Hrant Dink | |
---|---|
Gebore | Malatya, Turkye | 15 September 1954
Sterf | 19 Januarie 2007 (op 52) |
Nasionaliteit | Turkye |
Alma mater | Universiteit van Istanboel |
Beroep | Koerantredakteur, rubriekskrywer en joernalis |
Bekend vir | Stigter en hoofredakteur van Agos |
Eggenoot | Rakel Yagbasan (1976–2007; sy dood) |
Kinders | Delal, Arat, Sera |
Geloof | Armeens-Apostoliese Kerk |
Hrant Dink (Armeens: Հրանդ Տինք; 15 September 1954 – 19 Januarie 2007) was ’n Turks-Armeense redakteur, joernalis en rubriekskrywer.[1] As hoofredakteur van die tweetalige Turks-Armeense koerant Agos (Ակօս) was hy ’n vooraanstaande lid van die Armeense minderheid in Turkye.
Dink was veral bekend as voorstander van Turks-Armeense versoening asook mense- en minderheidsregte in Turkye; hy was dikwels krities teenoor beide Turkye se ontkenning van die Armeense volksmoord van 1915 en van die Armeense diaspora se veldtog om dit internasionaal erken te kry. Hy is drie keer onder Artikel 301 vervolg vir die "afkraking van Turkswees" en het verskeie doodsdreigemente ontvang van Turkse nasionaliste.[2]
Dink is in Januraie 2007 in Istanboel vermoor deur Ogün Samast, ’n 17-jarige Turkse nasionalis. Dit het gebeur kort ná die première van die volksmoord-dokumentêr Screamers, waarin ’n onderhoud met hom gevoer word oor die Turkse ontkenning van die Armeense volksmoord en die saak teen hom onder Artikel 301. Hoewel Samast in hegtenis geneem is, het foto's van hom sedertdien verskyn waarop glimlaggende Turkse polisiemanne saam met hom voor ’n Turkse vlag poseer. Die foto's het ’n skandaal in Turkye veroorsaak en ’n ondersoek is van stapel gestuur om die betrokke polisiemanne te ontslaan.[3][4]
By sy begrafnis het tweehonderdduisend roubeklaers uit protes gemarsjeer terwyl hulle sing "Ons is almal Armeniërs" en "Ons is almal Hrant Dink". Kritiek op Artikel 301 het toegeneem ná sy dood en dit het gelei tot ’n voorstel in die parlement om dit te herroep. Die akademiese jaar 2007–2008 aan die Kollege van Europa is na hom genoem. Tydens die Turkse betogings van 2013 in Istanboel en ander stede oor die outoritêre regering van eerste minister Recep Tayyip Erdoğan is ’n simboliese straat in Taksim Gezi-park na hom genoem.