In biologie is 'n hermafrodiet is 'n dier of plant wat tweeslagtig is en oor beide manlike en vroulike geslagsorgane beskik (of kan beskik).[1] Daar word onderskei tussen gelyktydige en afwisselende hermafrodiete. Gelyktydige hermafrodiete het op dieselfde tydstip beide geslagte, terwyl afwisselende hermafrodiete eenslagtig is, maar van geslag kan verander.
In die planteryk is hermafroditisme die reël eerder as 'n uitsondering: 94% van alle plantsoorte is hermafrodities en slegs 6% van 'n totaal van 250 000 plantsoorte het aparte vroulike en manlike individue. Blomme het byvoorbeeld meeldrade (manlik) sowel as 'n stamper (vroulik).
In die diereryk geld presies die omgekeerde en aparte manlike en vroulike individue is die reël. Slegs 5% - 6% van die 1,2 miljoen diersoorte is hermafrodities. Dit kom neer op ongeveer 65 000 soorte.[2] Voorbeelde hiervan is slakke en die reënwurm.
Dié term word nie meer vir mense gebruik nie. Dit word as misleidend en stigmatiserend beskou.[3] Sulke mense word deesdae intersekse[4][5] genoem.