Hazbin Hotel is 'n Amerikaanse animasie-musiekblyspelreeks vir volwassenes geskep deur Vivienne "VivziePop" Medrano.[1][2] Die loodsepisode van die reeks is op 28 Oktober 2019 op YouTube vrygestel.
Die reeks fokus op Charlie Morningstar, die prinses van die hel en die dogter van Lucifer, wat vir haarself 'n byna onmoontlike doel stel: om die demone van die hel te help om beter te wees en in die hemel te kom.[3]
Die reeks is deur die onafhanklike filmmaatskappy A24 vervaardig. Die program se eerste seisoen het op 19 Januarie 2024 op Prime Video verskyn en daar word aan 'n tweede seisoen gewerk.
Charlie Morningstar, die prinses van die hel, open 'n hotel genaamd die "Happy Hotel", waar sy demone van die hel wil leer om beter mense te wees, in die hoop om hulle in die hemel te kry. As gevolg van oorbevolking gaan die hel een keer per jaar deur 'n jaarlikse suiwering, waar engele uit die hemel neerdaal en demone doodmaak. Charlie vind dit ontstellend, en wil 'n vreedsamer oplossing vir die oorbevolkingsprobleem vind.[4]
Met die hulp van haar bestuurder en vriendin, Vaggie, en hul eerste kliënt, die pornografiese rolprentakteur Angel Dust, probeer sy om haar droom te bewaarheid. Haar plan trek die aandag van die kragtige "Radio Demon", Alastor. Hy dink haar idee is onmoontlik, maar hy wil vir Charlie help om die hotel te bestuur, want hy dink dit is snaaks.[5] Alastor herdoop die Happy Hotel na die Hazbin Hotel aan die einde van die loodsepisode.