Die Holodomor (Oekraïens: Голодомор, Holodomor, [ɦolodoˈmɔr], letterlik: "om deur honger dood te maak") was 'n hongersnood wat in die Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek in die jare 1932–1933 as gevolg van 'n politieke besluit van die destydse Stalin-bewind gewoed het. Dit bly een van die grootste nasionale rampe in Oekraïne in die moderne geskiedenis wat betrekkinge met die Russiese Federasie steeds vertroebel; daar word beraam dat die aantal sterftes tussen 2,5 en 7,5 miljoen siele beloop[1] – 'n kwart van die totale landelike bevolking.[2] Dit staan ook bekend as die Terreurhongersnood en Hongersnoodvolksmoord in Oekraïne,[3][4][5] en word soms die Groot hongersnood[6] of die Oekraïense volksmoord van 1932–33[7] genoem.
Die hongersnood is grotendeels veroorsaak deur die beleid van die Sowjetunie onder Stalin, wat met geweld die kollektivisering (gedwonge beslaglegging van private eiendom van kleinboere tot voordeel van gemeenskapsplase) en de-"Koelakisasie" (deportasie van welgestelde kleinboere/koelakke) van die landbou deurgevoer het. Die plase moes saamgevoeg word in kolchosse (gemeenskapsplase) en sowchosse (staatsboerderye), waardeur arbeidskrag beskikbaar gestel sou word tot voordeel van industrialisasie. Stalin se vyfjaarplan uit 1928 moes gefinansier word uit uitvoere. Die belangrikste deel van die uitvoere het uit graan bestaan.[8]
Dit het uitgeloop op verbete verset deur die boere, en veral dié in Oekraïne – met hul tradisie van vryheid. Hulle het verkies om eerder hul graan te verbrand en hul vee te slag as om dit aan die staatsboerdery te lewer.[9] As straf is die vereiste graankwotas verhoog, alhoewel die oes in 1932 misluk het. Miljoene boere, deur die Kommuniste koelakke genoem, word gedeporteer na Siberië.
Die gebeurtenis is grotendeels deur die Sowjetregime verdoesel, alhoewel inligting oor die massiewe hongersnood reeds in 1933–1934 in die Weste rugbaar geword het vanweë die werk van die joernaliste Gareth Jones en Malcolm Muggeridge, asook danksy foto's wat deur die Oostenrykse chemikus Aleksander Wienerberger geneem is. Die Sowjetunie het gevolglik 'n teenpropagandaveldtog van stapel gestuur waarin vooraanstaande persoonlikhede soos Bernard Shaw, Edouard Herriot, Walter Duranty, ensovoorts die hongersnood ontken het.
Alhoewel die hongersnood in Oekraïne slegs 'n onderdeel van 'n groter ramp was, het dit ook in enkele ander dele van die Sowjetunie geheers, en daarom word die term Holodomor spesifiek gebruik vir die gebeurtenisse in gebiede waar etniese Oekraïners gewoon het. Die Holodomor word daarom ook gevolglik die "Oekraïense volksmoord" of die "Oekraïense holocaust" genoem. Dié term impliseer dat die Holodomor 'n doelbewuste set van die regering van die Sowjetunie was om veral die Oekraïners te straf, en so die Oekraïense volk as politieke faktor en sosiale entiteit te vernietig. Boonop is baie dorpe leeg gelaat as gevolg van die hongersnood, en is dit later deur kleinboere uit Russiese streke bevolk wat derhalwe die etniese samestelling van Oekraïne beïnvloed het. Daarom het die begrip 'n rol gespeel in die politieke stryd om die onafhanklikheid van die Oekraïne ná die Oranjerevolusie. Die pro-Westerse president Wiktor Joesjtsjenko het die kwessie van die 'Holodomor' in 2006 in die parlement geopper nadat hy noodgedwonge sy pro-Russiese teenstander Wiktor Janoekowitsj tot premier moes benoem. Op 28 November 2006 het die Oekraïense parlement die Holodomor amptelik tot "volksmoord" verklaar. Die vierde Saterdag in November is 'n amptelike herdenkingsdag ter herinnering van die slagoffers van die Holodomor in Oekraïne.
In Sowjet-Russiese en moderne kommunistiese publikasies word daarop gewys dat die destydse gebeure in 1933/34 deur die nasionsaal-sosialistiese Hitler-bewind propagandisties uitgebuit is. Anti-Sowjet-propaganda in hierdie verband is na bewering ook deur die Amerikaanse Hearst-media versprei. Terwyl die omvang van die hongersnood nie ontken word nie, word daarop gewys dat moontlik ook ander faktore bygedra tot massasterftes in Oekraïne ('n standpunt wat deur die huidige Russiese regering gedeel word en tot politieke geskille tussen Moskou en Kijif gelei het wat steeds nie besleg kon word nie[10]):
Die term Holodomor is afgelei van die Oekraïense uitdrukking moriti holodom (Морити голодом), wat rofweg as "dood veroorsaak deur honger" vertaal kan word. Dit stam af van die Oekraïense woorde holod, "honger", en moriti, "iemand tot uitputting dryf". In moderne Oekraïense woordeboeke word Holodomor omskryf as '"kunsmatig veroorsaakte hongersnood, wat op groot skaal deur staatsweë georganiseer word". Soms word die begrip ook vertaal as "moord deur honger".
As gevolg van die groot aantal sterftes in 1933 van veral Oekraïners, het die aandeel wat Russiese inwoners in Oekraïne se bevolkingsgetalle uitmaak bykans verdubbel (van 5,6% tot 9,2%).
Hoewel historici dit nog nie altyd eens is wat betref die vraag of die beleidsmaatreëls gelei het tot die Holodomor nie, val dit wel onder die amptelike definisie van volksmoord. 'n Groot aantal regerings en organisasies erken die Holodomor as sodanig, en wel as 'n kriminele optrede van die Stalinregime:
Die Verenigde State beskou die Holodomor as 'n spesiale geval.[12]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Holodomor. |