Ingvar | |
---|---|
Legendariese koning van Swede | |
Voorganger | Sölve |
Opvolger | Anund |
Koningshuis | Huis van Yngling |
Vader | Eystein |
Oorlede | Vroeë 7de eeu |
Kinders | Anund |
Ingvar (Sweeds: Ingvar of Yngvar Harra, Oudnoors: Yngvarr, Proto-Noors: *Ingu-Hariz; oorlede vroeë 7de eeu) was die seun van die legendariese Sweedse koning Eystein. Hy het die troon teruggewen vir die Huis van Yngling nadat die Swede teen die troonrower Sölve gerebelleer het.[1]
Snorri Sturluson vertel in sy Ynglinga saga koning Ingvar was 'n goeie vegter wat baie tyd bestee het om die kus van sy koninkryk te patrolleer en teen Deense en Estiese Wikinge (Víkingr frá Esthland) te veg. Ingvar het eindelik vrede met die Dene gesluit en kon hom toe op die Estiese Wikings toespits.
Hy het Estland begin plunder uit wraak. Een somer het hy by 'n plek met die naam Stein aangekom. Die Este, wat 'n groot leër gehad het, het Ingvar aangeval. Hulle was te sterk vir hom en het hom verslaan. Ingvar is gedood en die Sweedse magte het teruggetrek.
Hoewel Ingvar se verhaal halflegendaries is, is die ontdekking van twee begrafnisskepe by Salme in Saaremaa, Estland, bewys daarvan dat 'n soortgelyke historiese gebeurtenis in die 8ste eeu plaasgevind het.
In 2008–2010 is twee skepe ontdek wat naby Salme begrawe is. Die oorblyfsels van minstens 42 individue is in die skepe gevind.[2] Die grootste deel was dié van mans van 30 tot 40 jaar wat in gevegte dood is.[3][4] Ontleding van die tande en die ontwerpe van artefakte wat saam met die skepe begrawe is, dui daarop dat hulle van Sentraal-Swede afkomstig is.[5] Volgens DNS-ontledings was vier van die mans broers en familie van 'n vyfde man, wat dalk 'n oom was.[6]
Die skepe is na raming in 650-700 n.C. in Skandinawië gebou. Hulle het nie seile of maste gehad nie en sou geroei gewees het vir kort afstande aan die Oosseekus, tussen eilande[7] of reguit oor die Oossee. Die grootste skip kan die oudste Wikingboot wees wat nog ontdek is, en dit sal die begin van die Wikingtydperk herdefinieer.
Soortgelyke swaardhewwe is in die Mälarstreek in Swede ontdek; osteologiese navorsing dui ook op Mälar en verskeie mans het volgens ontledings uit dié streek gekom.[8]
Volgens een scenario het 'n Skandinawiese leër Este van die eiland Saaremaa in bote aangeval. Die kante van die twee bote was vol spiespunte, sommige met drie punte soos wat gebruik is om bote aan die brand te steek. Nadat hulle te veel roeiers aan die dood afgestaan het, het die aanvallers omgedraai en teruggevaar. Ná die geveg het die Este blykbaar die aanvallers of iemand anders toegelaat om die gesneuweldes te begrawe. Die begrafnis is ongewoon, omdat die skepe nie met grondhope bedek is nie. Mense het eindelik van die terrein vergeet nadat sand dit toegewaai en plante dit toegegroei het.[9] Die hipotese oor die aanval het gelei tot vrae oor wanneer die Wikingtydperk begin het. Die Salme-voorval het plaasgevind 50 tot 100 jaar voor die eerste, berugte Wiking-aanval in 793 op Lindisfarne in Engeland.[10]
Die oorspronklike vertolking is bevraagteken nadat die groter skip in 2010 ontdek is. Die mense wat dit gebruik het, was moontlik van adellike afkoms, soos gesien kan word aan die baie duur bronsswaardhewwe en die algehele gebrek aan wapens van gewone mense. Die teenwoordigheid van honde en valke dui daarop dat die skip vir ontspanning of diplomatieke doeleindes gebruik kon gewees het[11] toe hulle aangeval is.
Voorganger ← Sölve |
Legendariese Sweedse koning | Opvolger Anund → |