Die Himalaja (Sanskrit: हिमालय; Nepalees: हिमालय; Oerdoe: ہمالیہ; van Sanskrit hima ("sneeu") en ālaya ("woning"), letterlik "tuiste van die sneeu"[1]) is 'n bergreeks in Suid-Asië, wat die Indo-Ganges-plein van die Tibetaanse plato skei. Dit lê uitgestrek van Pakistan oor Indië, Nepal, Tibet (Volksrepubliek China) en Bhoetan.[2]
Die Himalajaberge is 2 400 km lank en tussen 150 en 280 km breed. Veertien van sy pieke rys tot 'n hoogte van meer as 8 000 m bo seevlak: Berg Everest, K2, Kangchenjunga, Lhotse, Makalu, Cho Oyu, Dhaulagiri, Manaslu, Nanga Parbat, Annapurna, Gasherbrum I, Broad Peak, Gasherbrum II en Shishapangma.[3] Berg Everest is die hoogste bergtop op aarde met 'n hoogte van 8 848 meter.
In werklikheid bestaan die bergreeks uit drie hoofreekse wat soos 'n magtige vesting oor Noord-Indië troon. Die bewoners van die streek noem die berge "die tuiste van die sneeu", want die meeste van die berge is hoër as 5 400 m en dus dwarsdeur die jaar met sneeu bedek. Meer as 100 van die pieke is hoër as 6 000 m, meer as 30 is hoër as 7 000 m en veertien is hoër as 8 000 m.
Drie van die wêreld se grootste riviere ontspring in die Himalaja: Brahmaputra, Ganges en Indus. Die massiewe Himalaja-bergreeks strek in 'n halfmaan oor 'n gebied van 3 250 km tussen die bolope van die Indus- en Brahmaputrariviere in Indië.
Die Himalaja het ontstaan deur die botsing van die Indiese subkontinent met die Eurasiese plat.[4] Die Himalaja-bergreeks vorm deel van die "Dak van die Wêreld", die reusagtige hooglandgebied wat die Karakoram- en Pamir-bergreekse insluit.