Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat.
Hindoestani (ہندوستانی, हिन्दुस्तानी, Hindūstānī, letterlik: "uit Hindoestan")[5][6] is die lingua franca van Noord-Indië en Pakistan; bekend onder sy letterkundige vorm as Hindi-Oerdoe (Devanagari: हिन्दी-उर्दू of हिंदी-उर्दू, Nastaliq: ہندی-اردو) en in die verlede is dit ook Hindui, Hindavi, en later Rekhta, Dehlavi, Hindi en Oerdoe genoem.[7][8] Dit is 'n Indo-Aries taal, wat veral op die Khariboli-dialek van Delhi en aangrensende gebiede in Noord-Indië gebaseer is,[9] maar ook 'n groot aantal leenwoorde aan Persies, Arabies, Sanskrit en Turks ontleen het.[10][11] Hindoestani is 'n plurisentriese taal met twee gestandaardiseerde registers: Hindi en Oerdoe.[12][13][9][14] 'n Derde vorm is Fidjiaanse Hindi, een van drie amptelike tale van Fidji.[15]
Die konsep van 'n Hindoestani-taal as 'n "verenigde taal" of "versmeltingstaal" is deur Mahatma Gandhi voorgestaan.[16] In die destydse Brits-Indië het Hindoestani as ampstaal gedien, maar met die Verdeling van Indië word meer en meer 'n verskil tussen Hindi en Oerdoe beklemtoon, veral uit politieke redes.
Die eerste bekende poësie van Hindoestani in die vorm van Oud-Hindi dateer uit 769 n.C.[17] Gedurende die Sultanaat van Delhi in Indië het Hindoe- en Islamitiese kulture in kontak gekom, waarvolgens die Prakrit-basis van Oud-Hindi met leenwoorde uit Persies verryk is, wat gelei het tot die huidige vorm van Hindoestani.[18][19][20][21][22][23] Die Hindoestani-taal het tydens die Indiese Onafhanklikheidsbeweging 'n uitdrukking van die Indiese nasionale eenheid geword,[24][25] en word steeds deur die bevolking van die Noord-Indiese subkontinent as die algemene taal gebesig,[26] wat deur die Hindoestani-woordeskat in beide Bollywood-rolprente en liedjies weerspieël word.[27][28]
Die kernwoordeskat van die taal is afkomstig uit Prakrit ('n nasaat van Sanskrit),[29][17][30][31] met 'n aansienlike leenwoorde van Persies en Arabies (via Persies).[32][33][17][34] Die aantal sprekers kan net geskat word. Volgens Ethnologue se 2019-skatting sal Hindi en Oerdoe, as hulle onder Hindoestani saamgevat word, met 785 miljoen moedertaal- en tweede taalsprekers die derde mees gesproke taal wêreldwyd wees, ná Engels en Mandaryns,[35] alhoewel dit miljoene insluit wat hul moedertaal tydens die Indiese sensus as "Hindi" aangegee het, maar 'n ander Hindi-taal as Hindoestani besig.[36] Die totale aantal Hindi-Oerdoe-sprekers is in 1995 met meer as 300 miljoen aangegee, wat van Hindoestani die derde of vierde mees gebruikte taal wêreldwyd maak.[37][17]
↑(en) Matthews, David John; Shackle, C.; Husain, Shahanara (1985). Urdu literature. Urdu Markaz; Third World Foundation for Social and Economic Studies. ISBN978-0-907962-30-4.
↑(en) Dhulipala, Venkat (2000). The Politics of Secularism: Medieval Indian Historiography and the Sufis. University of Wisconsin–Madison. p. 27.
↑(en) Indian Journal of Social Work, Volume 4. Tata Institute of Social Sciences. 1943. p. 264.
↑(en) Mody, Sujata Sudhakar (2008). Literature, Language, and Nation Formation: The Story of a Modern Hindi Journal 1900–1920. University of California, Berkeley. p. 7.
↑(en) Kesavan, B. S. (1997). History Of Printing And Publishing In India. National Book Trust, India. p. 31. ISBN978-81-237-2120-0.
↑(en) Hans Henrich Hock (1991). Principles of Historical Linguistics. Walter de Gruyter. p. 475. ISBN978-3-11-012962-5.