Henri Matisse | |
---|---|
Geboortenaam | Henri-Émile-Benoît Matisse |
Gebore | Le Cateau-Cambrésis, Nord | 31 Desember 1869
Sterf | 3 November 1954 (op 84) Nice, Alpes-Maritimes |
Nasionaliteit | Frans |
Veld | Skilderkuns, afdrukmakery, beeldhouwerk, teken, collage |
Opleiding | Académie Julian, William-Adolphe Bouguereau, Gustave Moreau |
Beweging | Fauvisme, modernisme, impressionisme |
Werke | Vrou met hoed (Madame Matisse), 1905
in museums:
|
Beskermhere | Gertrude Stein, Etta Cone, Claribel Cone, Michael en Sarah Stein, Albert C. Barnes |
Beïnvloed deur | John Peter Russell, Paul Cézanne, Paul Gauguin, Vincent van Gogh, Paul Signac |
Beïnvloed | Hans Hofmann, David Hockney, Tom Wesselmann |
Henri-Émile-Benoît Matisse (ɑ̃ʁi matis; 31 Desember 1869 – 3 November 1954) was 'n Franse kunstenaar, bekend vir sy gebruik van kleur en sy vloeiende en oorspronklike ontwerptekenkuns. Hy was 'n tekenaar, afdrukmaker en beeldhouer, maar is primêr bekend as 'n skilder.[1] Matisse word algemeen beskou, saam met Pablo Picasso en Marcel Duchamp, as een van die drie kunstenaars wat gehelp het om die rewolusionêre ontwikkelings in die beeldende kunste te definieer tydens die aanvangsdekades van die twintigste eeu, verantwoordelik vir beduidende ontwikkeling in die skilderkuns en beeldhouwerk.[2][3][4][5] Hoewel hy aanvanklik gebrandmerk is as 'n Fauve (Frans vir wilde dier), is hy in die 1920's toenemend geprys as 'n fakkeldraer van die klassieke tradisie in die Franse skilderkuns.[6] Sy bemeestering van die ekspressiewe taal van kleur en tekenwerk, vertoon in 'n versameling van werke wat oor 'n halwe eeu strek, verwerf vir hom erkenning as 'n leidende figuur in moderne kuns.[7]
Matisse is gebore in Le Cateau-Cambrésis, Nord, Frankryk, as die oudste seun van 'n welvarende graanhandelaar.[8] Hy word groot in Bohain-en-Vermandois, Picardie, Frankryk. In 1887 vetrek hy na Parys om in die regte te studeer. Na hy sy kwalifikasie bekom hy werk as 'n hof administrateur in Le Cateau-Cambrésis. Hy het eers in 1889 begin skilder, na sy ma vir hom kunsbenodigdhede gebring het gedurende 'n hersteltydperk weens blindedermontsteking. Hy ontdek "'n tipe paradys" soos hy dit later beskryf,[9] en besluit om 'n kunstenaar te word, tot sy pa se diepe teleurstelling.[10][11] In 1891, keer hy terug na Parys om in die kunste te studeer te Académie Julian en word 'n student van William-Adolphe Bouguereau en Gustave Moreau. Aanvanklik skilder hy stillewes en landskappe in 'n tradisionele styl, waarin hy 'n redelike vlak van vaardigheid bereik. Matisse word beïnvloed deur die werke van vroeëre meesters soos Jean-Baptiste-Siméon Chardin, Nicolas Poussin en Antoine Watteau, asook moderne kunstenaars soos Édouard Manet en die Japannese kuns. Chardin was een van Matisse se mees bewonderende skilders; as kunsstudent het hy afdrukke gemaak van vier Chardin skilderye in die Louvre.[12]
In 1896 en 1897, besoek Matisse die Australiese skilder John Peter Russell op die eiland Belle Île langs die kus van Bretagne. Russell stel hom bekend aan Impressionisme en die werk van van Gogh, wat 'n vriend van Russell was maar op daardie tydstip nog totaal onbekend. Matisse se styl verander heeltemal, en hy sou laterjare sê "Russell was my leermeester, en Russell het die kleurteorie aan my verduidelik." [11] In 1896 stal Matisse vyf skilderye uit in die salon van die Société Nationale des Beaux-Arts. Twee daarvan is deur die staat aangekoop.[13]
Hy kry 'n dogter, Marguerite (gebore 1894), by die model Caroline Joblau. In 1898 trou hy met Amélie Noellie Parayre; die twee maak Marguerite saam groot en het saam ook twee seuns, Jean (gebore 1899) en Pierre (gebore 1900). Marguerite en Amélie het gereeld as modelle geposeer vir Matisse.[14]
In 1898, onder advies van Camille Pissarro, gaan hy Londen toe om die skilderye van J. M. W. Turner te bestudeer en gaan op 'n reis na Korsika.[15] Met sy terugkeer in Parys in Februarie 1899, werk hy langs Albert Marquet en saam met André Derain, Jean Puy,[16] en Jules Flandrin.[17] Matisse verdiep homself in die werk van ander en beland in die skuld weens die aankoop van werke van skilders wat hy bewonder. Die werke wat hy in sy huis gehang en vertoon het sluit in 'n gipsborsbeeld deur Auguste Rodin, 'n skildery van Paul Gauguin, 'n tekening deur Vincent van Gogh en Paul Cézanne se Drie baaiers. In Cézanne se insig van prentstruktuur en kleur, vind Matisse sy vernaamste inspirasie.[16]
Baie van Matisse se skilderye van 1898 tot 1901 maak gebruik van 'n Divisionistiese tegniek wat hy aangeneem het na die lees van Paul Signac se essay, "D'Eugène Delacroix au Néo-impressionisme".[15] Sy skilderye van 1902–1903, 'n tydperk van materiële swaarkry vir die kunstenaar, is betreklik droewig en openbaar 'n besorgdheid met vorm. Met sy eerste probeerslag in die beeldhoukuns, 'n replika van Antoine-Louis Barye, in 1899, dompel hy baie van sy energie in kleiwerk, en voltooi Die Slaaf in 1903.[18]
Fauvisme as 'n styl het omstreeks 1900 begin en tot ná 1910 geduur. Die beweging self was net 'n paar lank jaar aktief, 1904–1908, en daar was drie uitstallings.[19][20] Die leidende figure in die beweging was Matisse en André Derain.[19] Matisse se eerste solo-uitstalling was by Ambroise Vollard se galery in 1904,[16] en sonder veel sukses. Sy liefde vir helder en ekspressiewe kleur het eers meer duidelik kenbaar na vore getree na die somer van 1904 waartydens hy in Saint-Tropez geskilder het saam met die neo-impressioniste Signac en Henri Edmond Cross.[15] In daardie jaar lewer hy sy belangrikste neo-impressionistiese werk, Luxe, Calme et Volupté.[15] In 1905 reis hy weer suidwaarts om in Collioure saam met André Derain te werk. Sy skilderye uit die tydperk is gekenmerk deur plat vorms en gekontroleerde lyne. Hy gebruik ook pointillisme in 'n minder gestrenge mate as voorheen.
In 1905 stal Matisse en 'n groep kunstenaars, nou bekend as "Fauves," saam uit in 'n kamer in die Salon d'Automne. Die werke druk emosie uit met wilde en dikwels strydige kleure, sonder agting vir die onderwerp se natuurlike kleure. Matisse stal Die oop venster en La femme au chapeau (Vrou met die hoed) uit by die Salon. Kritikus Louis Vauxcelles beskryf die werk met die opmerking "Donatello parmi les fauves!" (Donatello tussen die wilde diere), verwysend na 'n Renaissance-agtige beeldhouwerk wat die kamer met hulle versameling gedeel het.[21] Sy opmerking verskyn op 17 Oktober 1905 in Gil Blas, 'n dagblad, en word 'n destydse populêre sêding.[19][21] Die uitstalling ontvang wrang kritiek—"'n Blik verf is in die gesig van die publiek gegooi" sê die kritikus Camille Mauclair—maar ook enkele gunstige resensies.[21] Wanneer die skildery wat uitgesonder is vir spesiale afkeuring, Matisse se Vrou met 'n hoed, gekoop word deur Gertrude en Leo Stein, verbeter die beleërde kunstenaar se moraal aansienlik.[21]
Matisse word erken as die leier van die Fauves, saam met André Derain; die twee was vriendskaplike mededingers, elk met sy eie volgelinge. Ander lede was Georges Braque, Raoul Dufy en Maurice de Vlaminck. Die simbolis Gustave Moreau (1826–1898) was die beweging se inspiratoriese leermeester; as 'n professor by die École des Beaux-Arts in Parys, het hy studente gedruk om buite die lyne van formaliteit te dink en hulle eie sienings te volg.
In 1907 het Guillaume Apollinaire, na kommentaar oor Matisse in 'n artikel gepubliseer in La Falange, gesê, "Ons is nie hier in die teenwoordigheid van 'n oordadige of ekstreme onderneming nie: Matisse se werk is uiters redelik." [22] Maar Matisse se werk uit daardie tyd het ook heftige kritiek ontlok, en dit was vir hom moeilik om vir sy gesin te sorg.[11] Sy opspraakwekkende 1907 skildery Nu bleu was in beeld verbrand by die Armory Show in Chicago in 1913.[23]
Die agteruitgang van die Fauvistiese beweging na 1906 het geen uitwerking op Matisse se opgang gehad nie; heelwat van sy beste werke is gelewer tussen 1906 en 1917, as aktiewe deelnemer van die groot samekoms van kunstalent in Montparnasse, selfs al het hy nie heeltemal ingepas met sy konserwatiewe voorkoms en streng bourgeois werksetiek nie. Hy het aangehou met die absorbeer van nuwe invloede: hy reis na Algerië in 1906 om Afrikaanse kuns en primitivisme te bestudeer; na besigtiging van 'n groot uitstalling Islamitiese kuns in München in 1910, spandeer hy twee maande in Spanje om Moorse kuns te bestudeer. Hy besoek Marokko in 1912 en weer in 1913, en terwyl hy skilder in Tangier maak hy verskeie innoverende veranderings aan sy werk, insluitende sy gebruik van swart as 'n kleur.[24][25][26]Die effek daarvan op Matisse se kuns word beskryf as 'n nuwe vrymoedigheid met die gebruik van intense, ongereguleerde kleur, soos met L'Atelier Rouge (1911).[15]
Matisse het 'n lang verbintenis met die Russiese kunsversamelaar Sergei Shchukin gehad. Hy skilder een van sy vernaamste werke, La Danse (Die dans), spesiaal vir Shchukin as deel van 'n tweedelige-skilderopdrag, waarvan die ander skildery Musiek (1910) is. 'n Vroeëre weergawe van La Danse (1909) is in die versameling van die Museum of Modern Art in New York.
Rondom April 1906 ontmoet hy Pablo Picasso, wat twaalf jaar jonger as Matisse was.[11] Die twee word lewenslange vriende asook mededingers en word dikwels vergelyk; 'n belangrike verskil tussen hulle was dat Matisse uit die natuur geneem en geskilder het, terwyl Picasso veel meer geneig was om vanuit sy verbeelding te werk. Die onderwerpe die meeste deur die twee kunstenaars geskilder was vrouens en stillewes, met Matisse wat meer eerder sy figure in 'n ten volle gerealiseerde interieur sou plaas. Matisse en Picasso is die eerste keer saamgebring by die salon van Gertrude Stein en haar metgesel Alice B. Toklas. Gedurende die eerste dekade van die twintigste eeu was Amerikaners in Parys— Gertrude Stein, haar broers Leo Stein, Michael Stein en Michael se vrou Sarah Stein—belangrike versamelaars en ondersteuners van Matisse se skilderye. Benewens Gertrude Stein se twee Amerikaanse vriende van Baltimore, het die Cone susters, Claribel en Etta, groot beskermhere geword van Matisse en Picasso, en versamel honderde van hul skilderye en tekeninge. Die Cone-versameling word nou in die Baltimore Museum of Art uitgestal.[27]
Terwyl talle kunstenaars die Stein-salon besoek het, is heelwat van hierdie kunstenaars nooit verteenwoordig teen die mure van 27 Rue de Fleurus nie. Waar Renoir, Cézanne, Matisse en Picasso se werke Leo en Gertrude Stein se versamelings oorheers het, het Sarah Stein se versameling Matisse veral benadruk.[28]
As tydgenote van Leo en Gertrude Stein het Matisse en Picasso deel geword van hulle sosiale kringe en gereeld die byeenkomste bygewoon wat op Stardagaande by 27 Rue de Fleurus plaasgevind het. Gertrude skryf die begin van die Saterdagaandbyeenkomste toe aan Matisse en maak die opmerking:
Onder Pablo Picasso se kennisse wat ook gereeld die Saterdagaande bygewoon het, was: Fernande Olivier (Picasso se minnares), Georges Braque, André Derain, die digters Max Jacob en Guillaume Apollinaire, Marie Laurencin (Apollinaire se minnares en kunstenaar in eie reg) en Henri Rousseau.[30]
Sy vriende het die Académie Matisse in Parys op die been gebring en gefinansier, 'n private nie-kommersiële skool waar Matisse jong kunstenaars onderrig het. Dit was in werking van 1907 tot 1911. Hans Purrmann en Sarah Stein was onder sy verskeie mees lojale studente.
Matisse spandeer sewe maande in Marokko van 1912 tot 1913 en lewer ongeveer 24 skilderye en heelwat tekeninge. Sy gereelde orientalistiese onderwerpe van latere werke, soos odaliske, kan teruggetrek word na die periode.[31]
In 1917 verhuis Matisse na Cimiez aan die Franse Riviera, 'n voorstad van Nice. Sy werke van die dekade wat volg op sy verhuising, toon 'n versagting en meer ontspanne benadering. Hierdie "terugkeer na orde" is kenmerkend van baie kunswerke in die tydperk na die Eerste Wêreldoorlog, en kan vergelyk word met die neoklassisme van Picasso en Igor Stravinsky, en die terugkeer na die tradisionalisme van Derain. Sy orientalistiese odalisk-skilderye is kenmerkend van die tydperk; terwyl die werk gewild was, het sommige kontemporêre kritici dit oppervlakkig en dekoratief gevind.[32]
In die laat 1920's het Matisse weer merkbaar betrokke geraak by aktiewe samewerking met ander kunstenaars. Hy werk nie net saam met Fransmanne, Nederlanders, Duitsers en Spanjaarde nie, maar ook 'n paar Amerikaners en onlangse Amerikaanse immigrante.
Na 1930 het 'n nuwe ywer en dapperder vereenvoudiging in sy werk verskyn. Die Amerikaanse kunsversamelaar Albert C. Barnes oortuig hom om 'n groot muurskildery te verf vir die Barnes-stigting, La Danse II (Die dans II), wat in 1932 afgehandel is; die stigting besit 'n paar dosyn ander Matisse skilderye. Hierdie skuif na vereenvoudiging en 'n voorskaduwing van die uitknipseltegniek is ook bemerkbaar in sy skildery Large Reclining Nude (1935). Matisse verf etlike maande aan hierdie skildery en dokumenteer sy vordering met 'n reeks van 22 foto’s wat hy aan Etta Cone stuur.[33]
Na 41 jaar is Matisse en sy vrou uitmekaar in 1939. In 1941 ondergaan hy chirurgie waartydens 'n kolostomie uitgevoer word. Na die operasie begin hy 'n rystoel gebruik, en word hy tot met sy afsterwe versorg deur 'n Russiese vrou, Lydia Delektorskaya, een van sy voormalige modelle. Met die hulp van assistente begin hy papierknipsel-collages (gouaches découpés) maak en gereeld op groot skaal. Sy Nue bleu (Blou naak)-reeks is 'n uitstekende voorbeeld van sy tegniek wat hy "verf met 'n skêr" doop. Dit demonstreer sy vermoë om sy oog vir kleur en geometrie oor te dra na 'n nuwe medium van volkome eenvoud, maar met 'n speelse en genotryke krag.
In die 1940's werk hy ook as grafiese kunstenaar by die Mourlot-studio’s in Parys en lewer swart-en-wit illustrasies vir verskeie boeke en oor die honderd oorspronklike steendrukplate.
Matisse word bewonder en herhaaldelik na verwys deur die Griekse digter en Nobelpryswenner Odysseas Elytis. Elytis is aan Matisse bekendgestel deur hulle gemeenskaplike vriend Tériade, tydens sy werk aan die uitknipsels. Matisse het die eetkamermuur geverf in Tériade se huis, die Villa Natacha in Saint-Jean-Cap-Ferrat, wat Elytis ook in sy gedigte noem.
Matisse, deur en deur nie-polities, was geskok na die nuus dat sy dogter Marguerite, wat aktief was in die Résistance gedurende die oorlog, gemartel is (amper tot die dood) in 'n Rennes-gevangenis en gevonnis is na die Ravensbrück-konsentrasiekamp.[10] (Marguerite spring verdere gevangeskap vry deur te ontsnap van 'n trein op pad na Ravensbrück, wat gestop is na 'n Geallieerde lugaanval; sy oorleef in die woud tot met haar redding deur mede-versetters.[34][35])
Matisse se student Rudolf Levy is 1944 dood in die Auschwitz-konsentrasiekamp.[36][37]
In 1947 publiseer Matisse Jazz, 'n beperkte oplaag van 'n kunstenaarsboek van ongeveer honderd afdrukke van kleurvolle papierknipsel-collages, vergesel van sy geskrewe gedagtes. Tériade, 'n bekende twintigste-eeuse kunste-uitgewer reël om Matisse se knipsels uit te gee as pochoir (sjabloon)-afdrukke.
In 1951 handel Matisse 'n vier-jaar projek af vir die ontwerp van die binnekant, die glasvensters en dekorasies van die Chapelle du Rosaire de Vence, wat dikwels na verwys word as die Matisse-kapel. Die projek is die gevolg van 'n noue vriendskap tussen Matisse en Suster Jacques-Marie, ten spyte van die feit dat hy 'n ateïs was.[38][39] Hy het haar aangestel as verpleegster en model in 1941 voor sy 'n dominikaanse non geword het. Hulle ontmoet weer in Vence en begin hul samewerking volgens 'n storie oorvertel in haar boek van 1992 Henri Matisse: La Chapelle de Vence en in die dokumentêr van 2003 "A Model for Matisse".[40]
In 1952 vestig hy 'n museum gewy aan sy werk, die Matisse Museum in Le Cateau. Die museum hou tans die derde grootste versameling van Matisse se werke in Frankryk.
Volgens David Rockefeller, is Matisse se laaste werk die ontwerp van 'n gebrandskilderde glasvenster geïnstalleer by die Union Church of Pocantico Hills naby die Rockefeller-landgoed, noord van New York. "Dit was sy finale artistieke skepping; die maket was teen sy kamermuur tydens sy dood in November 1954" skryf Rockefeller. Die installasie was afgehandel teen 1956.[41]
Matisse sterf aan 'n hartaanval op die ouderdom van 84 in 1954. He is begrawe in die begraafplaas van Monastère Notre Dame de Cimiez, naby Nice.
Die eerste skildery van Matisse wat deur 'n openbare versameling verkry is, was Stillewe met malvas (1910), uitgestal in die Pinakothek der Moderne.[42]
Die pruimbloeisels, 'n 1948 skildery deur Henri Matisse, is op 8 September 2005 aangekoop vir die Museum of Modern Art deur Henry Kravis en die museum se nuwe president, Marie-Josée Drouin. Die beraamde prys was Amer. $25 miljoen. Dit is sedert 1970 nie deur die publiek te siene gekry nie.[43] In 2002 word 'n Matisse-beeldhouwerk Nu couché I vir Amer. $9.2 miljoen verkoop, 'n rekord vir een van die kunstenaar se beeldhouwerke.
Matisse se dogter Marguerite het gereeld Matisse-studente bygestaan met insig oor sy werksmetodes en sy werke. Sy sterf in 1982 terwyl sy besig was met die samestelling van 'n katalogus van haar pa se werke.[44]
Matisse se seun, Pierre Matisse (1900–1989), open 'n belangrike moderne kunsgalery in New York gedurende die 1930's. Die Pierre Matisse-galery, wat aktief was van 1931 tot 1989, verteenwoordig en vertoon talle Europese kunstenaars en 'n aantal Amerikaners en Kanadese in New York, dikwels vir die eerste keer. Hy stal Joan Miró, Marc Chagall, Alberto Giacometti, Jean Dubuffet, André Derain, Yves Tanguy, Le Corbusier, Paul Delvaux, Wifredo Lam, Jean-Paul Riopelle, Balthus, Leonora Carrington, Zao Wou Ki en Sam Francis uit, asook beeldhouers Theodore Roszak, Raymond Mason en Reg Butler, en verskeie ander belangrike kunstenaars, insluitend die werk van Henri Matisse.[45][46]
Henri Matisse se kleinseun, Paul Matisse, is 'n kunstenaar en uitvinder en bly in Massachusetts. Matisse se agterkleindogter Sophie Matisse is ook 'n kunstenaar. Les Heritiers Matisse tree op as die amptelike boedel. Die Amerikaanse kopieregverteenwoordiger vir Les Heritiers Matisse is die Artists Rights Society.[47]
Jaar | Naam | Franse naam | Tegniek | Afmetings | Stad | Galery |
---|---|---|---|---|---|---|
1894 | Die lesende vrou Geargiveer 4 Augustus 2013 op Wayback Machine | Olie op doek | Parys | Musée National d'Art Moderne Parys | ||
1898 | Landskap, die pienk muur | Le Mur Rose | Olie op doek | Privaat versameling | ||
1902 | 'n Glimps van die Notre Dame op 'n mooi middag | Notre-Dame, une fin d'après-midi | Olie op doek | 72,5 × 54,5 cm | Buffalo, New York | Albright Knox-kunsgallery |
1905 | Die groen streep Geargiveer 23 November 2013 op Wayback Machine | La Raie Verte | Olie en tempera op doek | 40,5 × 32,5 cm | Kopenhagen | Statens Museum for Kunst |
1905 | Uitsig van Collioure[dooie skakel] | Les toits de Collioure | Olie op doek | 59,5 × 73 cm | Sint Petersburg | Hermitage-museum |
1905 | Landskap by Collioure | Olie op doek | 38,8 × 46,6 cm | New York | Museum of Modern Art | |
1905-6 | Die vreugde van die lewe Geargiveer 21 Desember 2013 op Wayback Machine | Le bonheur de vivre | Olie op doek | 38,8 × 46,6 cm | Philadelphia | Barnes-stigting |
1906 | Die jong matroos II | Olie op doek | 101,6 × 81,9 cm | New York | The Museum of Modern Art | |
1906 | Selfportret in gestreepte t-hemp Geargiveer 25 Maart 2016 op Wayback Machine | Olie op doek | 30 × 23 cm | Kopenhagen | Statens Museum for Kunst | |
1907 | Rooi madras hooftooisel Geargiveer 19 Maart 2015 op Wayback Machine | Madras Rouge | Olie op doek | 99,4 × 80,5 cm | Philadelphia | Barnes-stigting |
1907 | Blou naak (Souvenir de Biskra) | Nu bleu: Souvenir de Biskra | Olie op doek | 92 × 140 cm | Baltimore | Baltimore Museum of Art |
1908 | Die nagereg: Harmonie in rooi (Die rooi kamer)[dooie skakel] | Olie op doek | 180 × 220 cm | Sint Petersburg | Hermitage-museum | |
1908 | Baaiers met 'n skilpad | Olie op doek | 179 × 220 cm | St. Louis | Saint Louis Art Museum | |
1910 | Stil lewe met malvas Geargiveer 6 Augustus 2011 op Wayback Machine | Olie op doek | 180 × 220 cm | München | Pinakothek der Moderne | |
1911 | Die rooi ateljee | L'Atelier Rouge | Olie op doek | 162 × 130 cm | New York | The Museum of Modern Art |
1908-12 | Die gesprek[dooie skakel] | Olie op doek | 1177 × 85⅜ cm | Sint Petersburg | Hermitage-museum | |
1912 | Zorah op die terras | Olie op doek | 116 × 100 cm | Moskou | Pushkin Museum | |
1912–1913 | Gesete Riffyn Geargiveer 4 April 2013 op Wayback Machine | Le Rifain assis | Olie op doek | 200 × 160 cm | Philadelphia | Barnes-stigting |
1912 | Venster by Tangier | Olie op doek | Moskou | Pushkin Museum | ||
1915 | Die geel gordyn | Le rideau jaune | Olie op doek | 146 × 97 cm | New York | The Museum of Modern Art |
1916 | Die venster Geargiveer 8 Desember 2013 op Wayback Machine | La Fenêtre | Olie op doek | 146,1 × 116,8 cm | Detroit | Detroit Institute of Arts |
1917 | Die windskerm, op die pad na Villacoublay | Olie op doek | 38,2 × 55,2 cm | Cleveland | Museum of art | |
1917 | Die musiekles Geargiveer 19 Maart 2015 op Wayback Machine | La leçon de musique | Olie op doek | 245,1 × 210,8 cm | Philadelphia | Barnes-stigting |
1917 | Die skilder en sy model[dooie skakel] | Le peintre dans son atelier | Olie op doek | 146,5 × 97 cm | Parys | Musée National d'Art Moderne Parys |
1923 | Fees van blomme | Fête des fleurs | Olie op doek | 65,5 × 92,7 | Cleveland | Museum of art |
1923 | Odalisk met haar arms opgelig | Odalisque assise aux bras levés, fauteuil rayé vert | Olie op doek | 65,1 × 50,2 cm | Washington, D.C. | National Gallery of Art |
1926 | Geel odalisk Geargiveer 17 Oktober 2013 op Wayback Machine | Olie op doek | 55,1 × 80,8 cm | Ottawa | National Gallery of Canada | |
1932 | Die dans II | Muurskildery | 14 m × 4,6 m | Philadelphia | Barnes-stigting | |
1937 | Vrou in 'n pers jas | Olie op doek | 81 × 65,2 cm | Houston | Museum of Fine Arts | |
1940 | Die droom van 1940 | Le Rêve de 1940 | Olie op doek | Private versameling | ||
1940 | La Blouse Roumaine[dooie skakel] | La Blouse Roumaine | Olie op doek | 92 × 73 cm | Parys | Musée National d'Art Moderne Parys |
1940 | Interieur met 'n Etruskiese vaas | Intérieur au vase étrusque | Olie op doek | 73,7 × 108 cm | Cleveland | Museum of art |
1944 | Annelies, wit tulpe en anemone | Olie op doek | 60 × 73 cm | Honolulu | Honolulu Museum of Art | |
1946 | Asië Geargiveer 23 September 2013 op Wayback Machine | L'Asie | Olie op doek | 116 × 81 cm | Private versameling | |
1947 | Twee meisies in 'n geel en rooi interieur Geargiveer 4 April 2013 op Wayback Machine | Deux fillettes, fond jaune et rouge | Olie op doek | 61 × 49,8 cm | Philadelphia | Barnes-stigting |
1948 | Pruimbloeisels | Olie op doek | 115,9 × 88,9 cm | Honolulu | Honolulu Museum of Art | |
1952 | Smart van die koning[dooie skakel] | La tristesse du roi | Gouache | 292 × 383cm | Parys | Musée National d'Art Moderne Parys |
1952 | Blou naak II[dooie skakel] | Nu bleu II | Gouache découpée | 116,2 × 88,9 cm | Parys | Musée National d'Art Moderne Parys |
1953 | Die slak | L'Escargot | Gouache op papier | 286,4 × 287 cm | Londen | Tate |
{{cite journal}}
: Cite journal requires |journal=
(hulp)
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
Natural enough, since he was surrounded by priests and nuns during his later illnesses and while working on the Venice Chapel, even though he remained a convinced atheist.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Henri Matisse. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |