Huperion in min of meer natuurlike kleure, soos deur Cassini afgeneem. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur |
|
Datum | 16 September 1848 |
Alternatiewe name | Saturnus VII |
Wentelbaaneienskappe | |
Halwe lengteas | 1 481 009 km |
Wentelperiode | 21,276 d |
Baanhelling | 0,43°[1][2] |
Satelliet van | Saturnus |
Fisiese eienskappe |
|
Afmetings | 360,2 x 266 x 205,4 km[3] |
Massa | 5,6199±0,05×1018 kg[3] |
Gem. digtheid | 0,544±0,050 g/cm3[3] |
Oppervlak- aantrekkingskrag | 0,017-0,021 m/s2 na gelang van ligging[3] |
Ontsnapping- snelheid | 45-99 m/s na gelang van ligging[4] |
Rotasieperiode | Chaoties |
Ashelling | Wisselend |
Temperatuur | 93 K[5] |
Skynmagnitude | 14,1[6] |
Huperion (Grieks: Ὑπερίων), ook bekend as Saturnus VII, is ’n maan van Saturnus wat in 1848 ontdek is. Dit het ’n kenmerkend onreëlmatige vorm, chaotiese rotasie en ’n onverklaarbare, sponsagtige voorkoms. Dit was die eerste maan wat ontdek is wat nie rond is nie. Die maan is deur William Bond, George Bond en William Lassell ontdek.
Die maan is genoem na Huperion, die Titaniese god van waaksaamheid en waarneming – in die Griekse mitologie die ouer broer van Kronos, die Griekse ekwivalent van Saturnus.
Huperion is ontdek kort nadat John Herschel name voorgestel het vir die sewe voorheen ontdekte mane van Saturnus in sy 1847-publikasie Results of Astronomical Observations made at the Cape of Good Hope.[7] William Lassell, wat Huperion twee dae ná William Bond gesien het, het reeds Herschel se name onderskryf en het die naam Huperion voorgestel om daarby aan te pas.[8] Hy het sy bevindings ook voor Bond gepubliseer.[9]
Huperion is een van die grootste liggame bekend in die Sonnestelsel wat ’n onreëlmatige vorm het en dus nie in hidrostatiese ewewig is nie. Die enigste maan wat groter en onreëlmatig is, is Neptunus se maan Proteus. Die grootste krater op Huperion is sowat 121,57 km in deursnee en 10,2 km diep. ’n Moontlike verklaring vir die maan se onreëlmatige vorm is dat dit deel van ’n groter liggaam was wat lank gelede deur ’n groot botsing opgebreek is.[10] ’n Proto-Huperion kon ’n deursnee van 350-1 000 km gehad het.[11] Oor sowat 1 000 jaar kon uitwerpsels van ’n hipotetiese Huperion-botsing die maan Titaan teen lae snelhede getref en vlugtige stowwe in Titaan se atmosfeer laat opbou het.[11]
Soos die meeste van die mane van Saturnus dui Huperion se lae digtheid daarop dat dit grootliks uit waterys bestaan, met klein hoeveelhede rots. Anders as die meeste van Saturnus se ander mane het Huperion ’n lae albedo (0,2-0,3), wat kan beteken dit word deur minstens ’n dun laag donker materiaal omhul. Dit kan materiaal wees van Foibe (wat baie donkerder is) wat verby Iapetus getrek het. Huperion is rooier as Foibe en het baie dieselfde kleur as die donker materiaal op Iapetus.
Voyager 2 is deur die Saturnusstelsel, maar het Huperion net van ’n afstand af afgeneem. Dit het individuele kraters gewys asook ’n enorme rif, maar nie die tekstuur van die maan se oppervlak nie. Vroeë foto's deur Cassini het op ’n vreemde voorkoms gedui, maar dit was eers met Cassini se verbyvlug van Huperion op 25 September 2005 dat gesien kon word hoe vreemd Huperion werklik daar uitsien.
Sy oppervlak is bedek met diep kraters met diep rande en dit gee die maan die voorkoms van ’n reusespons. Die onderkant van elke krater is vol donker materiaal. Die rooierige stof bevat lang kettings van koolstof en waterstof en lyk baie soos materiaal wat op ander mane van Saturnus aangetref word, veral Iapetus. Wetenskaplikes skryf Huperion se sponsagtige voorkoms daaraan toe dat dit ’n ongewoon lae digtheid vir so ’n groot voorwerp het. Dit maak die maan baie poreus, met ’n lae oppervlakswaartekrag. Dié eienskappe lei daartoe dat voorwerpe wat daarteen bots die oppervlak saampers pleks van uithol.[12]
Voyager 2 se foto's en grondgebaseerde fotometrie dui daarop dat Huperion se rotasie chaoties is – dit beteken sy rotasieas skommel so dat sy oriëntasie in die ruimte onvoorspelbaar is.[13] [14] Dit is die enigste reëlmatige maan in die Sonnestelsel wat sover bekend nie ’n sinchroniese rotasie het nie.
Dit het ’n redelik eksentrieke wentelbaan en is naby ’n veel groter maan, Titaan. Dit en sy onreëlmatige vorm beperk saam die toestande waaronder ’n stabiele rotasie moontlik is. Die 3:4-baanresonansie tussen Titaan en Huperion maak dalk ook ’n chaotiese rotasie meer waarskynlik.
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)
{{cite journal}}
: Onbekende parameter |displayauthors=
geïgnoreer (hulp)
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)