Hattoesili I

Hattoesili I
Amp Koning van die Hetiete
Bewind 1650-'20 v.C.
(middelchronologie)
Voorganger Labarna I
Opvolger Moersili I
Gade Kaddoesi
'n Kaart van die Hetitiese Ou Koninkryk.

Hattoesili I (Ḫattušili I) was 'n koning van die Hetitiese Ou Koninkryk. Hy het van 1650-'20 v.C. (middelhronologie) regeer.

Familie

[wysig | wysig bron]

Hattoesili was moontlik 'n susters- of broerskind van sy voorganger, Labarna, se vrou, Tawananna. Sy was die dogter van PU-Sarroema. Haar broer was Papahdilmah, wat met Labarna om die troon meegeding en verloor het. Hattoesili se vrou se naam was Kaddoesi en sy kleinseun was Moersili I, wat hom opgevolg het.[1][2]

Bewind

[wysig | wysig bron]

Uitgrawings by Zincirli Höyük, Suid-Turkye, dui aan 'n kompleks daar is verwoes in die middel tot laat 17de eeu v.C., moontlik deur Hattoesili I in 'n militêre veldtog, wat die datum (middelchronologie) van sy bewind kan bevestig.[3][4] Dié verwoesting is onlang met koolstofdatering bepaal as iewers tussen 1632 en 1610 v.C.[5]

Hattoesili het aan die begin van sy bewind die titel "labarna" gebruik. Dit is onseker of hy die tweede koning met dié naam was, wat beteken hy was Labarna II, en of hy dieselfde mens as Labarna I was, wat in Hetitiese chronologie as sy voorganger beskou word.

Tydens sy bewind het hy die hoofstad van Nesja (Kanesj, naby die moderne Kültepe) na Hattoesa (naby die moderne Boğazkale) verskuif en die naam Hattoesili aangeneem ter viering van die geleentheid.

Hattoesili is die vroegste Hetitiese heerser van wie kontemporêre rokords ontdek is. Benewens die titel "koning van Hattoesa", het hy ook die titel "Man van Koessara" aangeneem, 'n verwysing na die prehistoriese hoofstad en tuiste van die Hetiete voordat hulle Nesja beset het.

Laaste dae

[wysig | wysig bron]

Die einde van sy bewind is van historiese belang vanweë die opvolgingsproklamasie. Die dokument, wat in die eerste persoon geskryf is, vertel hoe Hattoesili gewond van sy laaste militêre veldtog teruggekeer het. Op sy sterfbed was hy woedend oor die houding van sy nefie en erfgenaam. Hy verduidelik dan dit is hoekom hy sy kleinseun Moersili as die volgende koning aangestel het. Hy doen 'n beroep op die leër en staatsdiens om hom te gehoorsaam.

Die argumente is opgesluit in 'n tablet wat as CTH 6 geklassifiseer is en ook bekend is as die "Testament van Hattoesili I". Hierin verwerp hy sy nefie as sy opvolger en wys sy kleinseun aan om hom op te volg. Dit is waarskynlik gehoorsaam, want Moersili het inderdaad koning geword en Hattoesili se militêre veldtogte voortgesit. Hy het eindelik Aleppo verower en Babilon verwoes.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Bryce, Trevor (2005). The Kingdom of the Hittites (New uitg.). Oxford. p. 415. ISBN 978-0-19-927908-1.
  2. Bilgin, Tayfun (3 Desember 2018). Officials and Administration in the Hittite World (in Engels). Walter de Gruyter GmbH & Co KG. ISBN 978-1-5015-0977-3.
  3. Herrmann, Virginia, et al., (2020). "Iron Age Urbanization and Middle Bronze Age Networks at Zincirli Höyük: Recent Results from the Chicago-Tübingen Excavations", in ASOR 2020 Annual Meeting.
  4. Urbanus, Jason, (November/Desember 2019). "The Wrath of the Hittites", Archaeological Institute of America:
  5. Herrman et al., (2023). "New evidence for Middle Bronze Age chronology from the Syro-Anatolian frontier", in: Antiquity, Volume 97, Issue 391, Februarie 2023.

Skakels

[wysig | wysig bron]