Hawker Typhoon | |
---|---|
Tipe | Vegvliegtuig |
Vervaardiger | Hawker Aircraft |
Ontwerp deur | Sydney Camm |
Nooiensvlug | 24 Februarie 1940 |
Status | Uit diens gestel |
Hoofgebruikers | Britse Lugmag Kanadese Lugmag |
Aantal gebou | 3 317 (1941-1945) |
Die Hawker Typhoon was 'n vegter-bomwerper wat deur die Britse Lugmag gebruik is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie vliegtuig het ontwikkel uit 'n spesifikasie wat deur die Britse Lugvaartministerie daargestel is om 'n vliegtuig te ontwikkel wat die nuwe Rolls-Royce en Napier 24-silinder 2000 perdekragmotors kon gebruik.
Die Hawker Typhoon is ontwikkel met die Napier Sabre motor en het in Februarie 1940 sy nooiensvlug voltooi. Verdere ontwikkeling- en produksieprobleme het veroorsaak dat die Typhoon eers in Augustus 1941 aan die Britse Lugmag gelewer kon word. Dit was toe die eerste vegvliegtuig wat vinniger as 400 mph (643 km/h) kon vlieg. Hierdie topsnelheid het egter teen 'n prys gekom; die vliegtuig se klimvermoë was swak en sy vermoë op hoë hoogte was ook onder verwagting. Dit was alles as gevolg van die Sabre motor wat te vroeg in produksie gebring is.
Daar was ook 'n strukturele ontwerpfout in die stertgedeelte met menige noodlottige gevolge. Dit is egter later reggestel. Die totale Typhoon vloot was amper uit diens gestel as gevolg van al die probleme maar dit was gelukkig betyds opgelos. Toe die Focke-Wulf Fw 190 sy verskyning maak, was die Typhoon die enigste vliegtuig wat sy snelheid kon ewenaar. Die Typhoon het vier van die Focke-Wulf's in hulle eerste verskyning vernietig.
Die bynaam vir die vliegtuig was Tiffies. Vanaf 1943 het hulle 'n aktiewe rol begin speel in Frankryk en die Lae lande deur teikens aan te val en te vernietig. Later in 1943 is die vliegtuig met vuurpyle toegerus; dit het hulle in staat gestel om nog meer verwoesting te saai. Deur hul ongenaakbare aanvalle in die dag en nag kon hulle Duitse kommunikasie ontwrig wat baie bygedra het tot die Geallieerdes se sukses tydens D-dag. Dit is moeilik om te verstaan dat 'n vliegtuig wat se ontwikkeling amper gestaak weens tegniese redes uiteindelik deur 26 Eskaders van die 2de Taktiese Lugmag gebruik is.
Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motore | 1 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Napier Sabre IIA 24 silinder, vloeistofverkoel |
Kraglewering per motor | 2 189 perdekrag |
Vlerkspan | 12,67 m |
Lengte | 9,73 m |
Hoogte | 4,67 m |
Vlerkoppervlakte | 25,92 m2 |
Maks. opstygmassa | 6 010 kg |
Maks. snelheid | 664 km/h |
Operasionele hoogte | 10 730 m |
Togafstand | 821 km |
Klimvermoë | 914 m per minuut |
Bewapening | Vier 20 mm kannone in vlerke agt vuurpyle of twee 227 kg bomme onder vlerke |