Held van die Sowjetunie | |
---|---|
Goue Ster-medalje van ’n Held van die Sowjetunie
| |
Tipe | Eretitel |
Toegeken aan | Sowjet- en buitelandse burgers |
Toegeken vir | Heldedade in diens aan die Sowjetstaat en -gemeenskap |
Status | Nie meer toegeken |
Ingestel | 16 April 1934 |
Eerste keer toegeken | 20 April 1934 |
Laaste keer toegeken | 24 Desember 1991 |
Totaal toegeken | 12 745 |
Hoër eerbewys | Geen |
Laer eerbewys | Orde van Lenin |
Soortgelyke eerbewyse | Held van die Russiese Federasie Held van die Oekraïne Held van Belarus |
Die titel Held van die Sowjetunie (Russies: Герой Советского Союза, Geroi Sowjetskowo Sojoeza) was die hoogste ereteken in die Sowjetunie. Dit is individueel of gesamentlik toegeken vir heldedade in diens aan die Sowjetstaat en -gemeenskap.
Die toekenning is op 16 April 1934 ingestel. Die eerste ontvangers van die titel het net die Orde van Lenin ontvang, wat toe die hoogste toekenning was, saam met ’n sertifikaat van die Presidium van die Opperste Sowjet van die USSR wat die heldedaad beskryf. Omdat die Orde van Lenin ook vir ander dade toegeken is, is die Goue Ster-medalje op 1 Augustus 1939 ingestel om helde van ander ontvangers te onderskei.
’n Held kon die titel meer as een keer wen en het elke keer nog ’n medalje en sertifikaat gekry. Tot in 1973 is ’n tweede Orde van Lenin nie toegeken nie. Die praktyk om die medalje meer as een keer aan dieselfde mens toe te ken, is in 1988 tydens perestroika laat vaar. Baie buitelanders het ook die titel gekry. Dit is ook nadoods toegeken, maar dikwels sonder dat die Goue Ster-medalje gegee is.
Die titel kon deur die Presidium van die Opperste Sowjet teruggetrek word.[1]
Altesaam 12 745 mens het die titel ontvang. (Twintig van hulle het dit weer weens verskeie omstandighede verloor.) Die meeste het dit tydens die Tweede Wêreldoorlog gekry (11 635 het dit een keer gekry, 101 twee keer, 3 drie keer en 2 vier keer). Altesaam 65 mense het dit gekry vir diens in die Sowjet-Afgaanse Oorlog van 1979 tot 1989.[2]
Die eerste ontvangers van die toekenning was die vlieëniers Anatoli Liapidefski (sertifikaat nommer een), Sigizmoend Lewanefski, Wasili Molokof, Mawriki Slepnef, Nikolai Kamanin, Iwan Doronin en Michail Wodopianof, wat deelgeneem het aan die suksesvolle lugsoektog na en redding van die bemanning van die stoomskip Tsjeljoeskin wat op 13 Februarie 1934 in die Arktiese waters gesink het nadat dit deur ys beskadig is. Walentina Grizodoebowa, ook ’n vlieënier, was die eerste vrou wat ’n Held van die Sowjetunie geword het (op 2 November 1938)[3] vir ’n internasionale vliegrekord vir vroue.
Altesaam 101 mense het die medalje twee keer ontvang. Dit het hulle gemagtig om ’n bronsborsbeeld van hulself in hul tuisstad te laat aanbring.
Twee beroemde vegvlieëniers, Aleksander Pokrisjkin en Iwan Kozjedoeb, het die medalje drie keer ontvang. Dit het hulle gemagtig om hul bronsborsbeeld op ’n voetstuk aan te bring in Moskou, naby die Paleis van die Sowjets, maar die Paleis is nooit gebou nie.
Die enigste mense wat die medalje vier keer ontvang het, was maarskalk Georgi Zjoekof en Leonid Brezjnef. Die oorspronklike statuut van die Held van die Sowjetunie het egter net voorsiening gemaak vir drie toekennings en nie ’n vierde nie. Zjoekof en Brezjnef het albei hul vierde titels onder omstrede omstandighede ontvang strydig met die statuut, wat in ’n groot mate onveranderd gebly het totdat die toekenning in 1991 afgeskaf is. Zjoekof het die medalje ’n vierde keer op sy 60ste verjaardag op 1 Desember 1956 gekry vir "sy groot prestasies". Daar is vermoedens dat hy dit gekry het vir sy aandeel in die inhegtenisneming van Beria in 1953, maar dit is nooit op rekord gestel nie. Brezjnef se toekenning het die prestige van die titel verder skade berokken, aangesien hulle verjaardaggeskenke was – op sy 60ste, 70ste, 72ste en 75ste verjaardae.
Teen die 1970's het die waarde van die titel effens afgeneem, want belangrike politieke en militêre persone het dit gekry op hul feesdae eerder as vir onmiddellike heldedade. Alle Sowjet-ruimtevaarders vanaf Joeri Gagarin, sowel as buitelandse burgers wat as ruimtevaarders aan Sowjet-ruimteprogramme deelgeneem het, het die toekenning ontvang vir elke vlug – maar nie meer as twee keer nie.
Die titel is ook aan 12 stede (Heldestede) toegeken, sowel as aan die fort van Brest in Belarus (Heldefort) vir gesamentlike heldedade tydens WOII.
Die laaste ontvanger van die titel was ’n Sowjet-onderwaterduiker, kaptein Leonid Solodkof op 24 Desember 1991 vir die voltooiing van ’n spesiale duiktaak. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is die titel vervang deur die titels Held van die Russiese Federasie, Held van die Oekraïne en Held van Belarus.
Die medalje verskyn as ’n wapenfiguur op die wapen van die Heldestad Sewastopol (foto links).
Wikimedia Commons bevat media in verband met Held van die Sowjetunie. |