Die Herschel-ruimtesterrewag was ’n ruimtesterrewag wat deur die Europese Ruimteagentskap (ESA) gebou en beheer is. Dit was van 2009 tot 2013 aktief en was die grootste infrarooi-teleskoop wat nog gelanseer is;[1] dit het ’n enkele 3,5 m-spieël gehad,[1][2] asook instrumente wat sensitief was vir infrarooi en submillimeter-golfbande (55–672 µm). Nasa was ook ’n vennoot in die sending.[3]
Die sterrewag is in Mei 2009 in ’n wentelbaan gestuur en het die Tweede Lagrange-punt van die Son-Aarde-stelsel, sowat 1 500 000 km van die Aarde af, twee maande later bereik. Dit is genoem na William Herschel, die ontdekker van die infrarooispektrum en die planeet Uranus, en sy suster en samewerker, Caroline Herschel.[4]
Herschel kon die koudste en stowwerigste plekke in die ruimte sien.[5] Dit het deur stervormende wolke gesif om te ondersoek hoe moontlike lewegewende molekules soos water gevorm word.
Die teleskoop se lewensduur is bepaal deur die hoeveelheid koelmiddel vir sy instrumente; die instrumente sou nie meer reg gewerk het as die koelmiddel opraak nie. Met sy lansering is dié tydperk geraam op 3,5 jaar (tot aan die einde van 2012).[6] Dit het egter bly werk tot 29 April 2013 voor die koelmiddel opgeraak het.[7]