Ihram, ihraam of igraam[1] (Arabies: إحرام iḥrām) is in Islam ’n gewyde staat of toestand waarin Moslems gaan om die bedevaarte hadj en oemra te onderneem. Hulle moet reeds daarin wees wanneer hulle die pelgrimsgrens, die mikat, betree en moet die voorgeskrewe klere dra.
’n Man in die ihram-staat moenie enige knope of gestikte klere dra nie. Sandale moet ook nie gestik wees nie, en die enkels en agterkant van die voete moet oop wees. Hy mag nie enige reukmiddels aan die lyf of klere dra nie.
Tydens ihram moet vroue se gesig onbedek wees. ’n Boerka of nikaab is verbode, maar ’n hijab en doepatta is verpligtend.[2] Daar is geen skeiding tussen die geslagte nie; anders as in moskees, bid mans en vroue saam (nie net in dieselfde gebiede nie, maar ook in dieselfde rye). Dit is om mense daaraan te herinner dat mans en vroue op die Oordeelsdag langs mekaar sal staan.[3]
Buiten dat pelgrims net so skoon (rein) moet wees as wanneer hulle bid, mag mans nie hul naels, hare of baard knip of enige reukmiddel dra nie. Laasgenoemde sluit gegeurde seep in. Hulle moet die ihram-drag dra: ’n wit, ongestikte kleed. Baie sal voor die tyd hul hare skeer omdat dit as higiënies beskou word, maar ander wag tot aan die einde van die hadj of oemra omdat dit ’n vereiste is om ihram te verlaat.
Geen seks, rokery of vloekery is toelaatbaar nie. Ander verbode handelinge sluit in die doodmaak van diere, ’n bakleiery en die aflê van ’n eed. Mans mag ook nie vir vroue kyk of onedele gedagtes hê nie. Vroue moet beskeie lyk en mag nie grimering of parfuum dra nie. Pelgrims moet vergeet van studies, besigheid en verhoudings, en op God fokus.