitiese, Aramese en Arabiese panteons, in Aramees bekend as Beiṯ Ĕlāhā ("Huis van God").
Daar was tempels vir Nergal (Babilonies en Akkadies), Hermes (Grieks), Atargatis (Siries-Aramees), Allat en Sjamijja (Arabies) en Sjamasj (die Mesopotamiese songod).[4]