Hyoscyamus niger | |
---|---|
![]() | |
Hyoscyamus niger in Köhler's Medicinal Plants, 1887. | |
Wetenskaplike klassifikasie ![]() | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eudicots |
Klade: | Asterids |
Orde: | Solanales |
Familie: | Solanaceae |
Genus: | Hyoscyamus |
Spesie: | H. niger
|
Binomiale naam | |
Hyoscyamus niger |
Hyoscyamus niger (ook bekend as bilsekruid of dolkruid)[1] is 'n plant in die familie Solanaceae wat in groot hoeveelhede giftig is.[2][3] Dit is inheems aan die gematigde streke van Europa en Siberië en genaturaliseer in Brittanje en Ierland.[4]
Die naam "bilsekruid" kom waarskynlik van die Proto-Germaanse woord bil, wat beteken "sig, hallusinasie, magiese krag" en "bonatuurlike krag".[5]
Die plant is histories saam met ander plante soos alruin, belladonna en datura gebruik as narkose en ook vir sy bedwelmende eienskappe in "toordrankies".[2][3][6][7][8] Dié bedwelmende eienskappe sluit in visuele hallusinasies en 'n sensasie van vlug.[9] Dit is oorspronklik gebruik op die vasteland van Europa en in Asië en die Arabiese wêreld,[10] maar het in die Middeleeue na Engeland versprei.
Die gebruik van bilsekruid deur die antieke Grieke is aangeteken deur Plinius die ouere en Dioscorides.[11] Die plant, wat Herba Apollinaris genoem is, is ook gebruik vir orakels deur die priesteresse van Apollo.[3]
Die plant is ook blykbaar as 'n berokingsmiddel gebruik vir magiese doeleindes.[8] Albertus Magnus sê in sy werk De Vegetalibus (1250) dat geestesbesweerders bilsekruid gebruik het om demone en die siele van afgestorwenes op te roep.[12] In die Middeleeue is bilsekruid verbind met heksery en towerspel.[12] Tydens 'n hekseryverhoor in 1538 in Pommere het 'n vermeende heks "erken" dat sy bilsekruidsaad aan 'n man gegee het sodat hy "mal" (seksueel opgewek) sou rondhardloop.[12]
Bilsekruid is gebruik as 'n bestanddeel van gruit, wat tradisioneel in bier gebruik is as 'n smaakmiddel. Verskeie stede, soos Pilsen, is daarom na die kruid genoem.[13] Bilsekruid is in die 11de tot 16de eeu met hops vervang in bier.[14]